Tweede plaag
1Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao en sê vir hom, ‘So sê die Here: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. 2As jy bly weier om hulle te laat gaan – kyk, Ek gaan jou hele grondgebied met paddas tref. 3Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal opkom en in jou huis kom, in jou slaapkamer en op jou bed; in die huise van jou amptenare en by jou mense; in jou bakoonde en jou knieskottels. 4Op jou en jou mense en op al jou amptenare sal die paddas spring.” ’ ”
5Die Here sê toe vir Moses: “Sê vir Aäron, ‘Strek jou hand, met jou staf, uit oor die riviere, die kanale en oor die vleilande, en laat die paddas opkom oor Egipteland.’ ” 6Aäron strek toe sy hand uit oor die waters van Egipte, en die paddas het opgekom en Egipteland oordek. 7Maar die waarsêerpriesters het dieselfde gedoen met hulle towerkuns, en paddas laat opkom oor Egipteland.
8Toe ontbied die farao vir Moses en Aäron en sê: “Pleit by die Here dat Hy die paddas van my en my mense wegneem, dan sal Ek die volk laat gaan, sodat hulle aan die Here kan offer.” 9Moses sê toe vir die farao: “Dit is u voorreg om te besluit. Wanneer moet ek vir u, u amptenare en u mense pleit, om die paddas uit te roei by u en uit u huise, dat hulle net in die Nyl oorbly?” 10Hy het geantwoord: “Môre.” Toe sê Moses: “Dit sal wees soos u sê, sodat u kan weet dat daar niemand is soos die Here ons God nie. 11Die paddas sal weggaan van u af en uit u huise uit, weg van u amptenare en u mense. Net in die Nyl sal daar van hulle oorbly.”
12Moses en Aäron het van die farao af weggegaan, en Moses het na die Here om hulp geroep oor die probleem van die paddas wat Hy vir die farao beskik het. 13Die Here het toe volgens Moses se versoek opgetree: Die paddas het gevrek in die huise, in die dorpies en op die landerye. 14Hulle het dit op hope gegooi, en die land het gestink.
15Toe die farao sien dat daar uitkoms is, was hy onversetlik en het hy nie na hulle geluister nie, soos die Here gesê het.
Derde plaag
16Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron, ‘Steek jou staf uit en slaan die stof op die grond; dan sal dit muggies word in die hele Egipteland.’ ” 17Hulle het toe so gemaak. Aäron het sy hand met sy staf uitgestrek, die stof op die grond geslaan, en daar was muggies op mens en dier. Al die stof van die land het muggies geword in die hele Egipteland. 18Die waarsêerpriesters het dit ook probeer doen – met hulle towerkuns muggies probeer voortbring – maar hulle kon nie. Daar was muggies op mens en dier. 19Toe sê die waarsêerpriesters vir die farao: “Dit is die vinger van God!” Maar die farao se hart was verhard en hy wou nie na hulle luister nie, soos die Here gesê het.
Vierde plaag
20Die Here het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Kyk, hy gaan uit na die water. Sê vir hom, ‘So sê die Here: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. 21Want as jy my volk nie laat gaan nie – kyk, Ek gaan op jou en jou amptenare en jou mense en in jou huise steekvlieë loslaat. Die huise van die Egiptenare sal vol steekvlieë wees, selfs op die grond waarop hulle staan. 22Maar op daardie dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek, waar my volk 'n staanplek het. Daar sal nie steekvlieë wees nie, sodat jy kan weet dat Ek, die Here, hier in die land is. 23Ek sal onderskeid maak tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.” ’ ”
24Die Here het dit toe so gedoen. Digte swerms steekvlieë het die paleis van die farao en die huise van sy amptenare binnegedring. In die hele Egipteland het die land skade gely as gevolg van die steekvlieë. 25Die farao het Moses en Aäron ontbied en gesê: “Gaan, offer vir julle God in die land!” 26Maar Moses het geantwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want dit is afstootlik vir die Egiptenare wanneer ons vir die Here ons God offer. As ons dit wat afstootlik is vir die Egiptenare voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie? 27Ons wil drie dagreise ver die woestyn ingaan om vir die Here ons God te offer, soos Hy vir ons sê.”
28Daarop het die farao gesê: “Ek sal julle laat gaan, dat julle vir die Here julle God in die woestyn kan offer. Julle mag net nie te ver weggaan nie. En pleit vir my!” 29Moses het toe gesê: “Kyk, wanneer ek van u af weggaan, sal ek by die Here pleit dat die steekvlieë môre van die farao, sy amptenare en van sy volk af padgee. Mag dit net nie so wees dat die farao weer die spot dryf deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie.”
30Moses het van die farao af weggegaan en by die Here gepleit. 31Die Here het toe volgens Moses se versoek opgetree: Die steekvlieë het van die farao, sy amptenare, en van sy volk af padgegee. Daar het nie een oorgebly nie. 32Maar die farao was ook hierdie keer onversetlik, en het die volk nie laat gaan nie.