1Ter wille van Sion
sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem
nie rus nie,
totdat haar geregtigheid deurbreek
soos 'n helder lig,
haar verlossing brand
soos 'n fakkel.
2Nasies sal jou geregtigheid sien,
en al die konings jou roem.
Aan jou sal 'n nuwe naam gegee word;
die mond van die Here self
sal dit bepaal.
3Jy sal 'n sierlike erekroon wees
in die hand van die Here,
'n kosbare koninklike hoofband
in die handpalm van jou God.
4Mense sal nie meer vir jou sê
“Verlatene” nie,
en vir jou land nie meer sê
“Woesteny” nie;
maar jy sal genoem word
“My Vreugde is in Haar”,
en jou land “Getroude”.
Want die Here vind vreugde in jou,
en jou land sal getroud wees;
5ja, soos 'n jong man trou
met 'n jong meisie,
sal jou kinders met jou trou.
Met die vreugde van 'n bruidegom
oor sy bruid,
sal jou God Hom oor jou verheug.
6Op jou stadsmure, Jerusalem,
het ek wagte uitgesit.
Dwarsdeur die dag en nag
sal hulle nie 'n oomblik lank swyg nie.
Julle wat die Here herinner
aan sy beloftes,
gun julleself geen rus nie!
7Gun Hom ook geen rus nie,
totdat Hy haar gevestig het,
totdat Hy Jerusalem
'n loflied op aarde gemaak het!
8Die Here het 'n eed afgelê
by sy regterhand,
by sy kragtige voorarm:
“Ek sal nie meer jou koring as
voedsel aan jou vyande gee nie,
en vreemdes sal nie meer
jou •nuwe wyn drink
waarvoor jy jou vermoei het nie.
9Maar wie insamel, sal eet,
en hulle sal die Here loof.
Wie druiwe oes,
sal die nuwe wyn drink
in my heilige voorhowe.”
10Gaan deur, gaan deur die poorte,
maak die pad vir die volk gereed.
Vul op, vul die grootpad op!
Vul dit op!
Verwyder die klippe!
Hou 'n banier omhoog vir die volke.
11Kyk, die Here laat dit hoor
tot by die einde van die aarde:
“Sê vir die dogter van Sion,
‘Kyk, jou verlossing kom!
Kyk, sy vergoeding is by Hom,
sy beloning is voor Hom.’ ”
12Hulle sal genoem word
Heilige Volk,
Losgekooptes van die Here.”
En jy, Jerusalem,
sal genoem word Gesogte,
Stad wat nie Verlate is nie.”