Judas Makkabeus se leierskap
1Sy seun Judas, wat Makkabeus genoem is, het in sy plek na vore getree. 2Al sy broers het hom gehelp, en ook almal wat by sy vader aangesluit het. Hulle het met blydskap die oorlog namens Israel voortgesit.
3En hy het sy volk se eer laat toeneem.
Soos 'n reus het hy sy borsplaat aangetrek;
hy het sy oorlogswapens aangegord;
hy het oorloë gevoer en sy kamp
met die swaard beskerm.
4En hy was soos 'n leeu in sy optrede,
soos 'n leeuwelpie wat brul vir sy prooi.
5En hy het die wetteloses
opgespoor en agternagesit;
dié wat moeilikheid vir sy volk
veroorsaak het,
het hy aan die brand gesteek.
6En die wetteloses het gebewe
uit vrees vir hom;
al die werkers van ongeregtigheid
is van stryk gebring,
en die verlossing deur sy hand
was geslaagd.
7En hy het baie konings
bitter kwaad gemaak,
maar Jakob het hy met sy werke
bly gemaak.
Sy nagedagtenis is vir ewig geseënd!
8En hy het Juda se stede deurkruis,
die goddeloses uit die gebied uitgeroei.
Hy het die woede van Israel afgewend.
9En sy naam het bekend geword
tot aan die einde van die aarde,
en dié wat besig was om te vergaan,
het hy bymekaargebring.
Val van Apollonius
10Apollonius het die heidennasies byeengebring en 'n groot leërmag uit Samaria versamel om teen Israel oorlog te maak. 11Toe Judas dit agterkom, het hy hom tegemoetgegaan. Hy het hom 'n hou toegedien en doodgemaak. Baie het verwond neergeval en gesneuwel, en die res het gevlug. 12Hulle het hulle oorlogsbuit afgeneem, en Judas het die swaard van Apollonius geneem, en daarmee het hy die res van sy lewe oorlog gemaak.
Val van Seron
13Seron, die bevelvoerder van die Siriese leërmag, het gehoor dat Judas 'n versameling mense versamel het, 'n groepering lojale mense om saam met hom uit te gaan om te veg. 14Hy het gesê: “Ek sal vir myself 'n naam maak en eer in die koninkryk verwerf, en ek sal oorlog maak teen Judas en diegene saam met hom wat die koning se bevel verag.” 15'n Sterk leërafdeling goddeloses het hulle by hom gevoeg en saam met hom opgetrek om hom te help om hom op die Israeliete te wreek. 16Hy het die hoogte van Bet-Goron genader, en Judas het hom met 'n klein groepie manne tegemoetgegaan.
17Toe hulle die leërafdeling sien wat hulle tegemoetkom, sê hulle vir Judas: “Hoe kan ons, wat so min is, oorlog maak teen so 'n sterk menigte? Boonop is ons swak, want ons het nie vandag geëet nie.” 18Maar Judas het gesê: “Dit is maklik om baie deur min hande in bedwang te hou. Voor die Hemel is daar nie 'n verskil om deur baie of deur min gered te word nie, 19want oorwinning in oorlog hang nie af van die grootte van 'n leërmag nie, maar van die krag wat uit die Hemel kom. 20Hulle trek met groot oormoed en wetteloosheid op teen ons om ons, ons vroue en ons kinders te vernietig en ons te plunder; 21maar ons, ons veg ter wille van ons lewens en ons voorskrifte. 22Hy, Hy sal hulle voor ons aangesig verpletter. Maar julle, julle moenie vir hulle bang wees nie.” 23Toe hy klaar gepraat het, het hy die vyand skielik aangeval. Seron en sy leërafdeling is voor sy oë verpletter. 24Hulle het hom teen die helling van Bet-Goron af tot op die vlakte agtervolg. Ongeveer agthonderd van Seron se manskappe het gesneuwel. Die res het na die land van die Filistyne gevlug.
