Gelykenis van die skape en die kraal
1“Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim – daardie man is 'n dief en 'n rower. 2Maar hy wat by die hek ingaan, is 'n herder van die skape; 3vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. 4Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van vreemdes nie ken nie.” 6Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel, maar hulle het nie begryp wat Hy vir hulle sê nie.
Jesus die goeie herder
7Jesus het toe weer gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; die skape het egter nie na hulle geluister nie. 9Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. 10'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed. 11Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12Die huurarbeider, wat nie 'n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle – 13omdat die man 'n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie. 14Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, 15net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. 16Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder. 17Om hierdie rede het die Vader My lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem. 18Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang.”
19Oor hierdie woorde het daar toe weer verdeeldheid onder die Jode ontstaan. 20Baie van hulle het gesê: “Hy het 'n demoon en is kranksinnig; waarom luister julle na hom?” 21Ander het gesê: “Hierdie woorde is nie van iemand wat van 'n demoon besete is nie. 'n Demoon kan tog nie blindes se oë oopmaak nie?”
Verwerping van Jesus
22In daardie tyd het die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem plaasgevind. Dit was winter, 23en Jesus het op die tempelterrein rondbeweeg, in die Pilaargang van Salomo. 24Die Jode het toe om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit openlik vir ons.” 25Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. 26Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”
31Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig. 32Jesus het hulle geantwoord: “Baie goeie dade van die Vader het Ek aan julle gewys. Oor watter een van daardie dade wil julle My stenig?” 33Die Jode het Hom geantwoord: “Dit is nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor godslastering, en omdat jy, wat net 'n mens is, jouself God maak.” 34Jesus het hulle geantwoord: “Staan daar nie in julle Wet geskryf, ‘Ek het gesê julle is gode’ nie? 35As Hy hulle tot wie die woord van God gekom het, gode genoem het – en die Skrif kan nie verbreek word nie – 36hoe sê julle dan van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het, ‘Jy laster,’ omdat Ek gesê het, ‘Ek is die •Seun van God’? 37As Ek nie die dade van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie. 38Maar as Ek dit doen en julle My tog nie glo nie, glo dan my dade, sodat julle kan besef en steeds weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.” 39Hulle het toe weer probeer om Hom te arresteer, maar Hy het uit hulle hande ontglip.
40Daarop het Hy weer teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes tevore gedoop het, en daar vertoef. 41En baie het na Hom gekom; hulle het gesê: “Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor Hom gesê het, is waar.” 42En talle het daar in Hom begin glo.