Dawid en Saul op die heuwel van Hagila
1Die Sifiete het by Saul in Gibea gekom en gesê: “Hou Dawid hom nie skuil op die heuwel van Hagila in die omgewing van Jesimon nie?” 2Saul het toe gereedgemaak en afgetrek na die woestyn van Sif. By hom was daar drieduisend man, uitgesoektes van Israel, om na Dawid in die woestyn van Sif te soek. 3Saul het op die heuwel van Hagila wat in die omgewing van Jesimon langs die pad lê, kamp opgeslaan.
Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy merk dat Saul agter hom aan is in die woestyn, 4het hy verkenners uitgestuur, en uit betroubare inligting agtergekom dat Saul daar aangekom het. 5Dawid het gereedgemaak en na die plek gegaan waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid sien toe die plek waar Saul en Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van sy leër, lê. Saul het in die oornagkamp gelê, en die manskappe het rondom hom gekamp.
6Daarop reageer Dawid toe en vra vir Agimeleg, die Hetiet, en vir Abisai, 'n seun van Seruja en broer van Joab: “Wie gaan saam met my af na Saul, na die kamp toe?” Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou afgaan.”
7Dawid en Abisai het in die nag tot by die manskappe gekom, en sowaar, daar lê Saul vas aan die slaap in die oornagkamp, met sy vegspies in die grond gesteek by sy kop, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê. 8Abisai sê toe vir Dawid: “God het vandag jou vyand in jou hand oorgelewer. Laat ek hom tog nou met die vegspies in die grond vaspen met een steek. Ek sal dit nie 'n tweede keer hoef te doen met hom nie.”
9Maar Dawid sê vir Abisai: “Moet hom nie uitwis nie. Want wie kan sy hand teen die gesalfde van die Here uitsteek en onskuldig wees?” 10Verder sê Dawid: “So waar as die Here leef, die Here sal hom tref; óf sy dag sal kom en hy sal gewoon sterf, óf hy sal aftrek in die oorlog en weggevee word. 11Mag die Here my daarvan weerhou dat ek ooit my hand teen die gesalfde van die Here lig! Maar vat nou die vegspies wat by sy kop is en die waterkruik, en laat ons padgee.”
12Dawid het die vegspies en die waterkruik by Saul se kop gevat, en hulle het padgegee. Niemand het iets gesien of iets agtergekom of wakker geword nie; maar almal van hulle was aan die slaap, omdat 'n diep slaap, beskik deur die Here, hulle oorval het.
13Dawid het oorgegaan na die oorkant en ver weg op die top van die heuwel gaan staan. Daar was 'n groot afstand tussen hulle. 14Dawid roep toe na die manskappe en na Abner, seun van Ner: “Antwoord jy dan nie, Abner?” Waarop Abner toe antwoord: “Wie is jy wat op die koning skreeu?”
15Dawid sê toe vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? En wie is jou gelyke in Israel? Waarom het jy dan nie jou heer, die koning, opgepas nie? Want een van die manskappe het ingekom om die koning, jou heer, uit te wis. 16Hierdie ding wat jy gedoen het, is nie goed nie. So waar as die Here leef, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het by julle heer, die gesalfde van die Here nie. Kyk nou 'n bietjie: Waar is die vegspies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was?”
17Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jou stem, my seun Dawid?” Waarop Dawid toe antwoord: “Dit is my stem, my heer die koning.” 18Verder sê hy: “Waarom agtervolg my heer sy dienaar? Ja, wat het ek gedoen? Watter kwaad kleef aan my hande?
19“Daarom moet my heer die koning asseblief na die woorde van sy dienaar luister: As dit die Here is wat u teen my aangehits het, laat Hy die geur van 'n •graanoffer ruik. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die Here, want hulle het my vandag verdryf, weg van deelname aan die erfenis van die Here deur te sê, ‘Gaan dien ander gode!’ 20Laat my bloed dan nou nie op die aarde val nie, ver van die teenwoordigheid van die Here. Want die koning van Israel het uitgetrek om na een vlooi te soek soos iemand wat agter 'n patrys aan is in die bergwêreld.”
21Toe sê Saul: “Ek het gesondig! Kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou nie meer kwaad aandoen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë. Kyk, ek het dwaas opgetree en die spoor heeltemal byster geraak.”
22Dawid het geantwoord en gesê: “Hier is die vegspies van die koning; laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal. 23Die Here is die Een wat die mens beloon vir sy regverdigheid en sy getrouheid, die Here wat u vandag in my hand oorgegee het. Maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die Here uitsteek nie. 24Kyk, soos u lewe vandag kosbaar was in my oë, mag my lewe so kosbaar wees in die oë van die Here, en mag Hy my red uit alle nood.”
25Saul sê toe vir Dawid: “Mag jy geseënd wees, my seun Dawid. Jy sal nie net baie vermag nie, maar beslis ook seëvier.”
Daarna het Dawid sy koers gegaan, en Saul het teruggekeer na sy woonplek.