1'n Stukkie droë brood,
met rus daarby,
is beter as 'n huis vol •maaltydoffers,
met 'n getwis daarby.
2'n Verstandige dienaar sal heers
oor 'n seun wat skande maak,
en sal saam met die broers
deel in die erfenis.
3'n Smeltkroes is vir silwer,
en 'n smeltoondjie vir goud,
maar die Here toets harte.
4'n Kwaaddoener gee aandag
aan lippe vol boosheid;
'n leuenaar spits sy oor
vir 'n tong vol vernietiging.
5Wie 'n arme bespot,
beledig sy Maker;
wie bly is oor teenspoed,
sal nie ongestraf bly nie.
6Die kroon van oumense
is kleinkinders,
en die roem van kinders
is hulle ouers.
7Breedsprakigheid pas nie
by 'n nikswerd nie –
hoeveel minder nog leuentaal
by 'n vooraanstaande persoon!
8'n Omkoopgeskenk
is 'n gelukbringer in die oë
van wie dit besit –
waar hy hom ook al heen wend,
hy gaan sukses behaal!
9Wie 'n oortreding bedek,
streef na liefde,
maar wie 'n saak telkens ophaal,
skei boesemvriende.
10'n Dreigement
maak 'n groter indruk
op iemand met insig
as honderd houe op 'n dwaas.
11'n Slegte mens
streef net na opstand,
en 'n hartelose boodskapper
word teen hom uitgestuur.
12'n Beer van haar kleintjies beroof
kan eerder op 'n mens afkom,
as 'n dwaas in sy sotheid.
13As iemand goed met kwaad
vergeld,
sal onheil nie sy huis verlaat nie.
14Die begin van 'n stryd
is water wat deurbreek.
Laat dit vaar voor die getwis losbars!
15Hy wat 'n goddelose vryspreek,
en hy wat 'n regverdige
skuldig verklaar,
is albei afstootlik vir die Here.
16Waarom is daar geld
in 'n dwaas se hand?
Is dit om wysheid te koop,
terwyl hy geen verstand het nie?
17'n Vriend betoon te alle tye liefde,
en 'n broer is gebore vir tye van nood.
18'n Mens sonder verstand
gee hand;
hy staan borg vir sy medemens.
19Wie van oortreding hou,
hou van rusie;
wie sy ingang hoog bou,
vra vir ineenstorting.
20Wie 'n valse hart het,
vind nie die goeie nie,
en wie bedrieglik met sy tong is,
beland in die moeilikheid.
21Wie 'n dwaas verwek –
tot verdriet is dit vir hom;
en die vader van 'n nikswerd
sal geen blydskap ervaar nie.
22'n Vrolike hart
is goed vir herstel,
maar 'n neerslagtige gees
sal die gebeente uitdroog.
23'n Omkoopgeskenk
uit die vou van 'n kleed –
'n goddelose aanvaar dit
om die reg te dwarsboom.
24Iemand met insig
hou wysheid voor oë,
maar die oë van 'n dwaas is gerig
op die eindes van die aarde.
25'n Dwase seun is 'n ergernis
vir sy vader,
en 'n bitterheid vir haar wat hom
in die wêreld gebring het.
26Om 'n regverdige 'n boete
op te lê, is alreeds nie goed nie;
om vooraanstaandes te slaan,
druis in teen wat reg is.
27Wie sy woorde terughou
is vertroud met kennis,
en wie grootmoedig van gees is,
is 'n skerpsinnige mens.
28Selfs 'n sot wat stilbly,
word as wys beskou,
as verstandig,
wanneer hy sy lippe dig hou.