Antiogus se voorbereidings vir oorlog
25Vrees het begin posvat vir Judas en sy broers, en angs het die heidennasies rondom hulle oorval. 26Sy reputasie het die ore van die koning bereik, en die heidennasies het oor Judas se veldslae gepraat. 27Toe koning Antiogus hierdie berigte hoor, was hy woedend en het hy 'n boodskap uitgestuur en al die leërmagte van sy koninkryk bymekaargemaak. Dit was 'n baie sterk leërafdeling. 28Hy het sy skatkamer oopgemaak, 'n jaar se soldy aan sy leërmagte oorhandig en hulle beveel om gereed te wees vir enige gebeurlikheid. 29Maar hy het gesien dat die geld in sy skatkis uitgeput en die belasting van die land min was, as gevolg van die onenigheid en die onheil wat hy in die land veroorsaak het deur die voorskrifte op te hef wat al van die begin af bestaan het. 30Hy was bang dat hy, soos wat een of twee keer gebeur het, nie genoeg sou hê vir al die uitgawes en die geskenke wat hy voorheen altyd mildelik uitgedeel het nie, want hy was vrygewiger as al die konings voor hom. 31Hy was baie onseker in sy siel en besluit toe om na Persië te gaan en die belasting van dié gebiede in te vorder en baie geld in te samel. 32Hy het Lisias, 'n man van hoë aansien en uit die koninklike geslag, in beheer gelaat van die koning se sake – vanaf die Eufraatrivier tot by die grense van Egipte – 33en hy moes ook sy seun, Antiogus, grootmaak totdat hy terugkom. 34Hy het die helfte van sy leërmagte en sy olifante aan Lisias oorhandig, en aan hom opdrag gegee oor alles wat hy gedoen wou hê, asook oor die inwoners van Juda en Jerusalem – 35om 'n leërmag uit te stuur teen hulle, om die krag van Israel en die oorblyfsel van Jerusalem uit te roei en te vernietig; om die plek te stroop van enige herinneringe aan hulle. 36Daarna moes hy in al hulle streke uitlanders laat woon, en hulle land onder hulle verdeel. 37Die koning het die helfte van die leërmagte wat oorgebly het, geneem en in die honderd-sewe-en-veertigste jaar vanaf Antiogië, die hoofstad van sy koninkryk, vertrek. Hy het die Eufraatrivier oorgesteek en deur die noordoostelike gebiede marsjeer.
Lisias se veldtog teen Juda
38Lisias het vir Ptolemeus, seun van Dorumenes, asook Nikanor en Gorgias, bevoegde mans uit die •Vriende van die Koning, uitgekies. 39Hy het veertigduisend manskappe en seweduisend perderuiters saam met hulle gestuur om na die land van Juda te gaan en dit volgens die bevel van die koning te vernietig. 40Hy het saam met hulle hele leërmag vertrek en hulle het naby Ammaous op die vlakte kamp opgeslaan. 41Die handelaars van die streek het van hulle reputasie gehoor, en silwer en baie groot hoeveelhede goud, sowel as boeie, geneem en na die kamp gegaan om die Israeliete as slawe te koop. 'n Leërmag uit Sirië en uit die land van die vreemdelinge het ook by hulle aangesluit.
Aanval deur Antiogus
42Judas en sy broers het gesien dat die situasie versleg en dat die leërmagte in hulle gebied kamp opslaan. Hulle het die opdragte van die koning geken, wat hy beveel het om aan die volk te doen, om hulle te verwoes en te vernietig. 43Maar elkeen het vir die een langs hom gesê: “Laat ons die ruïne van ons volk herbou en laat ons ter wille van ons volk en die heiligdom oorlog voer.” 44Die groep het byeengekom om gereed te maak vir oorlog en om te bid en om genade en ontferming te smeek.
45Jerusalem was onbewoon,
soos 'n woestyn;
daar was niemand uit haar nakomelinge
wat ingegaan of uitgegaan het nie;
die heiligdom was vertrap
en die seuns van vreemdelinge
was in die vesting –
dit was vir die heidennasies 'n woonplek.
Vreugde is Jakob ontneem
en fluit en lier het opgehou speel.
46Hulle het bymekaargekom en na Mispa oorkant Jerusalem gegaan, want in Mispa was daar vroeër 'n plek van gebed vir Israel. 47Hulle het op daardie dag gevas, en het rouklere aangetrek, as op hulle koppe gegooi en hulle klere geskeur. 48Hulle het die •boekrol van die Wet oopgemaak om kennis in te win oor dié dinge waaroor die heidennasies hulle afgodsbeelde altyd geraadpleeg het. 49Hulle het ook die klere van die priesteramp, die eerste vrugte en die tiendes gebring, en die Nasireërs wat hulle dae voltooi het, byeengeroep. 50Hulle het na die hemel uitgeroep en gesê:
“Wat moet ons met hierdie dinge maak,
en waarheen moet ons dit wegneem?
51U heiligdom is vertrap en ontheilig,
en u priesters is in rou
en vernedering gedompel.
52Kyk! Die heidennasies
het teen ons saamgespan
om ons uit te roei.
U, U weet mos wat hulle
teen ons beplan.
53Hoe sal ons voor hulle staande
kan bly as U ons nie help nie?”
54Hulle het op trompette geblaas en hard geskreeu. 55Ná hierdie dinge het Judas aanvoerders oor die volk aangestel – oor duisend, oor honderd, oor vyftig, en oor tien. 56Hy het aan hulle wat besig was om huise te bou, wat aan vroue verloof was, wat wingerde aan die plant was, en aan dié wat bang was, gesê om terug te gaan, elkeen na sy huis toe, volgens die Wet.
57Die leërafdeling het vertrek en suid van Ammaous kamp opgeslaan. 58Judas het gesê: “Omgord julleself en wees dapper, en wees vroeg die oggend gereed om oorlog te maak teen hierdie heidennasies wat teen ons saamgetrek het om ons en ons heiligdom te vernietig; 59want dit is vir ons beter om in die oorlog te sterf as om die ellende van ons volk en ons heiligdom te aanskou. 60Maar soos dit die wil in die hemel is – laat Hy so doen.”