1Vir die •musiekleier. Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. 'n Psalm. Van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat?
Waarom is U ver daarvan
om my te verlos,
ver van die woorde
wat ek uitskreeu?
3My God, ek roep bedags,
maar U antwoord nie,
ook snags,
maar daar is geen rus vir my nie.
4U is tog die •Heilige,
U heers waar die lofliedere
van Israel opklink.
5Op U het ons voorouers vertrou,
hulle het vertrou
en U het hulle bevry.
6Tot U het hulle om hulp geroep
en hulle het ontvlug;
op U het hulle vertrou
en hulle het nie beskaamd gestaan nie.
7Maar ek is 'n wurm en nie 'n mens nie,
bespot deur die mense,
verag deur die volk.
8Almal wat my sien,
dryf met my die spot;
hulle gryns en skud die kop:
9“Wend jou tot die Here!” en
“Laat Hy hom bevry,
laat Hy hom red
as Hy hom goedgesind is!”
10U is immers die Een wat my
uit die baarmoeder gehaal het,
my op die borste
van my moeder laat vertrou het.
11Op U is ek aangewese
van die moederskoot af;
van my geboorte af is U my God.
12Moenie ver van my bly nie,
want die nood is naby;
daar is immers niemand wat help nie!
13Baie bulle het my omsingel;
die sterkes van Basan het my vasgekeer.
14Hulle het hulle monde
teen my oopgesper
soos 'n leeu wat verskeur en brul.
15Soos water is ek uitgestort,
my hele gebeente val uitmekaar;
my hart het geword soos was,
dit het in my liggaam gesmelt.
16My krag het uitgedroog
soos 'n potskerf,
en my tong kleef
aan my verhemelte;
in die stof van die dood laat U my lê.
17Inderdaad, honde het my omsingel.
'n Bende kwaaddoeners het my omring;
hulle het my hande en my voete
deurboor.
18Ek kan al my bene tel.
Hulle staar my aan met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere
onder mekaar,
en hulle loot oor my boklere.
20U, Here, moet tog nie
ver van my bly nie;
my bron van krag,
kom my gou te hulp.
21Red tog my lewe van die swaard,
my enigste lewe uit die mag
van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu,
en van die horings van buffels.
U het my geantwoord.
23Ek wil u Naam verkondig
aan my •broers;
in die byeenkoms wil ek U loof:
24“Julle wat vir die Here
ontsag het, loof Hom!
Julle, die ganse nageslag
van Jakob, vereer Hom!
Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!
25Want Hy het die lyding
van die magtelose
nie geminag of misken nie;
Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie;
maar toe hy Hom om hulp gesmeek het,
het Hy gehoor.”
26U is die rede vir my lofprysing
in 'n groot byeenkoms;
my geloftes sal ek nakom
in die teenwoordigheid
van dié wat vir Hom ontsag het.
27Die verdruktes kan dan eet
en versadig word;
wie Hom raadpleeg,
kan die Here loof.
Mag julle harte vir altyd leef!
28Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29want aan die Here
behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.
30Ja, voor Hom sal almal
wat oordadig leef,
in aanbidding neerbuig;
voor Hom sal alle sterflinge kniel,
elkeen wat nie die lewe kan behou nie.
31'n Nageslag sal Hom dien;
hulle sal van my Heer vertel
aan die volgende geslag.
32Hulle sal kom en sy geregtigheid
bekend maak aan mense
wat nog gebore moet word:
Hy het dit gedoen.