Dawid se laaste opdragte en sy dood
1Toe die tyd nader kom vir Dawid om te sterf, het hy opdragte aan sy seun Salomo gegee: 2“Ek gaan die weg van die hele aarde. Wees onwrikbaar en wys jy is 'n man. 3Kom die verpligting na wat die Here jou God jou oplê. Doen dit deur sy paaie te volg, deur sy vaste voorskrifte, sy gebooie, sy beslissings en bepalings na te kom, soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, sodat jy sukses kan behaal in alles wat jy aanpak en oral waarheen jy jou wend. 4Doen dit, sodat die Here sy woord wat Hy oor my gespreek het, gestand kan doen, naamlik, ‘As jou seuns let op hulle gedrag deur getrou, met hulle hele hart en hulle hele wese, voor My te leef, dan’ het Hy gesê, ‘sal daar nooit vir jou iemand ontbreek op die troon van Israel nie’.
5“Jy self weet ook wat Joab, seun van Seruja, aan my gedoen het, wat hy aan die twee bevelvoerders van die leërs van Israel, aan Abner, seun van Ner, en aan Amasa, seun van Jeter, gedoen het. Hy het hulle vermoor en die bloedskuld van oorlog op hom gelaai in vredestyd. Hy het die bloedskuld van oorlog op die gordel om sy heupe en die sandale aan sy voete laat kom. 6Tree dan op volgens jou wysheid. Sy grys hare mag jy nie in vrede na die •doderyk laat afgaan nie. 7Aan die seuns van Barsillai, die man uit Gilead, moet jy egter welwillendheid bewys. Hulle moet onder dié wees wat aan jou tafel eet, want so het hulle my ook tegemoetgekom toe ek gevlug het voor jou broer Absalom. 8Kyk, by jou het jy ook Simeï, seun van Gera, die Benjaminiet uit Bagurim. Hy is die een wat my gruwelik uitgeskel het die dag toe ek na Maganajim gegaan het. Maar hy is ook die een wat afgegaan het om my by die Jordaan te ontmoet, en ek het vir hom by die Here gesweer en gesê, ‘Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.’ 9Maar nou mag jy hom nie ongestraf laat nie. Jy is immers 'n slim man; jy sal self weet wat om aan hom te doen. Jy moet sy grys hare met bloed in die doderyk laat afgaan.”
10Daarna het Dawid by sy voorouers gaan rus, en hy is in die Stad van Dawid begrawe. 11Die tydperk wat Dawid koning was oor Israel, was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem was hy drie-en-dertig jaar lank koning.
Salomo op die troon
12Salomo het op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap was stewig gevestig. 13Adonia, seun van Gaggit, het na Batseba, die moeder van Salomo, gekom. Sy het gevra: “Beteken jou koms vrede?” Hy het geantwoord: “Ja, vrede!” 14Hy sê toe: “Ek wil graag 'n woord met u praat.” Sy het gesê: “Praat!” 15Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap my toekom, en dat die hele Israel se oë op my gerig was om koning te word. Die koningskap het egter oorgegaan na my broer, omdat dit deur die Here vir hom bedoel was. 16Nou is daar egter een guns wat ek van u vra; moet my dit nie weier nie.” Sy het vir hom gesê: “Praat!” 17Hy sê toe: “Praat asseblief met koning Salomo, want hy sal u dit nie weier nie, om Abisag uit Sunem vir my as vrou te gee.” 18Daarop sê Batseba: “Goed, ek sal oor jou met die koning praat.”
19Batseba gaan toe na koning Salomo om oor Adonia met hom te praat. Die koning het opgestaan, haar tegemoetgegaan en diep voor haar gebuig. Hy het op sy troon gaan sit en vir die koninginmoeder 'n troon laat neersit, en sy het aan sy •regterhand gaan sit. 20Sy sê toe: “Daar is een klein gunsie wat ek van jou wil vra – moet my dit nie weier nie.” Die koning het vir haar gesê: “Vra gerus, moeder, want ek sal u dit nie weier nie.” 21Daarop sê sy: “Laat Abisag, uit Sunem, aan Adonia, jou broer, as vrou gegee word.” 22Koning Salomo het geantwoord en vir sy moeder gesê: “En waarom vra u Abisag, uit Sunem, vir Adonia? Vra dan maar die koningskap ook vir hom, want hy is mos my broer wat ouer is as ek – ja, vir hom en vir Abjatar, die priester, en vir Joab, seun van Seruja.” 23Toe sweer Salomo by die Here en sê: “Mag God my swaar straf as Adonia nie hierdie woord ten koste van sy lewe gespreek het nie. 24Daarom, so waar as die Here leef, wat my aangestel en my op die troon van my vader Dawid laat sit het, en wat vir my 'n koningshuis voorsien het soos Hy beloof het: Vandag nog word Adonia om die lewe gebring!” 25Koning Salomo het dit aan Benaja, seun van Jojada, opgedra. Hy het Adonia aangeval, en hy het gesterf.
