Absalom se opstand
1'n Ruk later het Absalom vir hom 'n strydwa en perde aangeskaf, en ook vyftig man wat voor hom uit hardloop. 2Absalom het altyd vroeg opgestaan, en dan het hy langs die pad by die stadspoort gaan staan. As daar enigiemand was wat 'n geskil gehad het waarmee hy na die koning gekom het vir 'n beslissing, het Absalom na hom geroep en vir hom gevra: “Van watter dorp af kom jy?” Wanneer hy dan antwoord: “U dienaar kom uit een van die stamme van Israel,” 3sê Absalom vir hom: “Kyk, jou eise is goed en eenvoudig, maar iemand wat nie na jou luister nie, dit is wat jy by die koning gaan vind.” 4Absalom het ook gesê: “Was ek maar aangestel as regter in die land! Dan kon elkeen wat 'n geskil of regsaak het, na mý toe kom, en ek sou aan hom reg verskaf.” 5Wanneer iemand dan nader kom om diep voor hom te buig, steek hy sy hand uit, gryp hom vas en soen hom. 6Absalom het so opgetree teenoor al die Israeliete wat na die koning gekom het vir regspraak. Absalom het sodoende die harte van die manne van Israel gesteel.
7Ná verloop van vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag gaan en my gelofte wat ek vir die Here afgelê het, in Hebron nakom, 8want terwyl ek in Gesur in Aram gewoon het, het u dienaar 'n gelofte afgelê, met dié woorde, ‘As die Here my inderdaad na Jerusalem laat terugkeer, sal ek die Here gaan dien.’ ” 9Die koning het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Hy het toe gereedgemaak en na Hebron gegaan.
10Maar Absalom het geheime boodskappers in al die stamme van Israel rondgestuur met die opdrag: “Sodra julle die geluid van die •ramshoring hoor, moet julle sê, ‘Absalom het koning geword in Hebron!’ ” 11Saam met Absalom het tweehonderd man uit Jerusalem vertrek, genooides wat in onskuld saamgegaan en van die hele saak niks geweet het nie. 12Verder het Absalom, terwyl hy die offers bring, vir Agitofel, die man uit Gilo, 'n raadgewer van Dawid, uit sy tuisdorp Gilo ontbied. Die sameswering het sterk geword, en die mense by Absalom het al hoe meer geword.
Dawid op vlug
13Daar het 'n nuusdraer by Dawid aangekom en gesê: “Die harte van die manne van Israel is by Absalom.” 14Dawid sê toe vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Maak gereed en laat ons vlug, want 'n kans om voor Absalom weg te kom, sal daar nie vir ons wees nie. Haas julle om te vertrek, anders kom hy skielik op ons af, bring onheil oor ons en verslaan die stad met die skerpte van die swaard.” 15Die koning se amptenare het vir die koning gesê: “Hier is ons, u dienaars, om te voldoen aan alles wat my heer die koning begeer.”
16Die koning het uit die stad getrek, en sy hele huishouding het in sy spore gevolg; maar die koning het tien byvroue agtergelaat om die paleis op te pas. 17Toe die koning en al die mense wat in sy spore volg, daar uittrek, het hulle by die laaste huis gaan staan, 18terwyl al sy onderdane by hom verbygaan, al die Kreti en Pleti. Ook al die manne van Gat, die seshonderd man wat hom uit Gat gevolg het, het voor die koning verbygaan. 19Die koning sê toe vir Ittai, die man uit Gat: “Waarom gaan jy ook saam met my? Draai om en bly by die nuwe koning, want jy is 'n buitelander, en boonop 'n balling uit jou woonplek. 20Jy het maar pas hier aangekom; en sou ek jou vandag laat rondswerf omdat jy saam met ons gaan? Ek moet gaan waar ek kan. Draai om, en laat jou mense omdraai. Mag guns en trou met jou wees.”
21Maar Ittai het die koning geantwoord en gesê: “So waar as die Here leef en my heer die koning leef, op die plek waar my heer die koning is, of dit nou vir dood of vir lewe is, daar sal u dienaar beslis ook wees.” 22Toe sê Dawid vir Ittai: “Gaan voort, trek verby!” Ittai, die man uit Gat, het toe verbygetrek, asook al sy manne en al die afhanklikes wat by hom was.
23Die hele landstreek het heeltyd hardop gehuil terwyl al die mense verbygaan. Toe die koning deur die Kidrondal gaan, was al die mense ook besig om daar deur te trek op pad na die woestyn. 24Kyk, ook Sadok was daar, en al die Leviete saam met hom wat die verbondsark van God dra. Hulle het die ark van God neergesit, en Abjatar het offers gebring totdat al die mense die trek uit die stad voltooi het.
25Die koning sê toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad. As ek guns vind in die oë van die Here, sal Hy my laat terugkeer en my weer die ark en sy staanplek laat sien. 26Maar as Hy sou sê, ‘Ek is nie tevrede met jou nie,’ wel, ek is gereed; Hy kan met my doen wat goed is in sy oë.” 27Die koning het verder vir Sadok, die priester, gesê: “Sal jy op die uitkyk bly? Gaan in vrede terug na die stad, jy en jou seun Agimaäs, en Jonatan, seun van Abjatar – julle twee se seuns moet by julle wees. 28Wees op die uitkyk. Ek sal by die deurgaanplekke na die woestyn vertoef totdat daar van julle af berig kom om my op hoogte te bring.” 29Sadok en Abjatar het toe die ark van God teruggeneem na Jerusalem, en hulle het daar gebly.
30Terwyl Dawid teen die hang van die Olyfberg opgaan, het hy gehuil en sy kop bedek. Hy het kaalvoet geloop. Al die mense wat by hom was, elkeen van hulle, het ook hulle koppe bedek en het gehuil terwyl hulle teen die berg opgaan. 31Dawid is meegedeel: “Agitofel is onder die samesweerders by Absalom.” Daarop sê Dawid: “Laat Agitofel se raad tog dwaasheid wees, Here.”
32Toe Dawid by die kruin kom, waar mens voor God in aanbidding buig, kyk, daar kom Gusai, 'n man uit Ereg, hom tegemoet met sy kleed geskeur en grond op sy kop. 33Dawid sê toe vir hom: “As jy saam met my oorgaan, sal jy vir my 'n las wees; 34maar as jy na die stad terugkeer en vir Absalom sê, ‘Ek is u dienaar, o koning; ek was voorheen die dienaar van u vader, maar nou is ek u dienaar,’ kan jy vir my die raad van Agitofel ondergrawe. 35Is die priesters Sadok en Abjatar nie saam met jou daar nie? Elke berig wat jy kry uit die koninklike paleis, kan jy aan die priesters Sadok en Abjatar oordra. 36Kyk, daar by hulle is hulle twee seuns, Agimaäs van Sadok en Jonatan van Abjatar. Julle moet elke berig wat julle deur hulle kry, na my stuur.”
37Gusai, die vriend van Dawid, het toe by die stad aangekom, terwyl Absalom Jerusalem binnegaan.