Elia en die profete van Baäl
1'n Geruime tyd later, in die derde jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom: “Gaan verskyn aan Agab, sodat Ek reën kan gee op die aarde.” 2Elia gaan toe om aan Agab te verskyn.
Die hongersnood was erg in Samaria, en 3Agab het Obadja, die hoof van die hofhouding, ontbied. Obadja het groot ontsag vir die Here gehad. 4Toe Isebel die profete van die Here uitgeroei het, het Obadja 'n honderd profete geneem en hulle weggesteek – vyftig man in 'n grot – en hulle van brood en water voorsien. 5Agab sê toe vir Obadja: “Gaan deur die land na al die waterfonteine en al die spruite. Dalk kry ons êrens gras, sodat ons die perde en muile aan die lewe kan hou, en nie van die diere van kant hoef te maak nie.” 6Hulle verdeel toe die land tussen hulle om dit deur te gaan: Agab het op sy eie in 'n rigting gegaan en Obadja het op sy eie in 'n ander rigting gegaan.
7Terwyl Obadja op pad was, kom Elia hom onverwags teë. Obadja het hom herken en neergeval met sy gesig teen die grond. Hy sê toe: “Is dit werklik u, my heer Elia?” 8Hy het hom geantwoord: “Dit is ek! Gaan sê vir jou heer, ‘Elia is hier.’ ” 9Maar hy sê: “Wat het ek gesondig dat u u dienaar in die hand van Agab oorgee, sodat hy my kan doodmaak? 10So waar as die Here, u God, leef, daar is nie 'n nasie of koninkryk waarheen my heer nie boodskappers gestuur het om u te soek nie. As hulle gesê het, ‘Hy is nie hier nie’, het hy dié koninkryk of dié nasie laat sweer dat hulle u nie kon vind nie. 11En nou sê u, ‘Gaan sê vir jou heer: “Elia is hier!” ’ 12As ek hiervandaan sou weggaan en die Gees van die Here neem u weg – waarheen weet ek nie – en ek kom en vertel vir Agab, en hy vind u nie, sal hy my doodmaak. U dienaar het ontsag vir die Here van sy jeug af. 13Is daar nie vir my heer vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here uitgemoor het nie? Ek het 'n honderd man van die Here se profete weggesteek, vyftig hier en vyftig man daar, in grotte, en hulle van brood en water voorsien. 14Nou sê u, ‘Gaan sê vir jou heer: “Elia is hier!” ’ Hy gaan my doodmaak.” 15Maar Elia het gesê: “So waar as die Here, Heerser oor alle magte, leef, Hy in wie se diens ek staan, ek sal beslis vandag nog voor hom verskyn.”
16Obadja het Agab tegemoetgegaan en hom ingelig. Daarop het Agab gegaan om Elia te ontmoet. 17Toe Agab vir Elia sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, die een wat Israel in die ongeluk stort?” 18Maar hy antwoord: “Ek het Israel nie in die ongeluk gestort nie, maar dit is jy en jou familie, deurdat julle die gebooie van die Here verontagsaam het, en deurdat jy agter die Baäls aangeloop het. 19Daarom, stuur boodskappers uit, bring die hele Israel by my byeen op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjera wat aan die tafel van Isebel eet.”
20Agab het boodskappers uitgestuur na al die Israeliete, en die profete byeengebring by die berg Karmel. 21Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” Maar die volk het hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie. 22Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as die profeet van die Here, maar die profete van Baäl is vierhonderd-en-vyftig man. 23Hulle moet vir ons twee bulle gee. Hulle moet vir hulle 'n bul kies, dit opsny en op die hout neersit, maar kole vuur mag hulle nie gebruik nie. Ek sal die ander bul voorberei en op die hout plaas, maar kole vuur sal ek nie gebruik nie. 24Dan moet julle die naam van julle god aanroep, en ek sal die Naam van die Here aanroep. Die god wat met vuur antwoord, Hy is God.” Die hele volk het daarop gereageer en gesê: “Dit is goed so.”
25Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle 'n bul en berei eerste voor, want julle is die meeste. Roep dan die naam van julle god aan, maar kole vuur mag julle nie gebruik nie.” 26Hulle neem toe die bul wat vir hulle gegee is, berei dit voor en roep van die oggend tot die middag die naam van Baäl aan, met die woorde: “Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie en niemand wat antwoord nie. Hulle het hink-hink gedans by die altaar wat voorberei is. 27Teen die middag het Elia hulle gespot en gesê: “Roep harder, want hy is mos 'n god! Hy is dalk ingedagte, of hy sonder hom af, of is op pad. Dalk is hy aan die slaap en moet wakker word.” 28Hulle het toe harder geroep en, soos hulle gewoonte was, hulleself met swaarde en steekspiese stukkend gekerf totdat die bloed oor hulle geloop het. 29Ná die middag het hulle waansinnig te kere gegaan, totdat dit tyd was vir die bring van die •graanoffer. Daar was egter geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie.
30Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!” Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die Here wat afgebreek was. 31Elia het twaalf klippe geneem, in ooreenstemming met die getal van die stamme van die seuns van Jakob, vir wie die Here gesê het: “Israel sal jou naam wees.” 32Hy het met die klippe in die Naam van die Here 'n altaar gebou en 'n watervoor wat ongeveer twee sea saad kon hou, rondom die altaar gegrawe. 33Hy het die hout gerangskik, die bul opgesny en op die hout neergesit. 34Toe sê hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit oor die •brandoffer en die hout.” Hy sê toe: “Doen dit weer!” Hulle het dit weer gedoen. Daarna sê hy: “Doen dit 'n derde keer!” Hulle het dit 'n derde keer gedoen. 35Die water het rondom die altaar geloop. Die water het selfs die voor volgemaak.
36Toe dit tyd was vir die bring van die graanoffer, het Elia, die profeet, na vore getree en gesê: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het. 37Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, Here, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.”
38Toe slaan die vuur van die Here neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek. 39Toe die hele volk dit sien, val hulle neer met hulle gesigte teen die grond en sê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!” 40Elia sê toe vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Niemand van hulle moet wegkom nie!” Hulle het hulle gegryp, en Elia het hulle afgeneem na die spruit Kison en hulle daar omgebring.
41Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan! Eet en drink, want ek hoor die geruis van reën.” 42Agab het gegaan om te eet en drink, maar Elia het na die kruin van Karmel opgegaan en geboë op die grond gaan sit met sy kop tussen sy knieë. 43Hy het vir sy dienaar gesê: “Gaan asseblief boontoe en kyk uit in die rigting van die see.” Hy gaan toe boontoe en kyk uit, maar sê: “Daar is niks nie.” Elia sê toe: “Gaan weer! Doen dit sewe keer!” 44Die sewende keer sê hy toe: “Daar kom 'n wolkie so klein soos die palm van 'n man se hand uit die see op!” Toe sê Elia: “Gaan! Sê vir Agab, ‘Span in en gaan af, sodat die reën jou nie terughou nie.’ ”
45In 'n oogwink het die hemelruim donker geword van wolke en wind, en 'n geweldige reënbui het uitgesak. Agab het op sy strydwa geklim en na Jisreël gegaan. 46Die hand van die Here het van Elia besit geneem. Hy het sy kleed opgebind en voor Agab uit gehardloop tot by Jisreël.