Die silwer trompette
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet twee silwer trompette maak, jy moet hulle maak van silwer wat jy met die hamer slaan. Jy moet hulle gebruik om die volksvergadering te roep om bymekaar te kom en om die Israeliete verder te laat gaan. 3Wanneer iemand altwee die trompette blaas, dan moet die hele volksvergadering by jou bymekaarkom voor die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. 4Wanneer iemand net een trompet blaas, dan moet die leiers by jou bymekaarkom, hulle is die stamhoofde van Israel. 5Wanneer julle die trompette hard blaas, dan moet die Israeliete in die kampe oos van die tempel-tent begin om verder te gaan. 6Wanneer julle 'n tweede maal hard blaas, dan moet die mense in die kampe suid van die tempel-tent begin om verder te gaan. Julle moet hard op die trompette blaas wanneer hulle verder moet gaan. 7Julle moet die trompette blaas om die volksvergadering te roep om bymekaar te kom, maar julle moenie hard blaas nie. 8Die seuns van Aäron, die priesters, moet die trompette blaas. Julle en julle nageslag moet dit altyd so doen. 9Wanneer daar in julle land oorlog kom teen vyande wat vir julle verdruk, dan moet julle hard op die trompette blaas. Julle God die Here sal dan aan julle dink en Hy sal julle red van julle vyande. 10Wanneer julle wil feesvier op julle feesdae en op die eerste dag van die maand, dan moet julle die trompette blaas by julle brand-offers en julle ete-offers. Julle God sal dan aan julle dink. Ek is julle God die Here.”
Die Israeliete gaan uit die Sinai-woestyn
11Die wolk het opgegaan van bo die tent waarin die tien gebooie was. Dit was op die twintigste dag van die tweede maand in die tweede jaar. 12Die Israeliete het toe uit die Sinai-woestyn gegaan en hulle het verder gegaan totdat die wolk gestop het in die Paran-woestyn. 13Hulle het weer verder begin gaan toe die Here vir Moses gesê het hulle moet gaan.
14Iemand het voor geloop en hy het die vlag van die Juda-kamp gedra, en daarna het die groepe wat in die kamp was, gegaan.
Nagson seun van Amminadab
was die hoof
van die Juda-groep.
15Netanel seun van Suar
was die hoof
van die Issaskar-groep.
16Eliab seun van Gelon
was die hoof
van die Sebulon-groep.
17Hulle het die tempel-tent afgeslaan, en die Gerson-familie en die Merari-familie het die tent gedra en ook gegaan.
18Daarna het iemand die vlag van die Ruben-kamp gedra, en daarna het die groepe wat in die kamp was, gegaan.
Elisur seun van Sedeür
was die hoof
van die Ruben-groep.
19Selumiël seun van Suri-Saddai
was die hoof
van die Simeon-groep.
20Eljasaf seun van Deüel
was die hoof
van die Gad-groep.
21Daarna het die Kehat-familie gegaan en hulle het die gewyde dinge gedra. Die priesters het die tempel-tent op die nuwe kampplek opgeslaan voordat die Kehat-familie daar aangekom het.
22Daarna het iemand die vlag van die Efraim-kamp gedra, en daarna het die groepe wat in die kampe was, gegaan.
Elisama seun van Ammihud
was die hoof
van die Efraim-groep.
23Gamliël seun van Pedasur
was die hoof
van die Manasse-groep.
24Abidan seun van Gidoni
was die hoof
van die Benjamin-groep.
25Die laaste vlag was altyd die vlag van die Dan-kamp. Iemand het dit gedra, en daarna het die groepe wat in die kampe was, gegaan.
Agiëser seun van Ammi-Saddai
was die hoof
van die Dan-groep.
26Pagiël seun van Okran
was die hoof
van die Aser-groep.
27Agira seun van Enan
was die hoof
van die Naftali-groep.
28Dit is hoe die Israeliete in groepe gegaan het toe hulle verder gegaan het.
Moses vra vir Gobab om saam te gaan
29Moses het vir Gobab, seun van Moses se skoonpa Reüel van die land Midian, gesê: “Ons gaan nou na die land wat die Here belowe het om vir ons te gee. Jy moet saam met ons kom. Ons sal goed wees vir jou, want die Here het gesê dit sal goed gaan met ons.”
30Gobab het vir Moses gesê: “Nee, ek wil teruggaan na my land en my familie, ek wil nie saam met julle gaan nie.”
31Toe sê Moses: “Asseblief, jy moenie weggaan van ons nie. Jy weet waar ons in die woestyn ons tente kan opslaan en jy moet ons lei. 32As jy saam met ons gaan, dan sal ons vir jou ook van die goeie dinge gee wat die Here vir ons sal gee.”
Die verbondskis gaan voor die Israeliete
33Die Israeliete het weggegaan van die berg van die Here. Hulle het drie dae lank elke dag verder gegaan. Die verbondskis van die Here het drie dae voor hulle gegaan om 'n plek te kry waar hulle kon bly. 34Wanneer die Israeliete uit die kamp gegaan het, dan was die wolk van die Here in die dag oor hulle. 35Wanneer die kis weggegaan het, dan het Moses gesê:
“Here, U moet opstaan,
u vyande moet weghardloop
na al die kante toe,
die mense wat nie lief is
vir U nie,
moet wegvlug.”
36En wanneer die kis op een plek gebly het, dan het Moses gesê:
“Here van die tienduisende
Israeliete,
U moet terugkom.”