Simson en Delila
1Simson het na Gasa gegaan. Hy het daar 'n prostituut gesien en by haar ingegaan. 2Aan die mense van Gasa is berig: “Simson het hierheen gekom.” Hulle het die stad omsingel en hom die hele nag by die stadspoort ingewag. Hulle was die hele nag stil, en het gesê: “Teen dagbreek maak ons hom dood.” 3Simson het egter tot in die middel van die nag bly lê. Hy het in die middel van die nag opgestaan, die deure van die stadspoort en ook die twee kosyne beetgepak en dit saam met die sluitbalk uitgeruk. Hy het dit op sy skouers gesit en dit opgedra na die kruin van die berg wat teenoor Hebron lê.
4'n Ruk daarna het hy verlief geraak op 'n vrou in die Sorekdal; haar naam was Delila. 5Die regeerders van die Filistyne het na haar toe opgegaan en vir haar gesê: “Praat hom om en vind uit waarin sy groot krag lê, en hoe ons hom kan oorweldig en vasbind om hom weerloos te laat. Elkeen van ons sal vir jou eenduisend eenhonderd sikkel silwer gee.”
6Delila sê toe vir Simson: “Vertel asseblief vir my waarin jou groot krag lê, en hoe jy vasgebind kan word om jou weerloos te laat.” 7Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog is nie, sal ek swak word en soos enige ander mens wees.”
8Die regeerders van die Filistyne het sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog was nie, vir haar gestuur. Sy het hom daarmee vasgebind. 9Terwyl dié wat wegkruip in die binnekamer op haar wag, sê sy vir hom: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Maar hy het die boogsnare uitmekaar geruk soos vlasdraadjies breek wanneer dit vuur ruik, en dit het nie bekend geword waarin sy krag lê nie.
10Toe sê Delila vir Simson: “Kyk, jy het my vir die gek gehou; jy het vir my leuens vertel. Vertel nou asseblief vir my waarmee jy vasgebind kan word.” 11Hy het haar geantwoord: “As hulle my stewig vasbind met nuwe toue waarmee nog geen werk gedoen is nie, sal ek swak word en soos enige ander mens wees.”
12Delila het toe nuwe toue geneem en hom daarmee vasgebind. Terwyl dié wat wegkruip in die binnekamer wag, sê sy vir hom: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Maar hy het die toue van sy voorarms af gebreek soos 'n garingdraad.
13Delila sê toe vir Simson: “Tot nou toe het jy my vir die gek gehou en vir my leuens vertel. Vertel my waarmee jy vasgebind kan word.” Hy het vir haar gesê: “As jy die sewe vlegsels op my kop in die skering van die weefraam inweef.” 14Sy het dit met die pen vasgeslaan en vir hom gesê: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Hy het uit sy slaap wakker geskrik en die pen van die weefspoel saam met die skering uitgeruk.
15Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê, ‘Ek het jou lief,’ maar jou hart is nie by my nie? Dit is die derde keer dat jy my vir die gek gehou het en nie vir my vertel het waarin jou groot krag lê nie.” 16En omdat sy die hele tyd met haar versoeke by hom geneul het en hom lastig geval het, het hy so ongeduldig geraak dat hy kon sterf. 17Hy het toe sy hele hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “'n Skeermes het nog nooit naby my kop gekom nie, want ek is van die moederskoot af 'n •nasireër van God. As ek geskeer word, sal my krag van my wyk. Ek sal swak word en soos enige ander mens wees.”
18Delila het gesien dat hy sy hele hart vir haar oopgemaak het. Sy het die regeerders van die Filistyne laat roep en gesê: “Kom hierdie keer hierheen op, want hy het vir my sy hele hart oopgemaak.” Die regeerders van die Filistyne het na haar opgegaan met die silwer by hulle. 19Sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak, iemand geroep en die sewe vlegsels op sy kop afgeskeer. So het sy begin om hom weerloos te maak. Sy krag het van hom gewyk. 20Toe sy sê, “Die Filistyne is op jou, Simson!” het hy uit sy slaap wakker geskrik en gedink: “Ek sal uitkom soos elke vorige keer. Ek sal myself losruk.” Hy het egter nie besef dat die Here van hom gewyk het nie.
21Toe gryp die Filistyne hom en steek sy oë uit. Hulle het hom na Gasa afgeneem en hom met bronskettings geboei. Hy moes toe maalwerk doen in die gevangenis. 22Die hare op sy kop het egter weer begin groei nadat dit afgeskeer is.
23Die regeerders van die Filistyne het byeengekom om 'n groot offer aan Dagon, hulle god, te bring en om aan hulle blydskap uiting te gee. Hulle het gesê: “Ons god het Simson, ons vyand, in ons hand gegee.”
24Toe die volk hom sien, het hulle hulle god geloof. “Want,” het hulle gesê,
“ons god het ons vyand
in ons hand gegee –
die verwoester van ons land,
wat ons gesneuweldes
vermeerder het.”
25Toe hulle harte vrolik geraak het, sê hulle: “Roep vir Simson, dat hy ons kan vermaak.” Hulle roep Simson toe uit die gevangenis, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die pilare laat staan. 26Simson sê toe vir die jong man wat hom aan die hand gelei het: “Los my, sodat ek die pilare waarop die tempel rus, kan voel en daarteen kan leun.” 27Die tempel was vol mans en vroue. Al die regeerders van die Filistyne was daar, en op die dak was ongeveer drieduisend mans en vroue wat na Simson se vermakery gekyk het. 28Toe roep Simson na die Here en sê: “Here, my Heer, dink tog aan my! Maak my asseblief nog net hierdie keer sterk, o God, sodat ek my vir een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.”
29Simson vat toe die twee middelste pilare vas waarop die tempel rus, en leun teen hulle aan, met die een aan sy regterkant en die ander aan sy linkerkant. 30Daarop sê Simson: “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Toe beur hy met alle mag. Die tempel het ingestort op die heersers en al die mense wat daarin was. Die dooies wat hy met sy sterwe omgebring het, was meer as dié wat hy in sy lewe omgebring het.
31Sy broers en sy hele familie het toe afgekom en hom weggedra. Hulle het hom terug opgeneem en hom begrawe tussen Sora en Estaol in die graf van Manoag, sy vader.
Simson het Israel twintig jaar lank gerig.