Hiskia koning van Juda
1In die derde regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskia, seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. 2Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. 3Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. 4Hy is die een wat die offerhoogtes verwyder het, die gedenkstene stukkend gebreek en die asjera afgekap het. Hy het die koperslang wat Moses gemaak het, verbrysel, want tot in daardie tyd het die Israeliete daarvoor offers verbrand. Die mense het dit Negustan genoem. 5Op die Here, die God van Israel, het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom daar was nie. 6Hy het aan die Here vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die Here Moses beveel het, nagekom. 7Die Here was met hom. In al die veldtogte wat hy onderneem het, het hy sukses behaal. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. 8Dit is hy wat die Filistyne verslaan het – van wagtoring tot versterkte stad, so ver as Gasa en die grondgebied daaromheen.
Inname van Samaria
9In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia – dit was die sewende regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel – het Salmaneser, die koning van Assirië, teen Samaria opgetrek en dit beleër. 10En ná verloop van drie jaar het hy dit ingeneem. In die sesde regeringsjaar van Hiskia – dit was die negende regeringsjaar van Hosea, die koning van Israel – is Samaria ingeneem. 11Die koning van Assirië het Israel weggevoer in ballingskap na Assirië, en hulle in Galag en aan die Gabor, die rivier van Gosan, hervestig, en ook in die dorpe van Medië. 12Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die stem van die Here hulle God nie en sy verbond oortree het – alles wat Moses, die dienskneg van die Here beveel het. Hulle het nie geluister nie en dit nie uitgevoer nie.
Beleëring van Jerusalem deur Sanherib
13In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia, het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en hulle verower. 14Hiskia, koning van Juda, het toe vir die koning van Assirië by Lagis laat weet: “Ek het verkeerd opgetree, draai van my af weg! Wat u my oplê, sal ek dra.” Die koning van Assirië het toe van Hiskia, koning van Juda, driehonderd kikkar silwer en dertig kikkar goud geëis. 15Hiskia het toe al die silwer oorhandig wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis te vinde was. 16In dieselfde tyd het Hiskia die deure van die Here se •tempel afgestroop – die goue beslag waarmee Hiskia, koning van Juda, dit oorgetrek het. Hy het dit aan die koning van Assirië oorhandig.
17Die koning van Assirië stuur toe die tartan, die rabsaries en die rabsakee met 'n groot leërmag vanaf Lagis na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het opgetrek en by Jerusalem aangekom. Nadat hulle opgetrek en daar aangekom het, het hulle stelling ingeneem by die watervoor van die boonste dam wat aan die pad na die Bleikveld geleë is, 18en die koning ontbied. Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, het uitgegaan na hulle toe, asook Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf, die herout. 19Die rabsakee sê toe vir hulle: “Sê tog vir Hiskia, ‘So sê die opperkoning, die koning van Assirië: “Wat is hierdie bron van vertroue waarop jy staatmaak? 20Jy dink sekerlik lippetaal is 'n taktiek en 'n kragtige wapen vir die oorlog. Op wie vertrou jy dan nou dat jy teen my in opstand is? 21Jy stel sowaar nou jou vertroue op Egipte, hierdie geknakte rietstaf wat in 'n mens se handpalm steek en dit deurboor wanneer jy daarop leun. So is die farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou. 22En as julle vir my sou sê, ‘Op die Here ons God vertrou ons’? Is Hy dan nie die Een wie se offerhoogtes en altare Hiskia verwyder het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het, ‘Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle in aanbidding buig!’ nie?” ’
23“Daarom, gaan gerus 'n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië. Ek sal jou tweeduisend perde gee, as jy in staat is om ruiters vir hulle te voorsien. 24Hoe sal jy net een •streekgoewerneur kan terugdryf, een van die onbelangrikste dienaars van my heer, wanneer jy jou vertroue stel op Egipte vir 'n strydwamag en perde? 25‘Daarom’, het my heer gesê, ‘het ek sonder die Here se medewete teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Dit is die Here wat vir my gesê het: “Trek op teen hierdie land en verwoes dit!” ’ ”
26Eljakim, seun van Gilkija, asook Sebna en Joag, sê toe vir die rabsakee: “Praat asseblief •Aramees met u dienaars, want ons verstaan dit. Moenie met ons Judees praat ten aanhore van die manskappe wat op die stadsmuur is nie.” 27Maar die rabsakee het vir hulle gesê: “Is dit net na jou heer en na jou wat my heer my gestuur het om hierdie dinge te sê? Is dit nie ook na die manne wat op die stadsmuur sit nie, wat saam met julle hulle ontlasting sal eet en hulle urine sal drink?” 28Toe gaan staan die rabsakee en roep met 'n harde stem in Judees uit en sê: “Luister na die woord van die opperkoning, die koning van Assirië! 29So sê die koning, ‘Moenie dat Hiskia julle bedrieg nie, want hy sal julle nie uit my hand kan red nie. 30Moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou deur te sê: “Die Here sal ons beslis red, en hierdie stad sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” ’ 31Julle moet nie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië, ‘As julle met my 'n ooreenkoms aangaan en uitkom na my toe, sal elkeen van sy wingerdstok en sy vyeboom eet, en elkeen water uit sy eie opgaarput drink, 32totdat ek kom en julle neem na 'n land soos julle land – 'n land met koring en •nuwe wyn, 'n land met brood en wingerde, 'n land met olyfbome, olie en heuning. Julle sal leef en nie sterf nie. Julle moet nie na Hiskia luister nie, want hy mislei julle deur te sê: “Die Here sal ons red!” 33Het enige van die gode van die nasies ooit sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? 34Waar was die gode van Hamat en Arpad? Waar was die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon húlle Samaria uit my hand red? 35Wie was daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die Here dan Jerusalem uit my hand sal red?’ ” 36Die manskappe het egter stilgebly en hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie, want die bevel van die koning was: “Julle moet hom nie antwoord nie!”
37Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf en herout, het by Hiskia aangekom met geskeurde klere, en aan hom die woorde van die rabsakee meegedeel.