1Die twee engele het teen die aand in Sodom aangekom terwyl Lot in die stadspoort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, staan hy op, gaan hulle tegemoet en buig laag met sy gesig na die grond. 2Hy sê toe: “Ag, menere, draai asseblief af na die huis van u dienaar, bly die nag oor en was u voete! U kan vroeg opstaan en op u pad gaan.” Maar hulle het gesê: “Nee, ons sal hier in die oop ruimte oornag.” 3Hy het egter ernstig by hulle daarop aangedring, en hulle het na hom afgedraai en by sy huis aangekom. Hy het vir hulle 'n maaltyd voorberei en ongesuurde brode gebak, en hulle het geëet.
4Voordat hulle gaan slaap, kom die manne van die stad, die manne van Sodom, van oral oor na die huis, jonk en oud, al die mense, sonder uitsondering. 5Hulle roep toe na Lot en sê vir hom: “Waar is die mans wat vannag by jou aangekom het? Bring hulle uit na ons toe, sodat ons met hulle gemeenskap kan hê!” 6Lot het na hulle uitgegaan, na die ingang, en die deur agter hom toegemaak. 7Hy het gesê: “My broers, moet asseblief nie iets slegs doen nie! 8Kyk, ek het twee dogters wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Laat ek hulle liewer na julle uitbring. Maak dan met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie mans moet julle nie iets doen nie, want juis daarom het hulle onder die skadu van my dak ingekom.”
9Maar hulle het gesê: “Gee pad daar!” Verder sê hulle: “Hierdie man het gekom om as •vreemdeling hier te woon, en hy wil sowaar 'n oordeel vel! Nou sal ons jou meer kwaad aandoen as vir hulle!” Hulle het heftig aangedring by die man, by Lot, en nader beweeg om die deur af te breek. 10Maar die mans het hulle hande uitgesteek, Lot na hulle toe ingetrek en die deur gesluit. 11Hulle het ook die mans wat by die ingang van die huis was, van klein tot groot, met blindheid geslaan. Die mans het toe maar opgegee om die deur te probeer vind.
12Die mans vra toe vir Lot: “Wie van jou mense is nog hier in die stad – 'n skoonseun, jou seuns, jou dogters, of enige iemand van jou? Neem hulle uit hierdie plek, 13want ons gaan hierdie plek verdelg. Ja, die noodkreet teen hulle by die Here is groot, en die Here het ons gestuur om die stad te verdelg.” 14Lot het uitgegaan en met sy skoonseuns, wat sy dogters as vrou sou neem, gepraat. Hy het gesê: “Maak gereed en gaan uit hierdie plek uit! Want die Here gaan die stad verdelg.” Maar in sy skoonseuns se oë was dit asof hy gekskeer.
15Net toe die dag breek, het die engele Lot aangespoor: “Staan op! Neem jou vrou en jou twee dogters wat hier is, anders word julle meegesleur oor die sondeskuld van die stad.” 16Hy het nog gehuiwer, toe gryp die mans hom, sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die Here Hom oor hom ontferm het. Hulle het hom uitgelei en buite die stad gelaat. 17Net nadat hulle hulle na buite uitgelei het, sê een van die mans: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moet nêrens in die hele Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die berge, anders word jy meegesleur.” 18Maar Lot het vir hulle gesê: “Asseblief nie, my Heer! 19Kyk, u dienskneg het guns gevind in u oë, en U het u troue liefde oorvloedig aan my bewys deur my te laat leef. Ek sal egter nie na die berge kan ontvlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterf nie. 20Kyk, hierdie dorp is naby genoeg om daarheen te kan vlug, en dit is 'n klein dorpie. Ek wil graag daarheen ontvlug; dit is mos maar klein; dan kan ek my lewe behou.”
21Hy het hom geantwoord: “Kyk, Ek sal jou ook in hierdie saak tegemoetkom deur nie die dorp waarvan jy praat, te verwoes nie. 22Vlug vinnig daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie.” Daarom word die dorp Soar genoem.
23Die son het oor die aarde opgekom toe Lot in Soar aankom. 24Die Here het op Sodom en Gomorra swael en vuur laat reën wat van die Here af uit die hemelruim kom. 25Hy het hierdie stede verwoes en die hele Jordaanstreek – al die inwoners van die stede en ook wat uit die grond spruit. 26Sy vrou het egter omgekyk, en sy het 'n soutpilaar geword.
27Abraham is vroeg die oggend na die plek waar hy voor die Here gestaan het. 28Hy het afgekyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele gebied van die Jordaanstreek, en gesien daar styg rook op uit die land, soos die rook uit 'n smeltoond. 29Toe God die stede van die Jordaanstreek verdelg het, het God aan Abraham gedink, en Lot weggestuur uit die verwoesting, toe Hy die stede waarin Lot gewoon het, verwoes het.
30Lot het uit Soar opgetrek en in die bergland gaan woon. Sy twee dogters was saam met hom, want hy was bang om in Soar te bly. Hy het hom in 'n grot gevestig, hy en sy twee dogters. 31Die oudste dogter sê toe vir die jonger een: “Ons pa is al oud, en in dié land is daar nie 'n man wat by ons kan ingaan, soos dit die gebruik in die hele wêreld is nie. 32Kom ons laat ons pa wyn drink, sodat ons by hom kan gaan lê, en ons uit ons pa 'n nageslag in die lewe kan bring.” 33Daardie nag het hulle hulle vader wyn laat drink; en die oudste het ingegaan en by haar vader gaan lê. Hy het nie iets agtergekom toe sy gaan lê en opstaan nie. 34Die volgende dag sê die oudste toe vir die jongste: “Kyk, ek het verlede nag by ons pa geslaap. Kom ons gee hom ook vannag wyn; gaan jy dan in en lê by hom, sodat ons uit ons pa 'n nageslag in die lewe kan bring.” 35Hulle het toe ook daardie nag hulle vader wyn laat drink, en die jongste het opgestaan en by hom gaan lê. Hy het nie iets agtergekom toe sy gaan lê en opstaan nie. 36So het die twee dogters van Lot swanger geraak by hulle vader. 37Die oudste het aan 'n seun geboorte gegee, en sy het hom Moab genoem. Hy is die stamvader van die huidige Moabiete. 38En die jongste, ook sy het aan 'n seun geboorte gegee en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die stamvader van die huidige Ammoniete.