Verhaal van Heliodorus
1Toe die heilige stad in volkome vrede bewoon en die wette streng onderhou is, danksy Onias, die hoëpriester, se toegewydheid en sy afkeer van kwaad, 2het dit so gekom dat selfs konings die plek geëer en die •tempel met die duurste geskenke vereer het. 3Die gevolg was dat ook Seleukus, die koning van Asië, uit sy eie inkomste alle koste wat die offerdiens meegebring het, voorsien het.
4Maar 'n sekere Simon uit die stam van Benjamin, wat as hoofamptenaar van die tempel aangestel was, het 'n uitval gehad met die hoëpriester oor die regulasies van die stadsmark. 5Omdat hy nie die oorhand oor Onias kon kry nie, het hy na Apollonius van Tarsus gegaan, wat op daardie tydstip die goewerneur van Koile-Sirië en Fenisië was. 6Hy het vir hom vertel dat die skatkamer in Jerusalem só vol onmeetlike rykdom was dat die menigte skatte ontelbaar was, en nie tot die rekening van die offerandes behoort het nie, maar dat dit moontlik onder die gesag van die koning kon val. 7Toe Apollonius die koning ontmoet, het hy hom ingelig oor die geld waarvan hy vertel is. Die koning het toe vir Heliodorus, wat hy reeds vroeër oor sy sake aangestel het, met die opdrag gestuur om die reeds genoemde geld te verwyder. 8Heliodorus het onmiddellik op reis gegaan, onder die voorwendsel om die stede in Koile-Sirië en Fenisië te inspekteer, maar in werklikheid om die opdrag van die koning uit te voer.
9Nadat hy in Jerusalem aangekom het en gasvry deur die hoëpriester van die stad ontvang is, het hy vertel van die onthulling wat gemaak is en het hy verduidelik hoekom hy daar is. Hy het probeer uitvind of dit in der waarheid die geval was. 10Die hoëpriester het toe verduidelik dat dit geld is wat vir weduwees en weeskinders gedeponeer was, 11en dat 'n gedeelte aan Hirkanus, seun van Tobias, 'n man met 'n baie belangrike posisie, behoort en dat daar altesaam vierhonderd talent silwer en tweehonderd talent goud was. Só het die goddelose Simon gelieg. 12Die hoëpriester het gesê dat dit heeltemal onmoontlik is om diegene te benadeel wat hulle vertroue in die heiligheid van die plek asook in die waardigheid en onskendbaarheid van die tempel gestel het, wat wêreldwyd aansien geniet.
13Maar op grond van die koninklike bevele wat hy ontvang het, het Heliodorus gesê dat dit beslis vir die koninklike skatkis gekonfiskeer moes word. 14Nadat hy 'n dag daarvoor vasgestel het, het hy die tempel binnegegaan om toesig te hou oor die inspeksie van hierdie fondse, en die ontsteltenis in die hele stad was glad nie gering nie. 15Die priesters het hulle in hulle priesterdrag voor die brandofferaltaar neergewerp en die Hemel aangeroep, Hom wat die wette neergelê het om die gedeponeerde geld veilig te bewaar vir die beleggers. 16Dit was hartverskeurend om die voorkoms van die hoëpriester te sien, want sy gesig en die verandering in sy gelaatskleur het die benoudheid van sy siel verraai; 17want die man was oorweldig deur vrees en sy hele liggaam het gebewe, waardeur die pyn in sy hart vir almal wat hom gesien het, baie duidelik was. 18Massas mense het uit hulle huise gehardloop vir gesamentlike smeekgebed, omdat die plek spoedig met veragting behandel sou word. 19In die strate was daar 'n gewemel van vroue met rouklere onder die bors vasgemaak. Sommige jongmeisies, wat normaalweg binne gehou is, het saam gehardloop na die poorte en ander na die mure, terwyl nog ander by die vensters uitgeleun het. 20Almal het toe hulle hande na die hemel uitgestrek en 'n smeekgebed aangehef. 