Oorwinning oor Moabiete en Ammoniete
1'n Tyd daarna het die Moabiete en Ammoniete, en saam met hulle van die Meüniete, teen Josafat opgetrek om oorlog te voer. 2Mense het gekom en Josafat ingelig: “'n Groot menigte trek teen u op van anderkant die see, van Aram se kant af. Kyk, hulle is al by Gaseson-Tamar.” Gaseson-Tamar is En-Gedi. 3Josafat was bang, en hy was vasbeslote om die Here te raadpleeg. Hy het 'n vasdag uitgeroep oor die hele Juda. 4Juda het toe byeengekom om by die Here hulp te soek; ja, uit al die dorpe van Juda het hulle gekom om die Here te soek.
5Josafat het in die byeenkoms van Juda en Jerusalem, in die huis van die Here, voor die nuwe binneplein gestaan 6en gesê: “Here, God van ons voorouers, is U nie 'n God wat in die hemel is nie? U heers oor al die koninkryke van die nasies. In u hand is krag en mag, en niemand kan teen U standhou nie. 7Is dit nie U, ons God, wat die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf het en dit vir ewig aan die nageslag van u vriend Abraham gegee het nie? 8Hulle het daarin gaan woon en vir U daarin 'n heiligdom tot eer van u Naam gebou, en gesê, 9‘As daar onheil oor ons kom – die swaard, oordeel, pessiekte, hongersnood – sal ons voor hierdie huis, voor U gaan staan, omdat u Naam in hierdie huis is, en omdat ons in ons nood na U om hulp roep, sal U hoor en red.’ 10Maar nou, hier is die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge. U het Israel, toe hulle uit Egipteland op pad was, nie toegelaat om naby hulle te kom nie. Ja, Israel het van hulle af weggedraai en hulle nie vernietig nie. 11En kyk hoe vergoed hulle ons – hulle kom en verdryf ons uit u eiendom wat U aan ons as besitting gegee het. 12Ons God, sal U hulle dan nie oordeel nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, teen te staan nie. Ons self weet nie wat om te doen nie, maar op U is ons oë gerig.”
13Die hele Juda het voor die Here gestaan, selfs hulle kleuters, hulle vroue en kinders. 14Jagasiël, seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, 'n Leviet uit die nageslag van Asaf, oor hom het die Gees van die Here midde-in die byeenkoms gekom, 15en hy het gesê: “Luister mooi, die hele Juda, inwoners van Jerusalem en u, koning Josafat! So sê die Here vir julle, ‘Julle moenie bang wees of julle laat afskrik deur hierdie groot menigte nie, want dit is nie julle geveg nie, maar God s'n. 16Trek môre af, teen hulle uit. Kyk, hulle gaan met die opdraande van Hassis opkom, en julle sal hulle by die eindpunt van die dal voor die Jeruelwoestyn aantref. 17Julle hoef nie in hierdie geval te veg nie. Neem stelling in, Juda en Jerusalem, staan en aanskou dan die verlossing deur die Here wat met julle is! Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees.’ ”
18Toe kniel Josafat met sy gesig na die grond. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die Here neergeval om voor die Here in aanbidding te buig. 19Die Leviete uit die nageslag van Kehat en die nageslag van Korag het opgestaan om die Here, die God van Israel, met baie harde stemme te loof.
20Hulle het vroeg die oggend opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Terwyl hulle uittrek, het Josafat gaan staan en gesê:
“Luister na my,
Juda en inwoners van Jerusalem!
Vertrou op die Here julle God,
dan bly julle behoue;
vertrou op sy profete,
dan behaal julle sukses.”
21Nadat hy met die manskappe beraadslaag het, het hy sangers vir die Here aangestel wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die Here, want vir ewig duur sy troue liefde!”
22Die oomblik toe hulle met 'n jubelkreet 'n loflied begin sing, het die Here 'n hinderlaag beskik teen die Ammoniete, Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan. 23Die Ammoniete en Moabiete het teen die inwoners van die Seïrberge opgestaan om hulle aan volledige vernietiging oor te gee en uit te delg. Toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar help vernietig.
24En Juda, toe hulle by die uitkykpos in die woestyn kom en rondsoek na die menigte, kyk, toe lê daar net lyke op die grond, niemand het ontkom nie. 25Josafat en sy manskappe het gegaan om oorlogsbuit bymekaar te maak. Hulle kry toe groot hoeveelhede toerusting en klere, sowel as waardevolle artikels by hulle. Hulle het vir hulleself soveel gebuit dat hulle dit nie kon dra nie. Hulle was drie dae lank besig om oorlogsbuit bymekaar te maak, want daar was baie. 26Op die vierde dag het hulle in die Berakavallei byeengekom; ja, daar het hulle die Here geprys. Daarom word daardie plek Vallei van Lofprysing genoem; dit is vandag nog so.
27Al die manne van Juda en Jerusalem het, met Josafat aan die voorpunt, omgedraai om vol vreugde na Jerusalem terug te keer, omdat die Here hulle bly gemaak het oor hulle vyande. 28Hulle het Jerusalem binnegegaan met harpe, liere en trompette, op pad na die huis van die Here. 29Vrees vir God het al die koninkryke van die lande oorval toe hulle hoor dat die Here teen Israel se vyande geveg het.
30Josafat se koninkryk het rus gehad, want sy God het vir hom aan alle kante rus gegee. 31Josafat het oor Juda regeer. Hy was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Asuba, dogter van Silgi. 32Hy het die pad van sy vader Asa gevolg. Hy het nie daarvan afgewyk nie en gedoen wat reg is in die oë van die Here. 33Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Die volk het steeds nie hulle harte gerig op die God van hulle voorouers nie. 34Die verdere geskiedenis van Josafat, die vroeëre en latere geskiedenis, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van Jehu, seun van Ganani, wat opgeneem is in die boekrol van die konings van Israel.
35Later het Josafat, die koning van Juda, 'n ooreenkoms gesluit met Ahasia, die koning van Israel. Daardie man het goddeloos opgetree. 36Josafat het met hom 'n ooreenkoms gesluit vir die bou van skepe om na Tarsis te vaar. Hulle het die skepe in Es-jon-Geber gebou. 37Toe het Eliëser, seun van Dodawa, uit Maresa teen Josafat geprofeteer en gesê: “Omdat jy 'n ooreenkoms gesluit het met Ahasia, sal die Here jou onderneming laat misluk.” Die skepe het vergaan; hulle kon nie na Tarsis vaar nie.