26Vir Abjatar, die priester, het die koning gesê: “Na Anatot moet jy gaan, na jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here, my Heer, voor my vader Dawid gedra het, en omdat jy jou onderwerp het aan al die vernedering wat my vader moes deurmaak.” 27Salomo het Abjatar verdryf, sodat hy nie meer priester van die Here was nie, om so die woord van die Here te vervul wat Hy in Silo oor die huis van Eli aangekondig het.
28Die berig het Joab bereik, want Joab het hom by Adonia geskaar, alhoewel hy hom nie by Absalom geskaar het nie. Joab vlug toe na die tent van die Here en gryp die horings van die altaar vas. 29Aan koning Salomo is berig gebring: “Joab het gevlug na die tent van die Here. Kyk, hy is daar langs die altaar!” Salomo stuur toe vir Benaja, seun van Jojada, met die opdrag: “Gaan val hom aan!”
30Benaja het by die tent van die Here aangekom en vir Joab gesê: “So sê die koning, ‘Kom uit!’ ” Maar hy het gesê: “Nee, want hier wil ek sterf!” Benaja het toe aan die koning verslag gelewer: “Dit is wat Joab gesê het, en dit is wat hy my geantwoord het.” 31Die koning sê toe vir hom: “Doen dan wat hy gesê het. Val hom aan en begrawe hom, en verwyder so die bloed van my en my familie wat Joab sonder rede gestort het. 32Mag die Here sy bloed op sy eie kop laat neerkom, hy wat twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en met die swaard vermoor het sonder my vader Dawid se medewete: Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jeter, die bevelvoerder van die leër van Juda. 33Mag hulle bloed neerkom op die kop van Joab en op die kop van sy nageslag vir altyd; maar mag daar vir Dawid en sy nageslag, sy huis en sy troon vir altyd voorspoed wees van die kant van die Here.”
34Benaja, seun van Jojada, het toe gegaan, hom aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die woestyn. 35Die koning het Benaja, seun van Jojada, daarna in sy plek aangestel oor die leër, en die koning het Sadok, die priester, aangestel in die plek van Abjatar.
36Die koning het Simeï toe ontbied en vir hom gesê: “Bou vir jou 'n huis in Jerusalem en woon daar. Maar jy mag nie uit die stad uitgaan nie, nêrens heen nie. 37En die dag wanneer jy uitgaan en die Kidrondal oorsteek – wees doodseker daarvan dat jy dan beslis sal sterf. Jou bloed sal op jou eie kop wees.” 38Daarop het Simeï vir die koning gesê: “Die voorwaarde wat my heer die koning stel, is goed; u dienaar sal so maak.”
Simeï het toe vir 'n lang tyd in Jerusalem gebly; 39maar ná verloop van drie jaar het twee slawe wat aan Simeï behoort, weggeloop na Agis, seun van Maäga, die koning van Gat. Aan Simeï is berig gebring: “Kyk, jou slawe is in Gat.” 40Simeï het toe gereedgemaak, sy donkie opgesaal en na Gat, na Agis, gegaan om sy slawe te soek. So het Simeï dan gegaan en sy slawe teruggebring uit Gat. 41Salomo is ingelig dat Simeï uit Jerusalem na Gat gegaan en teruggekeer het. 42Die koning het Simeï ontbied. Hy sê toe vir hom: “Het ek jou nie by die Here laat sweer en jou gewaarsku, ‘Die dag wanneer jy uitgaan en êrens heen vertrek, moet jy doodseker daarvan wees dat jy beslis sal sterf’ nie? Jy het nog vir my gesê, ‘Die voorwaarde is goed, ek sal luister.’ 43Waarom het jy nie die eed voor die Here nagekom, en ook die bevel wat ek jou opgelê het nie?” 44Die koning het ook vir Simeï gesê: “Jy weet self van al die kwaad, waarvan jy diep in jou hart bewus is, wat jy my vader Dawid aangedoen het. Die Here laat al jou boosheid op jou eie kop neerkom. 45Maar koning Salomo is geseënd, en die troon van Dawid sal vir altyd voor die Here gevestig bly.” 46Die koning het toe vir Benaja, seun van Jojada, opdrag gegee. Hy het uitgegaan en Simeï aangeval, en hy het gesterf. 47Die koningskap was toe stewig in die hand van Salomo.