Moses en Aäron voor die farao
1Hierna het Moses en Aäron gegaan en vir die farao gesê: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Laat my volk gaan, sodat hulle vir My 'n fees kan hou in die woestyn.’ ” 2Maar die farao het gesê: “Wie is die Here, dat ek na sy stem moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie die Here nie, en Israel sal ek ook nie laat gaan nie.” 3Toe sê hulle: “Die God van die Hebreërs het Hom aan ons bekend gemaak. Laat ons asseblief drie dagreise in die woestyn ingaan, sodat ons aan die Here ons God kan offer; anders tref Hy ons met pessiekte of die swaard.” 4Maar die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Waarom, Moses en Aäron, hou julle die mense uit hulle werk? Gaan terug na julle dwangarbeid!” 5Die farao het gedink, kyk, die mense van die land is nou reeds baie, en julle hou hulle uit hulle dwangarbeid.
6Die farao het nog dieselfde dag die volk se slawedrywers en opsieners beveel: 7“Julle mag nie soos voorheen voortgaan om vir die volk strooi te gee om bakstene te maak nie. Hulle moet nou self gaan om vir hulle strooi bymekaar te maak. 8Maar dieselfde hoeveelheid bakstene wat hulle voorheen gemaak het, moet julle steeds van hulle vereis. Julle mag dit nie inkort nie, want hulle is luiaards. Dit is waarom hulle uitroep, ‘Ons wil gaan, ons wil aan ons God offer!’ 9Die werk moet so swaar druk op die manne dat hulle daarmee besig bly en nie aandag gee aan 'n klomp leuens nie.”
10Die volk se slawedrywers en opsieners het uitgegaan en vir die volk gesê: “So sê die farao, ‘Ek gee vir julle geen strooi nie. 11Gaan kry self vir julle strooi waar julle dit ook al mag vind; maar julle werk word geensins verminder nie.’ ” 12Die volk het toe oor die hele Egipteland uitgegaan om stoppels in die plek van die strooi bymekaar te maak. 13Die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: “Maak julle werk klaar, die taak vir elke dag, soos toe daar strooi was.”
14Die opsieners van die Israeliete wat die slawedrywers van die farao oor hulle aangestel het, is geslaan. “Waarom het julle nie ook vandag, soos voorheen, julle kwota bakstene gemaak nie?” 15Die opsieners van die Israeliete het toe na die farao gegaan en uitgeroep: “Waarom maak u so met u dienaars? 16Geen strooi word vir u dienaars gegee nie, maar oor die bakstene sê hulle vir ons, ‘Maak dit!’ Kyk, u dienaars word geslaan, maar die fout lê by u mense.” 17Hy het geantwoord: “Julle is luiaards, luiaards! Daarom sê julle, ‘Ons wil gaan; ons wil aan die Here gaan offer.’ 18Gaan werk dan nou! Strooi sal nie aan julle voorsien word nie, maar die vaste getal bakstene moet julle lewer.”
19Die opsieners van die Israeliete sien toe dat hulle in die moeilikheid is, omdat daar vir hulle gesê is: “Julle mag julle bakstene, die taak vir elke dag, nie verminder nie.” 20Toe hulle van die farao af weggaan, kom hulle op Moses en Aäron af, wat vir hulle staan en wag. 21Hulle sê toe vir hulle: “Mag die Here julle raaksien en oor julle oordeel, omdat julle ons aanstootlik gemaak het in die oë van die farao en sy amptenare, deur 'n swaard in hulle hand te plaas om ons dood te maak.”
22Moses het toe weer na die Here gegaan en gesê: “My Heer, waarom behandel U hierdie volk sleg? Waarom het U juis vir my gestuur? 23Vandat ek by die farao aangekom het om in u Naam te praat, het hy hierdie volk sleg behandel, en U het glad nie u volk gered nie.” 24Die Here het toe vir Moses gesê: “Nou sal jy sien wat Ek aan die farao gaan doen; want, gedwing deur 'n sterk hand, sal hy hulle laat gaan; ja, gedwing deur 'n sterk hand, sal hy hulle uit sy land wegjaag.”