Dawid in die woestyn by En-Gedi
1Dawid het toe daarvandaan opgegaan en in die bergskuilings by En-Gedi gaan bly.
2Nadat Saul teruggekeer het vanwaar hy die Filistyne agtervolg het, is daar aan hom berig gebring: “Kyk, Dawid is in die woestyn by En-Gedi.” 3Saul het drieduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel geneem en gegaan om by Suree-Hajjeëlím na Dawid en sy manne te gaan soek.
4Op pad het hy by die veekrale aangekom, waar daar 'n grot was. Saul het daar ingegaan om sy voete te bedek. Dawid en sy manne het in die agterste deel van die grot gesit. 5Die manne van Dawid sê toe vir hom: “Kyk, dit is die dag waarvan die Here vir jou gesê het, ‘Kyk, Ek gaan jou vyande in jou hand gee.’ Maak dan met hom soos jy goeddink.”
Dawid het opgestaan en stilletjies 'n soom van Saul se mantel afgesny. 6Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy 'n soom van Saul se bokleed afgesny het. 7Hy het vir sy manne gesê: “Mag die Here my daarvan weerhou dat ek ooit so iets doen aan my heer, die gesalfde van die Here, deur my hand teen hom uit te steek. Hy is immers die gesalfde van die Here.” 8Met dié woorde het Dawid sy manne berispe en hulle nie toegelaat om teen Saul op te staan nie.
Saul het opgestaan, uit die grot gegaan en koers gekry. 9Daarna het Dawid opgestaan en uit die grot gegaan. Hy het agter Saul aan geroep: “My heer die koning!” Toe Saul omkyk, kniel Dawid met sy gesig na die grond en buig diep neer.
10Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? 11Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ 12En, my vader, kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem. 13Die Here sal oordeel tussen u en my, en die Here sal my op u wreek, maar my hand sal nie teen u wees nie. 14Soos die ou spreekwoord sê,
“ ‘Uit goddeloses
kom goddeloosheid voort.’
“My hand sal nie teen u wees nie.
15“Agter wie aan het die koning van Israel uitgetrek? Wie is u besig om te agtervolg? U is agter 'n dooie hond aan, agter een vlooi aan! 16Mag die Here regter wees; mag Hy oordeel tussen u en my; mag Hy kennis neem en my saak verdedig; mag Hy my reg handhaaf deur my uit u hand te red.”
17Toe Dawid hierdie woorde klaar vir Saul gesê het, het Saul gevra: “Is dit jou stem, my seun Dawid?” Saul het hardop begin huil 18en vir Dawid gesê: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. 19Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. 20As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom? Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. 21En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou. 22Lê dan nou vir my 'n eed af by die Here dat jy nie my nageslag ná my sal uitroei en my naam onder my familie sal uitdelg nie.”
23Dawid het toe vir Saul 'n eed afgelê, en Saul het na sy huis toe gegaan. Dawid en sy manne het egter na die bergskuiling opgegaan.