Eerste brief: Oor tempelwyding
1“Aan die Joodse broers in Egipte,
van die Joodse broers in Jerusalem en dié in die land Judea:
Gegroet en ware vrede.
2“Mag God julle goed behandel
en mag Hy dink aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob, sy getroue diensknegte.
3“Mag Hy aan julle almal 'n hart gee om Hom te aanbid en om sy wil te doen met 'n grootmoedige hart en 'n gewillige siel.
4“Mag Hy julle hart open vir sy Wet en opdragte en mag Hy vrede skenk.
5“Mag Hy julle gebede verhoor en met julle versoen word,
en mag Hy julle nie in kwade tye verlaat nie.
6“Ons is nou hier en ons bid vir julle.
7“Terwyl Demetrius regeer het, in die honderd-nege-en-sestigste jaar, het ons, die Judeërs, vir julle geskryf op die hoogtepunt van die verdrukking wat ons in hierdie jare te beurt geval het sedert Jason en sy mense teen die heilige land en die koninkryk in opstand gekom en 8hulle die poort verbrand en onskuldige bloed vergiet het. Ons het die Here gesmeek en ons is verhoor. Ons het •brandoffers en •graanoffers gebring, die lampe aangesteek en die •vertoonbrode uitgesit. 9Daarom moet julle nou die dae van die Huttefees in die maand Kislef vier, in die honderd-agt-en-tagtigste jaar.”
Tweede brief: Oor die heilige vuur
“Aan Aristobulus, uit die geslag van die gesalfde priesters en die leermeester van koning Ptolemeus,
aan die Judeërs in Egipte:
10van die mense in Jerusalem, dié in Judea, die senaat en Judas:
“Gegroet en gesondheid.
11“Omdat ons deur God uit groot gevare gered is toe ons ons teen die koning verset het, dank ons Hom innig, 12want Hy het die mense wat in die heilige stad vyandig teenoor ons opgestel was, uitgedryf. 13Toe die veldheer met sy skynbaar onoorwinlike mag in Persië aangekom het, is hulle in die tempel van Nanaia in stukke gekap nadat die priesters van Nanaia hulle mislei het. 14Onder die voorwendsel om met haar te trou, het Antiogus met sy Vriende by die plek aangekom om soveel as moontlik van die skatte as bruidskat te bekom. 15Maar nadat die priesters van die tempel van Nanaia die skatte uitgestal het en Antiogus met 'n handjievol manne deur die ringmuur van die heiligdom na binne gegaan het, het hulle, toe Antiogus ingegaan het, die tempel toegesluit. 16Vervolgens het hulle die geheime deur van die plafon oopgemaak, die veldheer en sy volgelinge met klippe soos 'n weerligstraal neergevel, hulle onthoof en in stukke gekap, en die koppe vir die mense buite die tempel gegooi. 17Ons God is in alles lofwaardig, Hy wat die goddeloses uitgelewer het om gestraf te word.
18“Omdat ons van voorneme is om op die vyf-en-twintigste dag van Kislef die reiniging van die tempelterrein te herdenk, het ons dit as gepas beskou om julle daaroor in te lig, sodat ook julle die Huttefees en die Fees van Vuur mag vier. Nehemia het destyds die offers gebring nadat hy die tempelterrein en die brandofferaltaar herbou het.
19“Want toe ons vaders na Persië weggevoer is, het godvresende priesters destyds in die geheim van die vuur van die brandofferaltaar geneem en dit weggesteek in die holte van 'n waterlose put, en die plek só beveilig dat dit vir almal onbekend gebly het. 20Nadat baie jare verloop het, toe God dit goedgedink het, het Nehemia, deur die koning van Persië gestuur, die afstammelinge van die priesters wat die vuur weggesteek het, uitgestuur om die vuur te soek. Volgens wat aan ons meegedeel is, het hulle nie vuur gevind nie, maar slegs modderige water. Hy het hulle toe beveel om dit uit te skep en te bring. 21Toe die dinge gebring is wat vir die offerande bestem was, het Nehemia die priesters beveel om die hout en dit wat daarop lê, met die water te besprinkel.
22“Na hierdie gebeurtenis het daar 'n tyd verloop. Nadat dit 'n tyd lank bewolk was, het die son weer geskyn, en 'n groot vuur het ontvlam, sodat almal verbaas was. 23Die priesters het gebid terwyl die offerande verteer word, die priesters en al die mense, met Jonatan wat begin en die ander wat antwoord, ook Nehemia. 24Hierdie gebed was soos volg:
“ ‘Here, Here, o God,
Skepper van alle dinge,
ontsagwekkend en sterk
en regverdig en barmhartig.
U alleen is Koning en goed;
25U alleen is voorsiener;
U alleen is regverdig en almagtig
en ewig,
U wat Israel gered het uit alle kwaad,
wat die vaders uitverkies
en hulle geheilig het.
26“ ‘Aanvaar die offer
ter wille van u hele volk Israel,
en bewaar en heilig u erfdeel.
27Bring ons uit verstrooiing bymekaar
en bevry dié wat slawe is
onder die heidennasies.
Kyk na die veragtes
en dié wat verfoei word,
en laat die heidennasies weet
dat U ons God is.
28Straf diegene swaar wat ons verdruk
en in hoogmoed dade van geweld
teen ons pleeg,
29en plant weer u volk
op u heilige plek,
soos Moses beloof het.’ ”
30“Toe het die priesters lofgesange gesing. 31Nadat die brandoffer uitgebrand was, het Nehemia beveel dat die oorblywende water op groterige klippe uitgegiet moet word. 32Toe dit gebeur, het 'n vlam ontbrand, maar dit is uitgedoof deur 'n lig wat vanaf die altaar daarteen geskyn het.
33“Toe hierdie gebeurtenis bekend geword het, is ook aan die koning van die Perse berig dat die water te voorskyn gekom het by die plek waar die weggevoerde priesters die vuur versteek het, die water waarmee Nehemia en sy mense die offer geheilig het. 34Nadat hy ondersoek ingestel het na die gebeurtenis, het die koning daardie plek omhein en 'n heiligdom daar gebou. 35Vir dié wat hy goedgesind was, het die koning 'n groot getal uitsonderlike geskenke geneem en aan hulle uitgedeel. 36Nehemia en sy mense het dit Neftar genoem, wat ‘reiniging’ beteken, maar dit word nou deur die meeste mense Neftai genoem.”