Dawid en Batseba
1Teen die jaarwending, wanneer die konings op veldtogte uittrek, het Dawid vir Joab uitgestuur, en saam met hom sy amptenare en die hele Israel. Hulle het die Ammoniete vernietigend verslaan en Rabba beleër. Maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.
2Op 'n keer het Dawid teen laatmiddag van sy bed af opgestaan en op die dak van die koninklike paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af 'n vrou wat besig is om haar te was; die vrou was besonder mooi. 3Dawid stuur toe iemand om navraag te doen oor die vrou. Die man het gesê: “Is dit nie Batseba, die dogter van Eliam, die vrou van Urija, die Hetiet nie?” 4Dawid het boodskappers gestuur en haar laat haal. Sy het na hom gekom en hy het met haar gemeenskap gehad. Sy was juis besig om haar te reinig van haar onreinheid. Sy het toe teruggegaan na haar huis. 5Die vrou het swanger geword en iemand gestuur om Dawid daaroor in te lig. Sy het gesê: “Ek is swanger.”
6Daarop stuur Dawid 'n boodskap na Joab: “Stuur Urija, die Hetiet, na my.” Joab het Urija na Dawid gestuur. 7Toe Urija by hom kom, vra Dawid hoe dit gaan met Joab en met die manskappe en met die oorlog. 8Dawid sê toe vir Urija: “Gaan af na jou huis en was jou voete.” Toe Urija uit die paleis van die koning gaan, het 'n geskenk van die koning hom gevolg, 9maar Urija het by die ingang na die koninklike paleis, by al die dienaars van sy heer, gaan slaap. Hy het nie na sy huis afgegaan nie.
10Toe Dawid ingelig is, “Urija het nie na sy huis afgegaan nie”, het hy vir Urija gevra: “Het jy nie pas van 'n reis af hier aangekom nie? Waarom het jy nie na jou huis afgegaan nie?” 11Urija het Dawid geantwoord: “Die ark en Israel en Juda bly in tydelike skuilings, en my heer Joab en die dienaars van my heer kamp in die oop veld; kan ek dan na my huis gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? By u lewe, ja, so seker as wat u leef, sweer ek: So iets sal ek nie doen nie.” 12Daarop sê Dawid vir Urija: “Bly ook vandag nog hier, dan sal ek jou môre laat gaan.” Urija het toe daardie dag en ook die volgende dag in Jerusalem gebly. 13Dawid het hom uitgenooi, en hy het by hom geëet en gedrink. Dawid het hom dronk gemaak, maar teen die aand het hy uitgegaan om op sy lêplek by die dienaars van sy heer te gaan slaap. Na sy huis het hy nie afgegaan nie.
14In die oggend het Dawid vir Joab 'n brief geskryf en dit met Urija saamgestuur. 15Hy het in die brief geskryf: “Sit Urija in die voorste linie van die hewigste geveg. Val dan terug agter hom, sodat hy neergevel word en sterf.” 16Joab het, nadat hy die stad dopgehou het, Urija geplaas op die plek waar hy besef het daar bekwame verdedigers was. 17Toe die manne van die stad uittrek en teen Joab veg, het van die manskappe, van Dawid se dienaars, geval. Ook Urija, die Hetiet, het gesterf.
18Joab het iemand gestuur wat Dawid moes inlig oor die hele verloop van die oorlog. 19Hy het die boodskapper opdrag gegee: “Wanneer jy klaar die hele verloop van die oorlog aan die koning oorgedra het, 20en die woede van die koning dalk opvlam en hy vir jou sê, ‘Waarom het julle so na aan die stad gegaan om te veg? Het julle nie geweet dat hulle van die muur af sou skiet nie? 21Wie het Abimeleg, seun van Jerubbeset, neergevel? Was dit nie 'n vrou wat 'n boonste maalklip van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so na aan die muur gekom?’ dan moet jy net sê, ‘U dienaar, Urija, die Hetiet, is ook dood.’ ”
22Die boodskapper het gegaan, en toe hy daar aankom, het hy vir Dawid alles vertel waarvoor Joab hom gestuur het. 23Die boodskapper het vir Dawid gesê: “Omdat die manne die oorhand oor ons gekry het, het hulle na ons uitgekom in die veld. Ons het hulle egter teruggedryf tot by die ingang na die stadspoort. 24Toe het die boogskutters bo van die muur af op u dienaars geskiet, en van die koning se dienaars is dood. Ook u dienaar, Urija, die Hetiet, is dood.” 25Dawid het vir die boodskapper gesê: “Jy moet vir Joab so sê, ‘Hierdie voorval moet jy nie as iets verkeerds beskou nie. Die swaard verteer immers nou so, en dan weer so. Verskerp jou stryd teen die stad en breek dit af.’ Praat hom so moed in.”
26Toe die vrou van Urija hoor dat Urija, haar man, dood is, het sy oor haar eggenoot gerou. 27Nadat die routyd verby was, het Dawid haar laat haal en in sy paleis ontvang. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring.
Maar dit wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.