Ester 5
Ester se versoek aan die koning
1Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koninklike paleis voor die troonsaal gaan staan, terwyl hy op sy koninklike troon in die troonsaal regoor die ingang sit. 2Die oomblik toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns gevind in sy oë. Hy het die goue septer in sy hand na haar uitgesteek. Sy het nader gegaan en die punt van die septer aangeraak. 3Die koning sê toe vir haar: “Wat is dit, koningin Ester? Wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” 4Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat u en Haman vandag na die feesmaal kom wat ek vir u voorberei het.” 5Die koning het beveel: “Laat Haman dadelik kom sodat ons kan voldoen aan Ester se versoek.” Die koning en Haman het toe na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het. 6Terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: “Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” 7Ester het toe geantwoord en gesê: “My versoek en my wens is: 8As die koning my goedgesind is, en as u dit goedvind om aan my versoek te voldoen en my wens toe te staan, laat die koning en Haman kom na die feesmaal wat ek vir hulle sal voorberei. Môre sal ek doen wat die koning vra.”
Beplanning van Mordegai se dood
9Haman het op daardie dag bly en in 'n opgeruimde stemming weggegaan. Maar toe Haman vir Mordegai in die koningspoort gewaar en sien dat Mordegai nie uit respek vir hom opstaan en bewe van vrees vir hom nie, het Haman woedend geword vir Mordegai. 10Maar Haman het homself bedwing en huis toe gegaan. Hy het sy vriende en sy vrou, Seres, laat kom 11en by hulle gespog oor sy oorvloedige rykdom, sy baie seuns, en al die maniere waarop die koning hom vereer en bevorder het bo die ander •hoë amptenare en dienaars van die koning. 12“Maar dit is nog nie al nie,” het Haman gesê. “Ek is die enigste persoon vir wie koningin Ester genooi het om saam met die koning na die feesmaal te gaan wat sy voorberei het. En ek is ook môre saam met die koning na haar genooi. 13Maar dit alles baat my niks solank as wat ek vir Mordegai, die Jood, in die koningspoort sien sit nie.” 14Seres, sy vrou, en al sy vriende het vir hom gesê: “Laat hulle 'n paal gereedmaak, vyftig el hoog. Praat môre met die koning hieroor, sodat hulle Mordegai daaraan hang. Daarna kan jy opgeruimd saam met die koning na die feesmaal gaan.” Haman het van hierdie voorstel gehou en die paal gereedgemaak.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.