Die mense van Israel sal terugkom
1Die Here sê:
“Daardie dag sal Ek die God wees
van al die Israeliete,
en hulle sal my volk wees.”
2Die Here sê:
“'n Volk wat nie in 'n oorlog gesterf het nie,
het genade ontvang in die woestyn.
Israel sal kom en hulle sal veilig woon.”
3Die Here het gekom na sy volk wat ver van Hom is. Die Here het gesê:
“Ek was lief vir julle
en Ek sal aanhou
om lief te wees vir julle.
Julle behoort aan My,
daarom hou Ek julle vas.
4Mense van Israel,
julle sal weer kinders kry,
Ek sal vir julle kinders gee.
Julle sal weer tamboeryne dra
en uitgaan om te dans
saam met die ander mense wat bly is.
5Julle sal weer wingerde plant
op die berge van Samaria.
Die boere sal dit plant
en hulle sal eerste van die druiwe eet.
6Ja, die dag het gekom,
die wagte op die berge van Samaria
sal skree en sê:
‘Kom ons gaan na Sion, na ons God die Here toe.’ ”
7Ja, die Here sê:
“Julle moet bly wees en sing,
julle moet juig oor Jakob, die hoof van die volke.
Julle moet hard sing en die Here prys
sodat die mense dit kan hoor.
Julle moet sê: ‘Here, red asseblief u volk,
red die mense van Israel wat nog lewe.’
8Ek sal my volk nou bring
uit die land in die noorde,
Ek sal hulle bymekaarmaak
uit die ver plekke op die aarde.
Daar sal blinde en kreupel mense
tussen hulle wees,
en ook vroue wat babas verwag
en vroue wat besig is om babas te kry.
9Hulle sal huil en kom bid dat Ek
hulle moet help,
en Ek sal hulle lei,
Ek sal hulle op 'n gelyk pad bring,
by waterstrome.
Hulle sal nie op die pad struikel en val nie.
Ek het 'n Vader geword vir Israel,
Efraim is my oudste seun.”
10Volke, julle moet hoor wat die Here sê,
julle moet dit vertel in die lande ver langs die see,
julle moet sê:
“Hy wat die Israeliete gejaag het
na al die kante toe,
Hy sal hulle bymekaarmaak
en Hy sal hulle oppas soos 'n herder
die skape oppas wat aan hom behoort,
11want die Here het die nageslag van Jakob losgekoop
en Hy het hulle vrygemaak
van iemand wat sterker was as hulle.
12Die Israeliete sal kom en sing
op die hoë Sionsberg.
Hulle sal bly wees oor die goeie dinge
wat die Here gee,
oor die koring en die wyn en die olyf-olie,
en oor die lammers en die kalwers.
Hulle sal self wees soos tuine
met baie water,
hulle sal nie meer dors word nie.
13Dan sal die jong vroue weer
bly wees en dans,
en die jongmans en die ou mans
sal saam met hulle dans.
Ek sal hulle rou verander, en hulle sal vrolik wees,
Ek sal hulle lewe verander,
hulle was hartseer,
maar Ek sal hulle bly maak.
14Ek sal die priesters wat nou honger is,
lekker laat eet.
Ek sal my volk genoeg laat eet
van die goeie dinge wat Ek sal gee.”
Dit het die Here gesê. 15Die Here sê:
“Die mense hoor iets in die stad Rama,
hulle hoor dat iemand kla en baie hartseer huil.
Dit is Ragel wat huil oor haar kinders,
sy wil nie hê die mense moet haar troos nie,
sy huil oor haar kinders, want hulle is weg.”
16Die Here sê:
“Jy moenie aanhou huil nie,
want Ek sal vir jou iets gee
omdat jy dit alles gedoen het.”
Dit sê die Here.
“Jou kinders sal terugkom
uit die vyand se land.
17En jy sal weet dat dit later
goed sal gaan met jou,
jou kinders sal terugkom na hulle land.”
Dit sê die Here.
18Ek, Jeremia, het iets gehoor, dit is seker:
dit is Efraim wat soebat en sê:
“U het my geslaan, ek het slae gekry
soos 'n kalf wanneer iemand
hom mak wil maak.
Bring my terug na U toe,
en laat my terugkom,
want U is my God die Here.
19Ek vra dit,
want nadat ek weggegaan het van U,
was ek jammer daaroor.
Ek weet nou beter en ek slaan myself
op my heupe,
want ek is skaam, ek voel sleg,
ek is skaam oor alles wat ek gedoen het
toe ek jonk was.”