21Wat hartroerend was om te sien, was hoe die menigte deurmekaar neergeval het, asook die angstige afwagting van die hoogs ontstelde hoëpriester. 22Toe het hulle die almagtige Here aangeroep om wat aan sy sorg toevertrou is, veilig, vas en seker te bewaar vir dié wat dit aan Hom toevertrou het. 23Maar Heliodorus het voortgegaan om wat besluit is, uit te voer. 24Terwyl hy en sy lyfwagte by die skatkamer was, het die Heer van die geeste en van alle mag op daardie oomblik so 'n kragtige verskyning gemaak dat almal wat dit gewaag het om saam te gaan, verslae was oor die mag van God en flou van vrees geword het; 25want daar het 'n perd aan hulle verskyn wat met 'n pragtige tuig versier was, met 'n vreesaanjaende ruiter, en die perd het woes op Heliodorus afgestorm en hom met sy voorste hoewe aangeval. Die ruiter het verskyn met 'n goue wapenrusting aan. 26Twee ander jong manne, buitengewoon sterk, stralend mooi en pragtig geklee, het ook aan Heliodorus verskyn. Hulle het weerskante van hom gestaan en hom onophoudelik geslaan; hulle het baie houe op hom laat reën. 27Toe het hy skielik op die grond neergeval en in groot duisternis weggesink. Sy manne het hom opgetel en op 'n draagbaar geplaas. 28Hy, wat so pas met 'n groot gevolg en sy hele lyfwag die reeds genoemde skatkamer binnegekom het, is deur hulle gedra – nie in staat om homself te help nie; en hulle het die geweldige krag van God duidelik herken. 29Maar hy is as gevolg van 'n goddelike handeling neergewerp – stom en beroof van alle hoop en redding. 30Hulle, egter, het die Here geprys wat sy eie plek geëer het; en die tempel, wat kort tevore met vrees en oproer gevul was, is nou deur die verskyning van die Almagtige Here gevul met vreugde en blydskap. 31Maar gou het sommige van Heliodorus se vriende Onias gesmeek om die Allerhoogste aan te roep om die lewe terug te gee aan hom wat op die punt was om sy laaste asem uit te blaas. 32Omdat die hoëpriester vermoed het dat die koning die idee kon kry dat vuilspel van een of ander aard deur die Judeërs teen Heliodorus gepleeg is, het hy 'n offer vir die man se herstel gebring. 33Terwyl die hoëpriester die •reinigingsoffer gebring het, het dieselfde jong manne, geklee in dieselfde klere, weer aan Heliodorus verskyn en hulle het gaan staan en gesê: “U moet baie dankbaar wees teenoor Onias, die hoëpriester, want deur hom het die Here aan u die lewe teruggegee. 34En u wat vanuit die hemel geslaan is, moet aan almal die magtige krag van God bekend maak.” Nadat hulle dit gesê het, het hulle verdwyn.
35Heliodorus het toe 'n offer aan die Here gebring en baie groot beloftes gemaak teenoor die Een wat sy lewe gespaar het. Nadat hy vir Onias geprys het, het hy met sy leërmag na die koning teruggekeer 36en teenoor almal getuig van die dade van die allergrootste God wat hy met sy eie oë aanskou het. 37Toe die koning vir Heliodorus vra watter soort man geskik sou wees om nog 'n keer na Jerusalem te stuur, het hy gesê: 38“As u 'n vyand of 'n samesweerder teen die regering het, stuur hom daarheen, en u sal hom gegesel terugkry, as hy dit hoegenaamd sal oorleef; want rondom dié plek is waarlik die een of ander krag van God. 39Want Hy wat sy woonplek in die hemel het, bewaak en help daardie plek, en diegene wat dit nader om dit skade aan te doen, slaan en vernietig Hy.” 40So het die verhaal van Heliodorus en die bewaking van die skatkamer dan verloop.