Hanna se gebed
1Hanna het gebid en gesê:
“My hart juig in die Here,
ek is sterk in die Here.
Ek maak my mond wyd oop
teenoor my vyande,
want ek verheug my in u verlossing.
2“Niemand is heilig soos die Here nie,
ja, daar is niemand buiten U nie;
daar is geen rots soos ons God nie.
3Julle moet nie verwaand bly praat nie,
nie vermetele woorde
oor julle lippe laat kom nie;
want 'n God van kennis is die Here;
deur Hom word dade geweeg.
4“Die boë van helde is verpletter,
maar dié wat struikel,
omgord hulleself met krag.
5Hulle wat versadig was,
verhuur hulleself vir brood,
maar hulle wat honger was,
het oorvloed.
Selfs die onvrugbare
gee geboorte aan sewe,
maar die vrou met baie seuns
kwyn weg.
6“Die Here maak dood
en Hy maak lewend;
Hy laat na die •doderyk afdaal
en Hy laat daaruit opkom.
7Die Here maak arm
en Hy maak ryk;
Hy verneder,
ook verhoog Hy.
8Hy laat armes uit die stof opstaan,
van die ashoop af
hef Hy behoeftiges op
om hulle by vooraanstaandes te laat sit
en 'n ereplek hulle erfdeel te maak.
Ja, aan die Here behoort die fondamente
van die aarde,
Hy het die wêreld daarop geplaas.
9“Die voete van sy troue volgelinge
beskerm Hy,
maar goddeloses –
in duisternis word hulle vernietig.
“Ja, dit is nie deur krag
dat iemand seëvier nie.
10Die Here –
wie teen Hom te staan kom,
word verpletter;
oor hulle laat Hy dit dreun
uit die hemel.
Die Here spreek reg tot by
die uithoeke van die aarde.
Hy gee krag aan sy koning,
Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”
11Daarna het Elkana na Rama gegaan, na sy huis toe. Die seuntjie was egter in diens van die Here onder toesig van Eli, die priester.
Eli se seuns
12Eli se seuns was deugniete. Hulle het die Here nie geken nie. 13Die reg van die priesters teenoor die volk was so dat, wanneer enigiemand 'n offer slag, die priester se handlanger met 'n drietandvurk in sy hand kom terwyl die vleis kook. 14Dan steek hy dit in die kastrol, pot, kookpot of erdepot. Alles wat die vurk optrek, neem die priester daarmee weg. So het hulle gewoonlik gemaak met die hele Israel wat daar in Silo aangekom het.
15Maar selfs voordat die vet verbrand is, het die priester se handlanger gekom en vir die man wat slag, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai. Hy sal nie gekookte vleis van jou aanvaar nie, net rou vleis.” 16As die man vir hom sê, “Laat hulle net eers die vet heeltemal verbrand, dan kan jy vir jou vat wat jy graag wil hê,” dan antwoord hy: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld!”
17Hierdie sonde van die jong manne was baie groot in die oë van die Here, want die manne het die offer aan die Here met minagting behandel.
Samuel se familie
18Samuel het voor die Here diens gedoen – 'n seuntjie wat 'n efod van linne aangehad het 19en 'n klein manteltjie wat sy moeder vir hom gemaak en vir hom geneem het wanneer sy jaar ná jaar saam met haar man opgegaan het om die jaarlikse offer te slag. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën. Hy het gesê: “Mag die Here vir jou uit hierdie vrou 'n nageslag vestig in die plek van hom wat van die Here gevra is.” Daarna het hulle na hulle woonplek gegaan.
21Omdat die Here na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee.
Maar die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.
Veroordeling van Eli se seuns
22Eli was al baie oud. Toe hy hoor wat sy seuns alles aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat diens doen by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, 23sê hy vir hulle: “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? 24Nee, my seuns! Want die gerug wat ek hoor besig is om onder die volk van die Here te versprei, is nie goed nie. 25As een mens teen 'n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die Here is wat 'n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?” Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die Here wou hulle om die lewe bring. 26Die seuntjie Samuel, daarenteen, het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.
27'n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “So sê die Here, ‘Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou voorvader toe hulle in Egipte onderdanig was aan die huis van die farao nie? 28En het Ek hom nie vir My as priester gekies uit al die stamme van Israel om op te gaan na my altaar, om reukwerk te brand, en om die efod te dra in my teenwoordigheid nie? Ek het aan die familie van jou voorvader al die offergawes van die Israeliete gegee. 29Waarom vertrap julle my slagoffers en •graanoffers wat Ek vir my woning beveel het? Jy betoon meer eer aan jou seuns as aan My deur julleself vet te maak met die keur van al die graanoffers van Israel, my volk.’
30“Daarom is die uitspraak van die Here, die God van Israel, ‘Ek het uitdruklik gesê: “Jou huis en die huis van jou vader sal vir altyd in my teenwoordigheid diens doen.” ’ Maar nou is die uitspraak van die Here, ‘Ek sal dit nooit toelaat nie! Want mense wat My eer, sal Ek eer; maar mense wat My minag, sal veragtelik wees.
31“ ‘Kyk, die tyd kom dat Ek jou mag en die mag van jou vader se huis sal kortknip, sonder dat daar 'n bejaarde in jou huis sal wees. 32Jy sal met angs, met jaloesie, al die goeie wat Hy aan Israel doen, moet aanskou, terwyl daar nooit meer 'n bejaarde in jou huis sal wees nie. 33En as Ek iemand wat aan jou behoort van my altaar nie afsny nie, sal dit net wees om jou oë te laat verdof en jou lewenskrag te laat wegkwyn. En almal wat by jou huis gevoeg word, sal deur die swaard van mense sterf. 34En dit wat met jou twee seuns Hofni en Pinehas sal gebeur, sal reeds vir jou 'n teken wees: Op een dag sal hulle albei sterf.
35“ ‘Ek sal vir My 'n betroubare priester aanstel wat volgens my wil en wens sal optree. Ek sal vir hom 'n bestendige huis bou, sodat hy altyd voor my gesalfde sal diens doen. 36En elkeen wat oorbly in jou familie, sal kom om diep voor hom te buig vir 'n stukkie silwer en 'n ronde brood. En hulle sal sê: “Stel my asseblief aan by een van die priesterlike take, sodat ek 'n stukkie brood het om te eet.” ’ ”