Die groot Paasfees
1Josia het die Paasfees vir die Here in Jerusalem gevier. Hulle het die paas-lammers geslag op die veertiende dag van die eerste maand. 2Josia het die priesters gekies en aangestel en elkeen het sy werk gekry wat hy moes doen. Josia het gesê hulle moet die werk in die tempel goed doen. 3Toe het hy gepraat met die Leviete. Hulle was die leermeesters van die hele Israel, hulle was die gewydes van die Here. Josia het vir hulle gesê: “Julle moet die gewyde kis laat bly in die tempel wat Salomo seun van Dawid, koning van Israel, laat bou het. Julle moenie die kis nou weer op julle skouers dra nie. Julle moet nou ander werk doen vir die Here en sy volk. 4Julle families moet gereedmaak, julle moet saam in julle groepe werk, soos koning Dawid van Israel en sy seun Salomo geskryf het. 5Julle moet by die tempel gaan staan. Daar moet 'n groep Leviete wees by elke groep van die families van die volk. 6Dan moet julle die paas-lammers slag. Julle moet julleself wy en julle moet die ander Israeliete help sodat hulle alles kan doen wat die Here vir Moses gesê het.”
7Josia het self die paas-lammers vir die Israeliete gegee, vir almal wat daar was. Dit was 30 000 skaap-lammers en bok-lammers. Hy het ook 3 000 beeste gegee. Dit was alles van die koning se eie skape en bokke en beeste. 8Sy amptenare het self besluit om diere vir die volk en vir die priesters en die Leviete te gee. Die hoofde van die tempel was Gilkija, Sagaria en Jegiël. Hulle het 2 600 paas-lammers en 300 beeste vir die priesters gegee. 9Konanja en sy broers Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, was die leiers van die Leviete. Hulle het 5 000 paas-lammers en 500 beeste vir die Leviete gegee. 10Toe hulle gereed was om die werk te doen, het die priesters op hulle plekke gaan staan, en die Leviete het in hulle groepe gaan staan. Hulle het gedoen soos die koning gesê het. 11Toe het hulle die paas-lammers begin slag. Die Leviete het die diere se velle afgeslag en hulle het die bloed vir die priesters gegee. Die priesters het die bloed gesprinkel. 12Hulle het die dele van die skape wat hulle moes verbrand, apart gesit om dit uit te deel vir die familie-groepe van die volk. Die familie-groepe kon dit dan vir die Here offer soos geskryf is in die Boek van Moses. Hulle het dieselfde gedoen met die beeste. 13Hulle het die paas-lammers op kole gebraai soos hulle dit moes doen, en hulle het die vleis wat gewyde presente was, gekook in potte, in bakke en panne, en hulle het dit dadelik na die mense toe geneem. 14Daarna het die Leviete vir hulleself en vir die priesters vleis gaargemaak, want die priesters was tot laat in die nag besig om die brand-offers en die vet van die ander offers te offer. Daarom moes die Leviete vleis gaarmaak vir hulleself en vir die priesters. 15Die mense van die Asaf-familie wat moes sing, het op hulle plekke gestaan soos Dawid gesê het, ook Asaf en Heman en Jedutun, die siener van die koning. Elke poortwag was by die poort waar hy moes wees. Hulle het nie weggegaan van die plek waar hulle werk nie, hulle kon daar bly, want die ander Leviete het vir hulle vleis gaargemaak. 16Almal het daardie dag die werk van die Here gedoen. Hulle het die Paasfees gevier en die offers gebring wat hulle op die altaar van die Here moes verbrand, soos koning Josia gesê het. 17Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood daardie tyd sewe dae lank gevier. 18Dit was 'n groot fees. Van die tyd toe die profeet Samuel gelewe het, het hulle die Paasfees nie só in die land Israel gevier nie! Nie een van die konings van Israel het die Paasfees gevier soos Josia dit gedoen het nie, Josia saam met die priesters en die Leviete en al die mense van Juda en die mense van Israel wat daar was en die mense van Jerusalem. 19Hulle het hierdie Paasfees gevier in die agtiende jaar nadat Josia koning geword het.
Josia sterf
20Ná al hierdie dinge, toe Josia die tempel klaar reggemaak het, het koning Neko van Egipte gegaan om oorlog te maak by die stad Karkemis, by die Eufraat-rivier. Josia het gegaan om hom te stop. 21Neko het boodskappers gestuur na Josia toe en hulle het vir Josia gesê: “Koning van Juda, ons moenie oorlog maak teen mekaar nie. Ek kom nie vandag om jóú aan te val nie, ek kom om my vyande aan te val. God het gesê ek moet dit gou doen. Jy moenie iets doen teen God wat my stuur nie, Hy sal jou laat sterf.”
22Maar Josia het nie vir Neko gelos nie. Josia het vir Neko gewag om teen hom oorlog te maak. God het vir Neko gesê wat hy moet sê, maar Josia het nie geluister na Neko nie. Josia het teen Neko oorlog gaan maak in die Megiddo-vallei. 23Die soldate van Egipte het vir Josia raakgeskiet met 'n pyl en boog, en Josia het vir sy offisiere gesê: “Julle moet my hier wegneem, want hulle het my raakgeskiet, ek het baie seer gekry.”
24Die offisiere het vir Josia afgehaal van die oorlogkar en hulle het hom laat ry op 'n ander oorlogkar. Hulle het hom na Jerusalem gebring. Hy het gesterf, en hulle het hom begrawe in die graf van sy voorvaders. Al die mense van Juda en Jerusalem het gerou oor Josia. 25Jeremia het 'n klaaglied gemaak oor Josia, en tot vandag toe sing die mans en vroue wat sing, klaagliedere oor Josia. Hulle het gesê die Israeliete moet dit altyd doen. Die liedere is geskryf in Die Treurliedere-boek. 26Die ander dinge wat Josia gedoen het, die dinge wat hy aangehou het om te doen soos dit geskryf is in die Wette van die Here, 27die dinge van voorheen en van later, dit is alles geskryf in die Boek van die Konings van Israel en Juda.