Job sê sy vriende beledig hom
1Job het weer gepraat. Hy het gesê:
2“Hoe lank wil julle my nog laat seerkry?
Hoe lank wil julle aanhou om dinge te sê
wat my stukkend trap?
3Julle het my tien maal beledig.
Is julle nie skaam omdat julle
my so verneder nie?
4En ook, as ek verkeerd gedoen het,
dan moet julle dit los,
dit is nie julle probleem nie.
5Julle dink dat julle beter is as ek,
en julle sê dat ek swaarkry omdat ek
verkeerd gedoen het,
6maar julle moet weet dat dit God is
wat my laat swaarkry.
Hy het my in sy vangnet gevang.
7Ek roep en sê Hy maak my seer,
maar Hy antwoord my nie.
Ek skree en vra dat Hy my moet help,
maar Hy doen nie reg aan my nie.
8Hy het my pad toegemaak,
ek kan nie verbygaan nie,
Hy laat my in die donker loop.
9Hy het my verneder,
niemand respekteer my nie.
10Hy laat my swaarkry,
Hy breek my af van al die kante
soos 'n mens 'n muur afbreek,
ek moet sterf.
Ek is soos 'n boom wanneer iemand
dit uit die grond getrek het,
ek kan nie meer hoop dat dit beter
sal gaan nie.
11God is baie kwaad vir my,
Hy maak of ek sy vyand is.
12Sy soldate het almal gekom
om my aan te val,
hulle het hulle tente opgeslaan
rondom my tent.
13God het my familie weggevat van my.
Mense wat ek geken het,
maak of hulle my nie ken nie.
14Mense wat naby my was, het my gelos,
mense wat my geken het, het my vergeet.
15Mense wat by my gewoon het,
en my slavinne
maak of hulle my nie ken nie,
ek is vir hulle soos iemand van 'n ander land.
16Wanneer ek my slaaf roep,
dan antwoord hy my nie,
ek moet hom soebat om iets te doen.
17My vrou hou nie van my asem nie,
my eie kinders sê dat ek stink.
18Jong kinders respekteer my nie,
hulle spot my as ek wil opstaan.
19My beste vriende wil nie naby my kom nie,
ek was lief vir hulle, maar hulle is nou téén my.
20Ek is baie maer, ek is net vel en been,
ek lewe nog, maar my lewe beteken niks.
21Julle wat my vriende is,
julle moet jammer wees vir my.
Julle moet jammer wees vir my,
want die hand van God het my gestraf.
22Hoekom hou julle aan om my te jaag
soos God dit doen?
Julle sien dat ek sleg lyk,
is julle nie nou tevrede nie?”
Job sê hy weet dat sy Losser lewe
23“Ek wens iemand wil opskryf wat ek sê,
ek wens iemand skryf dit in 'n boek.
24Ek wens iemand skryf dit met lood op klip
sodat dit altyd daar is.
25Ek weet een ding is seker: My Losser lewe
en Hy sal wen op hierdie aarde.
26Ek het nie meer vel oor my liggaam nie,
maar ek sal vir God sien terwyl ek nog lewe.
27Ek self sal Hom sien,
ek, en niemand anders nie, sal Hom sien,
dit wil ek baie graag doen.
28Julle sê dat julle my nog meer wil beskuldig
omdat julle dink alles is my eie skuld,
29maar dan moet julle oppas vir die swaard,
God sal mense straf wat verkeerd doen.
Julle sal weet dat Hy die Regter is.”