Israel se sonde met die goue kalf
1Toe die volk merk dat Moses lank neem om van die berg af te kom, het die volk by Aäron byeengekom en vir hom gesê: “Komaan, maak vir ons gode wat voor ons uit kan gaan; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat met hom gebeur het nie.”
2Aäron sê toe vir hulle: “Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, seuns en dogters is, en bring dit vir my.”
3Die hele volk het toe die goue ringe wat aan hulle ore was, afgeruk, en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit uit hulle hand aanvaar. Toe het hy dit met 'n stilus vorm gegee en 'n gegote kalf daarvan gemaak. Hulle sê toe: “Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.”
5Toe Aäron sien wat gebeur, het hy 'n altaar voor die beeld gebou. Aäron roep toe uit en sê: “Môre is daar 'n fees vir die Here!” 6Hulle het vroeg die volgende dag opgestaan, •brandoffers geoffer en •maaltydoffers nadergebring. Die volk het gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om hulleself te vermaak.
7Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het hulle wangedra. 8Hulle het gou weggedraai van die pad wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle 'n gegote kalf gemaak; hulle het voor die kalf in aanbidding gebuig en offers daarvoor gebring. Hulle het gesê, ‘Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.’ ”
9Die Here het ook vir Moses gesê: “Ek het hierdie volk deurgekyk – hulle is inderdaad 'n hardnekkige volk. 10Laat My dan nou met rus, sodat my toorn teen hulle kan ontbrand en Ek hulle kan vernietig. Ek sal jou dan 'n groot nasie maak.”
11Moses het egter die Here sy God goedgesind probeer stem en gesê: “Waarom, Here, moet u toorn brand teen u volk vir wie U uit Egipteland gelei het met groot krag en 'n sterk hand? 12Waarom sou die Egiptenare sê, ‘Met 'n bose plan het Hy hulle uitgelei, om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af uit te delg’? Laat vaar u brandende toorn en kry tog spyt oor die onheil teen u volk! 13Dink aan Abraham, Isak en Israel, u diensknegte vir wie U by Uself gesweer en vir hulle gesê het, ‘Ek sal julle nageslag so baie laat word soos die sterre aan die hemelruim; en hierdie hele land wat Ek gesê het Ek vir julle nageslag sal gee, sal hulle vir altyd as erfdeel ontvang.’ ” 14Die Here het toe spyt gekry oor die onheil wat Hy gesê het Hy sy volk sou aandoen.
15Moses het omgedraai en van die berg afgegaan met die twee tafels met die Getuienis in sy hand, tafels waarop aan al twee kante geskryf was; op die voorkant en op die agterkant was daar geskryf. 16Die tafels, dit was God se werk, en die skrif, dit was God se skrif, gegraveer op die tafels.
17Josua het die geluide van die volk gehoor toe hulle skreeu. Hy sê toe vir Moses: “Daar kom oorlogsgeluide uit die kamp.” 18Maar hy het geantwoord:
“Dit is nie die klank van liedere
ná 'n oorwinning nie,
ook nie die klank van liedere
ná 'n nederlaag nie;
die klank van sang,
dit is wat ek hoor.”
19Toe hy naby die kamp kom en die kalf en die kringdanse sien, het Moses kwaad geword. Hy het die kliptafels wat in sy hande was, neergesmyt en dit aan die voet van die berg verpletter. 20Hy het die kalf wat hulle gemaak het, gevat, dit verbrand en dit fyngestamp, totdat dit soos poeier was. Toe het hy dit op die water uitgestrooi en die Israeliete dit laat drink.
21Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het?” 22Aäron het geantwoord: “Die toorn van my heer moet tog nie ontbrand nie. U ken self die volk, dat hulle tot kwaad geneig is. 23Hulle het vir my gesê, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ 24Ek het toe vir hulle gesê, ‘Wie goud het, ruk dit af!’ Hulle het dit vir my gegee en ek het dit in die vuur gegooi; en toe kom hierdie kalf daar uit.”
25Moses het gesien dat die volk losbandig is, want Aäron het hulle losbandig laat word, sodat hulle 'n bespotting by hulle teenstanders geword het. 26Moses het toe by die ingang na die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het by hom byeengekom. 27Hy sê toe vir hulle: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Maak elkeen van julle sy swaard aan sy heup vas! Beweeg heen en weer deur die kamp, van ingang tot ingang, en bring elkeen van julle sy broer en sy vriend en sy bloedverwant om die lewe!’ ”
28Die Leviete het toe gemaak soos Moses gesê het, en daar het daardie dag ongeveer drieduisend man van die volk geval. 29Moses het gesê: “Julle het julle vandag aan die Here gewy, omdat elkeen van julle teen sy seun en sy broer was. Dit bring vandag 'n seën oor julle.”
30Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n groot sonde gedoen. Daarom moet ek nou na die Here opklim; miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.” 31Moses het toe na die Here teruggekeer en gesê: “Ag, hierdie volk het 'n groot sonde gedoen. Hulle het vir hulle 'n god van goud gemaak. 32As U nou maar hulle sondes sal vergewe! Maar as U nie wil nie, wis my dan maar uit u •boekrol wat U geskryf het, uit.”
33Die Here het egter vir Moses gesê: “Wie ook al teen My gesondig het, hom sal Ek uit my boekrol uitwis. 34Gaan dan nou, lei die volk na die plek waaroor Ek met jou gepraat het. Kyk, my engel gaan voor jou uit. Maar die dag wanneer Ek rekenskap eis, sal Ek hulle tot verantwoording roep oor hulle sonde.”
35Die Here het die volk met 'n plaag getref oor die kalf wat hulle gemaak het, die kalf wat Aäron gemaak het.