20“Die mense sal sê
Efraim is my kind, Ek is die liefste vir hom,
Ek hou die meeste van hom,
want elke maal wanneer Ek teen hom praat,
dan dink Ek nog aan hom
en dan word Ek baie hartseer en ontsteld.
Daarom sal Ek jammer wees vir hom
en Ek sal hom help,
Ek sál dit doen.”
Dit het die Here gesê.
21Julle moet klippe opmekaar pak,
julle moet padtekens maak,
julle moet goed kyk
waar julle moet loop op die pad
waarop julle weggegaan het.
Israeliete, julle moet terugkom
na hierdie stede van julle.
22Hoe lank wil julle nog wag en twyfel?
Julle is mense wat aanhou weggaan.
Want die Here het iets nuut laat gebeur
op die aarde:
Soos 'n vrou wat na haar man toe draai
wanneer hulle dans,
so sal die Israeliete die Here soek
en terugkom na Hom toe.
Die Here sal dit weer goed laat gaan met die mense van Juda
23Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Wanneer Ek dit weer goed laat gaan met die mense van Juda, dan sal hulle in die land Juda en in sy stede weer sê: ‘Gewyde berg, die Here sal jou seën, jy is die berg waar die mense woon wat reg doen.’ 24Al die mense van Juda en sy stede sal saam in Jerusalem woon, die mense wat in die grond werk en ook die wagters wat met hulle skape en bokke na ander plekke trek. 25Ja, Ek gee nuwe krag vir elkeen wat moeg is, Ek laat elkeen wat honger is, meer as genoeg kos kry.
26“Dit is hoekom Ek wakker geword het en gesien het dat die tyd gekom het om mense te red.”
27Die Here sê: “Die tyd sal kom wanneer Ek die mense van Israel en die mense van Juda baie sal laat word. Hulle en hulle diere sal baie word. 28Voorheen wou Ek hulle uitruk en afbreek, omgooi en verwoes en Ek wou dit sleg laat gaan met hulle. Maar nou wil Ek hulle bou en plant. 29Voorheen het die mense gesê: ‘Die pa's het suur druiwe geëet en daarom het die kinders se tande stomp geword.’ Hulle sal nie meer so sê nie. 30Elke mens sal sterf oor die sondes wat hy self gedoen het, elkeen wat suur druiwe eet, se eie tande sal stomp word.”
Die nuwe verbond
31Die Here sê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer Ek 'n nuwe verbond sal maak met die mense van Israel en die mense van Juda. 32Hierdie verbond sal nie wees soos die verbond wat Ek gemaak het met hulle voorvaders nie. Ek het hulle hande gevat om hulle uit die land Egipte te bring. Hulle het my verbond gebreek, maar hulle behoort nog aan My.”
33Die Here sê: “Die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees: Ek sal my wette op hulle harte skryf sodat dit binne-in hulle sal wees. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34Hulle sal nie meer vir mekaar leer of sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal sal My ken, onbelangrike en belangrike mense, want Ek sal hulle sondes vergewe, die dinge wat hulle verkeerd gedoen het, Ek sal nie meer dink aan hulle sondes nie.”
35Die Here gee die son
om in die dag lig te gee,
en in die nag gee Hy die sterre
en die maan om lig te gee.
Hy roer die see sodat die branders
wild word.
Sy Naam is die Here wat oor alles regeer.
36Die Here sê:
“Hierdie dinge sal altyd weer gebeur,
dit sal nooit verdwyn nie.
So sal die nageslag van Israel
ook nooit ophou om vir altyd
'n volk te wees nie.”
37Die Here sê:
“Niemand kan die hemel daarbo
meet nie,
en niemand kan kyk
of die fondamente van die wêreld
reg is nie.
So sal Ek ook nooit
die hele nageslag van Israel los
oor alles wat hulle gedoen het nie.”
38Die Here sê: “Die tyd sal nou kom wanneer hulle die stad van die Here weer sal bou, van die Gananel-toring tot by die Hoek-poort, 39en van die Hoek-poort sal hulle reguit meet tot op die Gareb-heuwel, en dan sal hulle draai na Goa. 40Die hele vallei waar hulle mense begrawe het en waar hulle die altaar-as weggegooi het en die hele stuk grond tot teen die Kedron-vallei sal gewy wees aan die Here, en ook die stuk grond tot by die Perde-poort, oos van die poort. Niemand sal weer die stad verwoes en sy mure afbreek nie.”