1 Timoteus 2
Voorskrifte aan die gemeente
1Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, 2vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons 'n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. 3Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.
5Want daar is een God,
en een Middelaar tussen God en die mense:
die mens •Christus Jesus,
6wat Homself as losprys vir almal gegee het,
tot getuienis op die bestemde tyd.
7Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.
8Ek verwag van die mans dat hulle op elke plek sal bid, met heilige hande omhoog, sonder woede en rusie. 9So ook moet die vroue hulleself versier met behoorlike kleredrag, beskeie en sober, nie met haarvlegsels en goud of pêrels of duur klere nie, 10maar – soos dit vroue pas wat bely dat hulle God aanbid – met goeie werke. 11'n Vrou moet haar stilweg laat onderrig, in volle gehoorsaamheid. 12Ek laat nie toe dat 'n vrou onderrig gee, of oor 'n man gesag uitoefen nie; sy moet haar stil gedra. 13Adam is immers eerste geskep, daarna Eva. 14En Adam is nie mislei nie, maar die vrou het haar laat mislei, en het 'n oortreder geword. 15Maar sy sal verlos word te midde van kindergeboorte, mits hulle volhou om gelowig, liefdevol, heilig en ingetoë te leef.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.