Die Here neem vir Elia op na die hemel
1Die tyd het gekom dat die Here vir Elia sou opneem na die hemel, Hy het vir Elia in 'n stormwind opgeneem. Toe Elia en Elisa uit die stad Gilgal uitgaan, 2het Elia vir Elisa gesê: “Jy moet asseblief hier bly, want die Here stuur my na die stad Bet-El.”
Elisa het gesê: “So seker soos die Here lewe en jy lewe, ek sal jou nie alleen los nie.”
Hulle het toe na die stad Bet-El gegaan. 3Daar het profete van Bet-El na Elisa toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Weet jy dat die Here vandag jou meneer sal wegneem van jou?”
Elisa het gesê: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
4Elia het vir hom gesê: “Elisa, jy moet asseblief hier bly, want die Here stuur my na die stad Jerigo.”
Maar Elisa het gesê: “So seker soos die Here lewe en jy lewe, ek sal jou nie alleen los nie.”
Hulle het toe by Jerigo gekom. 5Daar het profete van Jerigo na Elisa toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Weet jy dat die Here vandag jou meneer sal wegneem van jou?”
Elisa het gesê: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
6Elia het vir Elisa gesê: “Jy moet asseblief hier bly, want die Here stuur my na die Jordaan-rivier.”
Elisa het gesê: “So seker soos die Here lewe en jy lewe, ek sal jou nie alleen los nie.”
Hulle het toe verder geloop. 7Elia en Elisa het by die Jordaan-rivier gaan staan, en 50 van die profete het verder weg gestaan. 8Elia het sy bo-kleed geneem en hy het dit opgerol en daarmee op die water geslaan. Toe het daar 'n pad deur die rivier gekom, en Elia en Elisa het op droë grond deur die rivier geloop. 9Terwyl hulle deur die rivier geloop het, het Elia vir Elisa gesê: “Jy moet sê wat ek vir jou moet doen voordat die Here my wegneem van jou.”
Elisa het geantwoord: “Ek wil asseblief ook 'n profeet wees soos jy, maar twee maal beter as ander profete.”
10Toe sê Elia: “Dit is 'n moeilike ding wat jy gevra het. As jy my sien wanneer die Here my wegneem, dan sal jy dit kry, maar as jy my nie sien nie, dan sal jy dit nie kry nie.”
11Terwyl hulle geloop en praat het, het daar skielik 'n oorlogkar en perde van vuur tussen Elia en Elisa gekom, en Elia het in 'n stormwind opgegaan in die lug. 12Elisa het dit gesien, en hy het geskree: “My vader, my vader, jy was vir Israel soos 'n oorlogkar en manne op perde!”
Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy klere in twee stukke geskeur. 13Daarna het hy die bo-kleed opgetel wat afgeval het van Elia, en hy het weer op die wal van die Jordaan-rivier gaan staan. 14Hy neem toe die bo-kleed en hy slaan ook op die water en sê: “Waar is die Here, die God van Elia, waar is Hy?”
En toe Elisa op die water slaan, het daar 'n pad deur die rivier gekom, en Elisa het deur die rivier geloop. 15Daar was profete van Jerigo daar naby, en toe hulle sien wat gebeur, sê hulle: “Elisa is nou 'n profeet soos Elia.”
Hulle het na Elisa toe gekom en hulle het voor hom gebuig. 16Hulle het vir hom gesê: “Luister asseblief, hier is 50 van ons manne, hulle is manne wat weet wat om te doen. Sê asseblief hulle moet jou meneer gaan soek. Miskien het 'n baie sterk wind hom opgetel en hom op een van die berge of in een van die valleie laat val.”
Maar Elisa het gesê: “Nee, hulle moenie gaan nie.”
17Die profete het aangehou om dit vir Elisa te vra, en hy het later nie geweet wat om te doen nie. Hy sê toe: “Goed, stuur hulle.”
Hulle het die 50 manne gestuur, en hulle het drie dae lank na Elia gesoek, maar hulle het hom nie gekry nie. 18Daarna het hulle teruggekom na Elisa toe. Elisa het in Jerigo gebly. Hy het vir hulle gesê: “Ek het gesê julle moenie gaan nie.”
Elisa maak die water van Jerigo gesond
19Die leiers van die stad Jerigo het vir Elisa gesê: “Meneer, jy kan sien dat die stad op 'n mooi plek gebou is, maar die water hier is sleg en dit maak die grond onvrugbaar.”
20Elisa het gesê: “Bring vir my 'n nuwe bak en gooi sout daarin.”
Hulle het die bak en die sout gebring, 21en Elisa het na die plek gegaan waar die water uit die grond kom. Hy het die sout in die water gegooi en gesê: “Die Here sê: Ek maak hierdie water gesond, dit sal nie meer die grond onvrugbaar maak en die plante laat doodgaan nie.”
22Die water het gesond geword soos Elisa gesê het, en dit is tot vandag toe gesond.
Twee beer-wyfies maak die kinders dood wat vir Elisa spot
23Elisa het van die stad Jerigo na die stad Bet-El gegaan. Terwyl hy op die pad daarnatoe geloop het, het daar seuntjies uit die stad gekom. Hulle het hom gespot en gesê: “Loop, kaalkop! Loop, kaalkop!”
24Elisa het omgedraai en hy het vir hulle gesê dat die Here hulle sal straf. En toe kom daar twee beer-wyfies uit die bos en hulle maak 42 van die seuntjies dood.
25Elisa het van Bet-El na Karmel-berg gegaan en daarna het hy teruggegaan na Samaria.