Abia koning van Juda
1In die agttiende regeringsjaar van koning Jerobeam het Abia koning geword oor Juda. 2Hy het drie jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Migaja, dogter van Uriël, uit Gibea.
Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. 3Abia het die geveg begin met 'n leër van heldhaftige vegters – vierhonderdduisend uitgesoektes. Jerobeam het teenoor hom gevegslinies van agthonderdduisend opgestel, uitgesoekte manne, dapper krygers. 4Abia het toe op die berg Semarajim, wat in die heuwelland van Efraim is, gaan staan en gesê: “Luister na my, Jerobeam en die hele Israel. 5Is dit nie aan julle bekend dat die Here, die God van Israel, die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid, aan hom en sy nageslag, gegee het deur 'n verbond van sout nie? 6Maar Jerobeam, seun van Nebat, 'n amptenaar van Salomo, seun van Dawid, het opgestaan en teen sy heer in opstand gekom. 7Ongedissiplineerde manne, deugniete, het om hom byeengekom en kragte saamgesnoer teen Rehabeam, seun van Salomo. Rehabeam was jonk en onervare en kon hom nie teen hulle handhaaf nie. 8En nou dink julle dat julle julleself kan handhaaf teen die koningskap van die Here, wat in die hand van Dawid se nageslag is, terwyl julle so 'n groot menigte is en daar by julle goue kalwers is wat Jerobeam vir julle as gode gemaak het. 9Het julle nie die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, en die Leviete, uitgedryf en vir julleself priesters gemaak soos die volke van ander lande nie? Elkeen wat kom met 'n jong bul en sewe ramme om homself te wy, word 'n priester vir nie-gode! 10Maar óns, die Here is ons God en ons het Hom nie verlaat nie. Die priesters wat die Here dien, is die nageslag van Aäron, en die Leviete is in sy diens. 11Hulle verbrand elke oggend en elke aand •brandoffers en geurige reukwerk vir die Here. Brood is gerangskik op die rein tafel en die goue menora is daar en sy lampe moet elke aand brand. Ja, ons kom die verpligtinge teenoor die Here ons God na, maar julle het Hom verlaat. 12Kyk, by ons is God aan die hoof, en sy priesters met die trompette is gereed om die oorlogskreet teen julle aan te hef. Israeliete, moenie in 'n geveg teen die Here, die God van julle voorouers, betrokke raak nie, want julle sal nie slaag nie.”
13Maar Jerobeam het manne omgestuur om 'n hinderlaag aan hulle agterkant op te stel. Hulle was toe voor Juda, en die hinderlaag was agter Juda. 14Toe Juda omdraai – kyk, toe is die geveg voor en agter hulle! Hulle het na die Here om hulp geroep terwyl die priesters op die trompette blaas. 15Die manne van Juda het die oorlogskreet aangehef. Toe die manne van Juda die oorlogskreet aanhef, het God vir Jerobeam en die hele Israel voor Abia en Juda uit verslaan. 16Die Israeliete het voor Juda gevlug, en God het hulle in hulle hand gegee. 17Abia en sy manskappe het 'n groot slagting onder hulle aangerig – van Israel het daar vyfhonderdduisend uitgesoekte manskappe as gesneuweldes bly lê. 18Die Israeliete is by dié geleentheid verneder, en die Judeërs het die oorhand gehad, omdat hulle op die Here, die God van hulle voorouers, gesteun het. 19Abia het Jerobeam agternagesit en dorpe van hom afgeneem: Bet-El met sy omliggende dorpies, Jesana met sy omliggende dorpies en Efron met sy omliggende dorpies.
20Jerobeam het nie weer sy kragte herwin in die tyd van Abia nie. Die Here het hom getref en hy het gesterf. 21Abia het sy posisie egter verstewig.
Hy het vir hom veertien vroue geneem en het twee-en-twintig seuns en sestien dogters verwek. 22Die verdere geskiedenis van Abia, sy ondernemings en sy woorde, is opgeteken in die geskrif van Iddo, die profeet.