Abraham as voorbeeld
1Wat sal ons dan sê het Abraham, ons stamvader na die liggaam, verkry? 2As Abraham inderdaad op grond van sy dade regverdig verklaar is, het hy rede om hom daarop te beroem. Maar nie voor God nie. 3Want wat sê die Skrif? “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” 4Iemand wat werk, se loon word nie as 'n guns gereken nie, maar as iets wat hom toekom. 5Iemand wat egter nie werk nie, maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar – vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken. 6So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke:
7“Gelukkig is hulle
wie se wettelose dade vergewe,
en wie se sondes bedek is;
8Gelukkig is die mens
vir wie die Here die sonde
hoegenaamd nie toereken nie.”
9Is hierdie seën dan net vir die besnedenes, of ook vir die onbesnedenes? Ons sê tog: “Abraham se geloof is vir hom as regverdiging gereken.” 10Wanneer is dit vir hom toegereken? Toe hy reeds besnede was, of toe hy nog onbesnede was? Nie toe hy besnede was nie, maar toe hy onbesnede was. 11Hy het die teken van die besnydenis as 'n seël ontvang – 'n seël van die geregtigheid van die geloof wat hy gehad het terwyl hy onbesnede was. So het hy die vader geword van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat dit ook vir hulle as regverdiging toegereken kon word. 12So het hy ook die vader geword van hulle wat nie bloot besnede is nie, maar wat boonop in die voetspore volg van ons vader Abraham, wat geglo het toe hy nog onbesnede was.
Ontvangs van die belofte van God deur geloof
13Die belofte dat hy die wêreld as erfdeel sou ontvang, het nie deur die wet na Abraham of sy nageslag gekom nie, maar deur die •geregtigheid van die geloof. 14Immers, as mense op grond van die wet erfgename is, het die geloof betekenisloos geword en die belofte sy krag verloor. 15Dit is tog die wet wat toorn meebring; maar waar daar geen wet is nie, is daar ook geen oortreding nie. 16Daarom het die belofte op geloof berus, sodat dit volgens genade kon vasstaan vir Abraham se hele nageslag, nie net vir hulle wat op grond van die wet leef nie, maar ook vir hulle wat op grond van Abraham se geloof leef. Hy is ons almal se vader, 17soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak” – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. 18Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos daar gesê is: “Só sal jou nageslag wees.” 19Sy geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. 20Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. 21Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen. 22Daarom “is dit vir hom as regverdiging gereken”. 23Dat dit vir hom as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, 24maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.