1Net toe Jeremia klaar al die woorde van die Here hulle God vir die hele volk gesê het – al hierdie woorde waarmee die Here hulle God hom na hulle gestuur het – 2het Asarja, seun van Hosaja, en Joganan, seun van Kareag, en al die aanmatigende manne geantwoord. Hulle het vir Jeremia gesê: “Jy praat leuens! Die Here ons God het jou nie gestuur om te sê, ‘Julle moenie na Egipte gaan om daar as •vreemdelinge te gaan woon nie;’ 3maar Barug, seun van Nerija, het jou teen ons opgestook om ons so oor te gee in die hand van die Galdeërs om ons dood te maak of ons in ballingskap na Babilonië weg te voer.”
4Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings en die hele volk het toe nie geluister na die stem van die Here om in die land Juda te bly nie. 5Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings het almal wat oorgebly het van Juda saamgeneem, hulle wat teruggekom het uit al die nasies waarheen hulle verdryf is om in die land Juda as vreemdelinge te woon – 6die manne, die vroue en kinders, die dogters van die koning, en al die mense wat Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, by Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, gelaat het, ook die profeet Jeremia en Barug, seun van Nerija. 7Hulle het in Egipteland aangekom – want hulle het nie na die stem van die Here geluister nie – en tot by Tagpanhes gevorder. 8Die woord van die Here het toe in Tagpanhes tot Jeremia gekom: 9“Neem groot klippe, en, terwyl die Judese manne toekyk, steek dit weg in die klei by die steenvorms wat by die ingang na 'n gebou van die farao in Tagpanhes is. 10Sê dan vir hulle, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan my dienskneg, Nebukadresar, die koning van Babilonië, ontbied, en Ek sal sy troon plaas op hierdie klippe wat Ek hier weggesteek het, en hy sal die mat vir sy troon daaroor uitrol.
11Hy sal kom en Egipteland verslaan.
Wie vir die dood bestem is,
sal uitgelewer word aan die dood,
wie vir gevangenskap bestem is, aan gevangenskap,
wie vir die swaard bestem is, aan die swaard.
12Hy sal 'n vuur aansteek
in die tempels van die gode van Egipte.
Hy sal dit afbrand en hulle wegvoer
as gevangenes.
Hy sal Egipteland skoon pluk
soos 'n herder sy kleed skoon pluk
van luise,
en hy sal ongedeerd daarvandaan
wegtrek.
13Hy sal die klippilare
van die sontempel in Egipteland
stukkend breek;
die tempels van die gode van Egipte
sal hy afbrand.” ’ ”