Oorwinning oor Gorgias
1Gorgias het vyfduisend manskappe en eenduisend uitgesoekte perderuiters geneem, en die leërafdeling het gedurende die nag vertrek, 2sodat hulle die leërafdeling van die Judeërs onverhoeds kon oorval en verslaan. Mans van die vesting het vir hulle as gidse opgetree. 3Judas het dit egter gehoor, en hy en sy manskappe het vertrek om die leërmag van die koning wat in Ammaous was, aan te val, 4terwyl die leërmagte nog weg van die kamp ontplooi was. 5Gorgias het gedurende die nag in Judas se kamp ingegaan, maar niemand gevind nie. Toe het hy hulle in die berge gaan soek, want hy het gesê: “Hierdie mense vlug van ons af weg!”
6Teen dagbreek het Judas met drieduisend manskappe in die laagte verskyn, maar hulle het nie beskik oor die harnasse en swaarde wat hulle nodig gehad het nie. 7Hulle het die goed ingerigte, verskanste kamp van die heidennasies gesien, terwyl perderuiters wat vir oorlog opgelei was, dit gepatrolleer het. 8Judas het vir die manskappe saam met hom gesê: “Moenie hulle groot getalle vrees of vir hulle aanslag bang wees nie. 9Julle moet onthou hoe ons vaders in die Rooi See gered is toe die farao hulle met sy leërmag agtervolg het. 10Laat ons nou na die Hemel roep of Hy ons goedgesind sal wees, en die verbond van ons vaders sal onthou en hierdie leërafdeling vandag voor ons verpletter. 11Dan sal al die heidennasies weet dat Hy die Verlosser en Redder van Israel is.” 12Toe die vreemdelinge opkyk, het hulle diegene saam met Judas van die ander kant af na hulle sien aankom. 13Hulle het uit die kamp gegaan vir die geveg. Diegene saam met Judas het op trompette geblaas 14en hulle aangeval. Die heidennasies is verpletter en het die vlakte in gevlug, 15maar dié wat agtergebly het, het almal deur die swaard gesneuwel. En Judas se leërmag het hulle tot by Gaseron en tot by die vlaktes van Idumea en Asdod en Jamnia agtervolg, en ongeveer drieduisend van Gorgias se manskappe het gesneuwel. 16Judas en sy leërmag het van die agtervolging af teruggekeer, 17en hy het vir die volk gesê: “Moenie die oorlogsbuit begeer nie, want daar lê 'n oorlog vir ons voor. 18Gorgias en sy leërmag is naby ons op die berg, maar staan nou vas teen ons vyande en veg teen hulle, en neem daarna met vrymoedigheid die oorlogsbuit.” 19Terwyl Judas nog besig was om te praat, is 'n groep verkenners wat uit die berg spioeneer, gewaar. 20Hulle het gesien dat Gorgias se leërafdeling op die vlug geslaan het, en dat die Judeërs besig was om die kamp te verbrand; want uit die rook wat hulle gesien het, was dit duidelik wat gebeur het. 21Toe hulle dit sien, het hulle vreesbevange geraak; en toe hulle boonop ook Judas se leërafdeling in die vlakte sien, gereed vir oorlog, 22het hulle almal na die land van die vreemdelinge gevlug. 23Judas het teruggegaan vir die oorlogsbuit in die kamp. Hulle het baie goud en silwer, donkerblou en turkoois kledingstowwe en 'n groot skat buitgemaak. 24Met hulle terugkeer het hulle aangehou om lofliedere en lofsange tot die Hemel te rig: “Want Hy is goed; want sy genade duur tot in ewigheid!” 25'n Groot verlossing het daardie dag vir Israel plaasgevind.
Nederlaag van Lisias
26Diegene van die vreemdelinge wat ongedeerd weggekom het, het alles wat gebeur het vir Lisias gaan vertel. 27Toe hy dit hoor, was hy verward en ontmoedig, want wat hy wou gehad het, en wat die koning hom beveel het, het nie met Israel gebeur nie. 28In die volgende jaar het hy sestigduisend uitgesoekte manskappe en vyfduisend perderuiters bymekaar laat kom om teen hulle oorlog te maak. 29Hulle het in Idumea ingegaan en in Bet-Sur kamp opgeslaan. Judas het hulle met tienduisend manskappe tegemoetgegaan. 30Hy het gesien dat die leërafdeling sterk is en gebid en gesê:
“Lofwaardig is U, Verlosser van Israel,
wat die aanslag van die magtige man
deur die hand van u kneg Dawid
verydel het,
en die leërafdeling van die vreemdelinge
in die hand van Jonatan, seun van Saul,
en sy wapendraer oorgelewer het.
