Brief van Antiogus aan Simon
1Antiogus, seun van koning Demetrius, het toe briewe vanaf die eilande van die see aan Simon, priester en etnarg van die Judeërs, en die hele volk gestuur 2met die volgende inhoud:
“Koning Antiogus
aan Simon, die groot priester en etnarg en aan die volk van die Judeërs:
Gegroet!
3“Aangesien sommige verpestelike mans oor ons vaders se koninkryk beheer verkry het en ek die koninkryk wil opeis sodat ek dit kan herstel soos dit vroeër was, het ek 'n menigte leërmagte gewerf en oorlogskepe toegerus. 4Ek wil aan land gaan sodat ek dié wat ons land vernietig het en dié wat baie stede in my koninkryk verwoes het, kan opspoor en straf.
5“Daarom bevestig ek nou aan jou al die vrystellings wat die konings voor my aan jou toegestaan het, en ook alle ander geskenke wat hulle jou vergun het. 6Ek laat jou toe om jou eie geld te munt as geldeenheid vir jou land, 7sodat Jerusalem en die heiligdom vry kan wees. Al die wapens wat jy vervaardig het en die vestings wat jy gebou het en waaroor jy regeer, sal joune bly. 8Sowel alle huidige as toekomstige koninklike skuld sal van nou af vir altyd vir jou kwytgeskeld word. 9Wanneer ons beheer verkry oor ons koninkryk, sal ons aan jou, jou volk en die heiligdom groot eer betoon, sodat julle roem oor die hele aarde bekend sal word.”
10In die honderd-vier-en-sewentigste jaar het Antiogus na die land van sy vaders vertrek. Al die leërmagte het by hom byeengekom, sodat net 'n paar saam met Trifo was. 11Antiogus het hom agtervolg en hy het al vlugtend in Dor, by die see, aangekom, 12want hy het besef dat ellende hom oorweldig het en dat sy leërmagte hom verlaat het. 13Antiogus het by Dora kamp opgeslaan, en saam met hom honderd-en-twintigduisend soldate en agtduisend perderuiters. 14Hy het die stad omsingel. Die skepe het van die see af aangeval en hy het die stad van die land en see af onder druk geplaas en niemand toegelaat om uit of in te gaan nie.
Brief van Rome aan die Judeërs
15Numenius en sy manne het toe uit Rome aangekom met briewe aan die konings en die lande, waarin die volgende geskryf staan:
16“Lucius, konsul van die Romeine,
aan koning Ptolemeus:
Gegroet!
17“Die gesante van die Judeërs het as ons vriende en bondgenote na ons gekom om ons ou vriendskapsverdrag en bondgenootskap te hernu. Hulle is deur Simon, die hoëpriester, en die volk van die Judeërs gestuur. 18Hulle het 'n goue skild van 'n duisend mina saamgebring. 19Daarom het ons dit goedgedink om vir die konings en die lande te skryf dat ons nie daarop uit is om hulle kwaad aan te doen, en ook nie om teen hulle en hulle stede of hulle land oorlog te voer nie, sodat hulle nie bondgenootskappe sluit met dié wat teen hulle oorlog voer nie. 20Ons het besluit om die skild van hulle te aanvaar.
21“As sekere verpestelike mans uit hulle land na julle gevlug het, lewer hulle uit aan Simon, die hoëpriester, sodat hy hulle volgens hulle Wet kan straf.”
22Hierdie dinge het hy ook geskryf aan koning Demetrius, en aan Attalus, Ariarates en Arsakes, 23en aan al die lande, en aan Sampsames, die Spartane, Delos, Mundos, Sikuon, Karië, Samos, Pamfilië, Lisië, Halikarnassus, Rodos, Faselis, Kos, Side, Aradus, Gortuna, Knidus, Ciprus en Sirene. 24'n Afskrif hiervan het hulle aan Simon, die hoëpriester, geskryf.
Vervreemding tussen Simon en Antiogus
25Koning Antiogus het vir 'n tweede keer by Dora kamp opgeslaan. Hy het voortdurend aanvalle daarteen geloods, oorlogswerktuie gemaak en Trifo daarvan weerhou om uit en in te gaan. 26Simon het toe vir hom tweeduisend uitgesoekte manskappe gestuur om saam met hom te veg, asook silwer, goud en voldoende toerusting. 27Hy wou dit egter nie ontvang nie en het alles wat hy vroeër met Simon ooreengekom het, verbreek en hom van Simon vervreem. 28Hy het Atenobius, een van sy vriende, na hom gestuur om met hom samesprekings te voer en gesê: “Julle beset Joppe, Geser en die vesting in Jerusalem, stede van my koninkryk. 29Julle het hulle gebiede verwoes en die land 'n groot slag toegedien. Julle het baie plekke in my koninkryk in besit geneem. 30Oorhandig dus nou die stede wat julle ingeneem het en die belasting van die plekke wat julle buite die grense van Juda verower het. 31As julle dit nie doen nie, moet julle in plaas daarvan vyfhonderd talent silwer oorhandig, en vir die verwoesting wat julle aangerig het en vir die belasting van die stede 'n verdere vyfhonderd talente, anders sal ons teen julle kom oorlog maak.”
32Atenobius, die •Vriend van die Koning, het na Jerusalem gegaan, en toe hy Simon se aansien merk, en die dranktafel met goue en silwervoorwerpe en die aansienlike vertoon sien, was hy verstom. Hy het die koning se woorde aan hom oorgedra. 33Simon antwoord hom toe en sê: “Ons het nie 'n vreemde land gevat, of wat aan ander behoort, in besit geneem nie, maar die erfdeel van ons vaders. Dit is op 'n keer onregmatig deur ons vyande in besit geneem, 34maar noudat ons die geleentheid het, hou ons stewig vas aan die erfdeel van ons vaders. 35En in verband met Joppe en Geser wat u opeis – hulle het ons volk en land 'n groot slag toegedien. Vir hulle sal ons honderd talent gee.”
36Hy het hom nie 'n woord geantwoord nie, maar woedend na die koning teruggekeer en hierdie woorde aan hom oorgedra, en hom ook vertel van Simon se aansien en alles wat hy gesien het. Die koning het ontsettend woedend geword.
Oorwinning oor Kendebeus
37Trifo het op 'n boot geklim en na Ortosia gevlug.
38Die koning het Kendebeus as bevelvoerder van die kusgebied aangestel en voetsoldate en perderuiters aan hom gegee. 39Hy het hom beveel om teenoor Juda kamp op te slaan, en hom ook beveel om Kedron te herbou en die poorte te versterk, sodat hy teen die volk oorlog kan voer. Die koning het Trifo egter bly agtervolg. 40Kendebeus het in Jamnia aangekom en begin om die volk uit te lok, Juda binne te val, en die volk gevange te neem en dood te maak. 41Hy het Kedron herbou en daar perderuiters en leërmagte ontplooi sodat hulle kon uitgaan en die paaie van Juda kon patrolleer, soos die koning hom beveel het.