1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“Praat met die Israeliete, sodat hulle van rigting verander en kamp opslaan voor Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle kamp opslaan by die see. 3Die farao sal dan van die Israeliete dink, hulle dwaal verward rond in die land; die woestyn omsluit hulle. 4Ek sal die farao se hart verhard en hy sal hulle agtervolg, sodat Ek deur my optrede teenoor die farao en sy hele leër, agting kan afdwing, en sodat die Egiptenare sal weet dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe so gemaak.
5Toe daar aan die koning van Egipte berig gebring is dat die volk gevlug het, het die farao en sy amptenare van besluit verander oor die volk. Hulle het gesê: “Wat het ons besiel dat ons Israel uit ons diens laat gaan het?” 6Hy het sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem. 7Hy het seshonderd uitgesoekte strydwaens geneem, asook al die ander strydwaens van Egipte, met 'n offisier op elkeen van hulle. 8Die Here het die hart van die farao, die koning van Egipte, verhard, en hy het die Israeliete agtervolg, terwyl die Israeliete, gelei deur 'n verhewe hand, uitgetrek het.
9Die Egiptenare het hulle agtervolg. Die hele strydwamag van die farao, sy bemanning en sy leërmag het hulle ingehaal waar hulle by die see besig was om kamp op te slaan by Pi-Hagirot voor Baäl-Sefon. 10Toe die farao nader kom, kyk die Israeliete op, en daar is die Egiptenare besig om teen hulle op te ruk! Hulle was angsbevange. Die Israeliete roep toe na die Here om hulp, 11en sê vir Moses: “Is dit omdat daar geen grafte in Egipte is nie, dat jy ons saamgeneem het om in die woestyn te sterf? Wat het jy ons aangedoen deur ons uit Egipte uit te lei! 12Is dit nie presies waaroor ons met jou in Egipte gepraat het nie, toe ons gesê het, ‘Laat ons met rus, sodat ons vir die Egiptenare kan werk! Dit is immers vir ons beter om vir die Egiptenare te werk as om in die woestyn te sterf.’ ”
13Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit weer sien nie. 14Die Here self sal vir julle veg. Julle moet net stil bly.”
15Die Here het vir Moses gesê: “Wat roep jy na My? Praat met die Israeliete, sodat hulle verder trek. 16En jy, lig jou staf op, strek jou hand uit oor die see en kloof dit oop, sodat die Israeliete op droë grond in die middel van die see kan ingaan. 17En wat My betref, kyk, Ek gaan die hart van die Egiptenare verhard, sodat hulle agter hulle ingaan. Dan sal Ek agting afdwing deur my optrede teenoor die farao en sy hele leër, sy strydwaens en bemanning. 18Die Egiptenare sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek agting afdwing deur my optrede teenoor die farao, sy strydwaens en bemanning.”
19Die •Engel van God, wat die hele tyd voor die leër van Israel uit getrek het, het toe agter hulle in beweeg. Die wolkkolom het ook van voor hulle weggeskuif en agter hulle plek ingeneem. 20Dit het tussen die leër van Egipte en die leër van Israel ingeskuif. Die wolk het daar gebly en toe dit donker word, het dit die nag verlig. Maar die hele nag lank het die een nie nader aan die ander beweeg nie.
21Moses het sy hand oor die see uitgestrek, en die Here het met 'n sterk oostewind, wat die hele nag lank gewaai het, die see laat terugtrek. Hy het die see droë grond gemaak; die water is oopgekloof. 22Die Israeliete het op droë grond in die middel van die see ingegaan, terwyl die water vir hulle 'n muur aan hulle linker- en regterkant was. 23Die Egiptenare het hulle agtervolg, en al die perde van die farao, sy strydwaens en bemanning het agter hulle ingegaan na die middel van die see. 24Teen die laaste nagwaak het die Here uit die vuurkolom en die wolk afgekyk na die leër van Egipte. Toe het Hy verwarring veroorsaak in die leër van die Egiptenare. 25Hy het die wiele van hulle strydwaens laat vasval, sodat hulle met moeite vorentoe kon beweeg. Toe sê die Egiptenare: “Ons moet van Israel af wegvlug, want die Here self veg vir hulle teen Egipte.”
26Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit oor die see, sodat die water terugstroom oor die Egiptenare, oor hulle strydwaens en die bemanning.” 27Moses het sy hand uitgestrek oor die see, en die see het teen die oggend na sy gewone plek teruggestroom. Die Egiptenare het gevlug vir die naderende water. Maar die Here het die Egiptenare in die middel van die see gewerp. 28Toe die water terugstroom, het dit die strydwaens en bemanning van die farao se hele leër wat agter die Israeliete in die see ingegaan het, verswelg. Nie eers een van hulle het oorgebly nie. 29Die Israeliete het deur die middel van die see op droë grond getrek, terwyl die water vir hulle 'n muur was aan hulle linker- en regterkant.
30Die Here het Israel op daardie dag uit die hand van die Egiptenare verlos. Israel het die Egiptenare dood sien lê aan die kant van die see. 31Toe Israel die magtige daad sien wat die Here teen Egipte gedoen het, het die volk vir die Here ontsag gehad en hulle vertroue in die Here en in sy dienskneg, Moses, gestel.