1Toe het Salomo gesê:
“Die Here het gesê dat Hy
in diepe duisternis vertoef;
2maar ek, ja ek, het 'n vorstelike
woning vir U gebou,
'n plek vir U om in te woon
in alle ewigheid.”
3Die koning het omgedraai en die hele geloofsgemeenskap van Israel geseën. Terwyl die hele geloofsgemeenskap van Israel daar staan, 4het hy gesê: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word, wat met sy mond met my vader Dawid gepraat het, en met sy hande die volgende woorde vervul het, 5‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipteland gelei het, het Ek onder al die stamme van Israel nie 'n stad gekies om 'n •tempel te bou, sodat my Naam daar sou wees nie, en Ek het niemand gekies om 'n leier oor my volk Israel te wees nie. 6Maar nou het Ek Jerusalem gekies, sodat my Naam daar sal wees, en Ek het Dawid gekies om oor my volk Israel te wees.’
7“My vader Dawid was van voorneme om 'n tempel te bou vir die Naam van die Here, die God van Israel. 8Maar die Here het vir my vader Dawid gesê, ‘Jy het jou voorgeneem om vir my Naam 'n tempel te bou. Dit was goed van jou dat jy jou dit voorgeneem het. 9Jy is egter nie die een wat die tempel sal bou nie, maar jou seun wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal die tempel vir my Naam bou.’ 10En die Here het sy woord wat Hy gespreek het, gestand gedoen, sodat ek in die plek van my vader Dawid opgestaan het en op die troon van Israel gaan sit het, soos die Here gesê het. Ek het die tempel vir die Naam van die Here, die God van Israel, gebou. 11Daar het ek die ark geplaas waarin die verbond van die Here is, die verbond wat Hy met die Israeliete gesluit het.”
12Toe het hy voor die altaar van die Here gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel, en sy hande uitgestrek. 13Ja, Salomo het 'n verhoog van brons gemaak en dit in die middel van die buitehof gesit. Dit was vyf el breed, vyf el lank en drie el hoog. Hy het daarop gaan staan en daar voor die hele geloofsgemeenskap van Israel op sy knieë neergesak, sy hande na die hemel uitgestrek, 14en gesê:
“Here, God van Israel,
daar is geen god soos U
in die hemel of op die aarde nie;
U wat die verbond en troue liefde
in stand hou vir u diensknegte
wat met hulle hele hart
voor U leef;
15U wat ter wille van u dienskneg,
my vader Dawid,
gehou het by wat U hom beloof het.
U het dit met u mond gesê
en met u hand volbring,
soos dit vandag is.
16Daarom, Here, God van Israel,
ter wille van u dienskneg,
my vader Dawid,
hou nou by wat U hom beloof het
toe U gesê het,
‘Daar sal vir jou nooit
iemand ontbreek
wat voor my aangesig
op die troon van Israel sit nie,
as jou seuns maar net ag slaan
op hulle optrede
deur binne my wet te leef
soos jy voor My geleef het.’
17Daarom, Here, God van Israel,
laat u belofte wat U gemaak het
aan u dienskneg, my vader Dawid,
tog waar word.
18“Maar kan God werklik
by mense op aarde woon?
Kyk, die hemelruim
en die hoogste hemele
kan U nie omvat nie –
hoeveel minder hierdie tempel
wat ek gebou het?
19“U moet aandag gee
aan die gebed van u dienskneg,
aan sy smeekbede, Here my God,
deur te luister na die klaagroep,
na die gebed wat u dienskneg
telkens voor U bid –
20dat u oë dag en nag oop sal wees
na hierdie tempel,
na die plek waarvan U gesê het
dat U u Naam daar sal vestig,
sodat U sal luister na die gebed
wat u dienskneg in die rigting
van hierdie plek rig.
21Luister dan na die smeekbede
van u dienskneg
en van u volk Israel wat hulle bid
in die rigting van hierdie plek.
U self moet dit hoor uit die plek
waar U woon, uit die hemel;
U moet dit hoor,
en U moet vergewe.
22“Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, 23moet U self uit die hemel hoor en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige te vergeld, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en deur die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien.
24“Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle terugkeer, u Naam prys en bid en voor U smeek in hierdie tempel, 25moet U self hoor uit die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel, en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle en aan hulle voorouers gegee het.
26“Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, 27moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het.
28“Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiekte uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane en kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – 29en wanneer daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel, wat elkeen sy teistering en pyn ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, 30moet U self hoor uit die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van mensekinders – 31sodat hulle vir U ontsag mag hê, deur u paaie te volg solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het.
32“En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit 'n ver land kom ter wille van u groot Naam, u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, 33moet U self hoor uit die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, en vir U ontsag mag hê soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het.
34“Wanneer u volk uittrek vir oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U gekies het, en van die tempel wat ek vir u Naam gebou het, 35moet U uit die hemel hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf.
36“Wanneer hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie – en U toornig is op hulle en hulle oorgee aan 'n vyand, en hulle ontvoerders hulle wegvoer na 'n land, ver of naby, 37en hulle tot inkeer kom in die land waarheen hulle weggevoer is, en hulle bekeer en by U om genade smeek in die land van hulle ballingskap met die woorde, ‘Ons het gesondig en afgedwaal, ons is skuldig,’ 38en hulle dan met hart en siel na U terugkeer in die land van hulle ballingskap, die land van dié wat hulle weggevoer het, en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorouers gegee het, die stad wat U gekies het, en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, 39moet U uit die hemel, die plek van u verblyf, hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf, en u volk wat teen U gesondig het, vergewe.
40“My God, laat nou u oë tog oop wees, en u ore aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek.
41“Staan nou op, Here God,
gaan na u rusplek,
U en u magtige ark.
U priesters, Here God,
laat hulle geklee wees in heil,
en u troue volgelinge,
laat hulle vreugde vind in die goeie.
42Here God, moet tog nie
u gesalfdes wegwys nie;
onthou tog die troue beloftes
aan Dawid, u dienskneg.”