31Omsluit hierdie leërafdeling vandag
só deur die hand van u volk Israel,
en laat hulle skaam kry
oor hulle leërmag en perderuiters.
32Maak hulle lafhartig,
laat hulle vertroue in hulle krag wegsmelt,
en laat hulle geruk word
deur hulle vernietiging.
33Slaan hulle plat met die swaard
van hulle wat U liefhet,
en laat almal wat u Naam ken,
U met lofgesange prys.”
34Hulle het mekaar aangeval, en ongeveer vyfduisend manskappe van Lisias se leërafdeling het gesneuwel; hulle het in man-tot-man-gevegte gesneuwel. 35Toe Lisias die verpletterende neerlaag van sy linie sien en hoe dapper Judas opgetree het, en hoe Judas se leërmag so toegeneem het in onverskrokkenheid dat hulle bereid was om te lewe of te sterwe, het hy na Antiogië teruggetrek en 'n groot aantal huursoldate gewerf om weer teen Juda op te ruk.
Inwyding van die heiligdom
36Judas en sy broers het gesê: “Kyk, ons vyande is verpletter. Kom ons gaan op om die heiligdom te reinig en in te wy.” 37Die hele leërafdeling het bymekaargekom en na die berg Sion opgegaan. 38Hulle het gesien dat die heiligdom verlate was, met die altaar ontheilig en die deure afgebrand, en dat die binnehowe digbegroei was met plante soos in 'n bos of op een van die berge, en ook dat die priesters se kwartiere afgebreek was. 39Hulle het hulle klere geskeur, baie gerou en as op hulleself gestrooi. 40Hulle het met hulle gesigte op die grond geval, as 'n teken op die trompette geblaas, en tot die Hemel uitgeroep. 41Toe het Judas die manskappe beveel om teen dié wat in die vesting is, te veg totdat hy die heiligdom gereinig het. 42Hy het priesters van onbesproke gedrag, toegewy aan die Wet, gekies. 43Hulle het die heiligdom gereinig en die verontreinigde klippe na 'n •onrein plek verwyder. 44Hulle het beraadslaag oor wat hulle moes doen met die ontheiligde brandofferaltaar. 45Die goeie idee het by hulle opgekom om dit af te breek, sodat dit nie vir hulle tot skande sou strek omdat die heidennasies dit verontreinig het nie. Hulle het die altaar afgebreek 46en die klippe op 'n geskikte plek op die tempelberg gebêre, totdat 'n profeet kon kom om daaroor uitspraak te lewer. 47Hulle het heel klippe geneem, soos die Wet vereis, en 'n nuwe altaar gebou, net soos die vorige een. 48Hulle het die heiligdom gebou en die binnekant van die •tempel en die binnehowe geheilig. 49Hulle het nuwe heilige bybehore gemaak en die lampstaander, die altaar vir die reukwerk en die tafel in die tempel ingedra. 50Hulle het reukoffers op die altaar gebring en die lampe op die lampstaander aangesteek, en dit het in die tempel geskyn. 51Hulle het brode op die tafel geplaas en die gordyne opgehang. En hulle het al die take wat hulle onderneem het, voltooi. 52Op die vyf-en-twintigste dag van die negende maand, dit is die maand Kislef, van die honderd-agt-en-veertigste jaar, het hulle vroeg die oggend opgestaan, 53en in ooreenstemming met die Wet 'n offerande geoffer op die nuwe brandofferaltaar wat hulle gebou het. 54Op dieselfde tydstip en dag waarop die heidennasies die altaar ontheilig het, is dit met liedere, siters, liere en simbale ingewy. 55Die hele volk het op hulle aangesig geval en die Hemel wat hulle voorspoedig gemaak het, aanbid en geprys. 56Hulle het agt dae lank die altaar ingewy. Hulle het met vreugde •brandoffers en offers van verlossing en lofprysing gebring. 57Hulle het die voorkant van die tempel met goue krone en skilde versier en die hekke en die kamers vir die priesters ingewy en ook van deure voorsien. 58Daar was baie groot blydskap onder die volk, en die bespotting deur die heidennasies is tot niet gemaak. 59Judas en sy broers en die hele volksvergadering van Israel het bepaal dat die dae van die inwyding van die altaar in hulle tyd elke jaar agt dae lank, vanaf die vyf-en-twintigste van die maand Kislef, met blydskap en vreugde gevier moet word.
60In daardie tyd het hulle hoë mure en sterk torings rondom die berg Sion gebou, sodat die heidennasies nie kon kom en dit vertrap soos hulle vantevore gemaak het nie. 61Hy het 'n leërmag daar ontplooi om dit te beskerm en Bet-Sur versterk om dit te beveilig, sodat die volk 'n vesting kon hê wat na Idumea front.