Hanna bid dat die Here vir haar 'n seun sal gee
1Daar was 'n man van die stad Ramatajim in die Efraim-berge. Hy was van die nageslag van Suf, en sy naam was Elkana. Elkana was die seun van Jerogam, Jerogam was die seun van Elihu, Elihu was die seun van Togu, en Togu was die seun van Suf, van die land Efrat. 2Elkana het twee vroue gehad. Die naam van die een vrou was Hanna en die naam van die ander vrou was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het nie kinders gehad nie.
3Elkana het elke jaar van sy stad Ramatajim na die stad Silo gegaan om daar te bid en te offer vir die Here wat oor alles regeer. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was in Silo priesters van die Here. 4Wanneer Elkana 'n offer vir die Here gebring het, dan het hy vir Peninna en al haar seuns en dogters elkeen 'n stuk vleis gegee. 5Hy was lief vir Hanna, maar hy kon vir haar net een stuk vleis gee, want die Here het nie vir haar kinders laat kry nie. 6Dan het die ander vrou vir Hanna baie gespot en verneder omdat die Here nie vir Hanna kinders laat kry het nie. 7Elkana het dit elke jaar gedoen. Wanneer Hanna na die tempel gegaan het, dan het Peninna haar gespot. Hanna het dan gehuil en sy het nie geëet nie. 8Dan het haar man Elkana vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy en hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Jy weet jy het vir my, en dit is beter as om tien seuns te hê.”
9Nadat hulle in Silo saam geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Die priester Eli het by die deur van die tempel op 'n stoel gesit. 10Hanna was baie hartseer. Sy het tot die Here gebid en baie gehuil. 11Sy het vir die Here belowe en gesê: “Here wat oor alles regeer, ek is u dienaar. U moet asseblief na my kyk en sien hoe hartseer ek is. U moet dink aan my, U moenie vir my vergeet nie. As U vir my 'n seun gee, dan sal ek hom bring om sy hele lewe lank aan U te behoort, en niemand sal sy hare afskeer nie.”
12Hanna het lank aangehou bid tot die Here, en Eli het gesien sy praat. 13Maar Hanna het saggies gepraat. Net haar lippe het beweeg. Eli kon nie hoor wat sy sê nie en hy het gedink sy is dronk. 14Eli sê toe vir Hanna: “Hoe lank wil jy dronk bly? Gaan nou en kom terug wanneer jy nie meer dronk is nie.”
15Maar Hanna het vir Eli gesê: “Nee, Meneer, ek het nie wyn of bier gedrink nie, ek is baie hartseer en ek het vir die Here gesê hoe ek voel. 16Jy moenie dink dat ek 'n slegte vrou is nie. Ek het tot nou toe gepraat oor my groot hartseer en my pyn.”
17Eli het vir Hanna gesê: “Ek hoop dit sal goed gaan met jou. Ek bid dat die God van Israel vir jou sal gee wat jy gevra het.”
18Hanna het geantwoord: “Ek hoop jy sal aanhou tevrede wees met my.”
Sy het gegaan en geëet, en sy was nie meer ongelukkig nie.
Hanna kry 'n seun en sy noem hom Samuel
19Die volgende oggend het Elkana en Hanna vroeg opgestaan en hulle het tot die Here gebid, en toe het hulle teruggegaan na hulle huis in die stad Rama. Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink. 20Aan die einde van daardie jaar het sy swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het hom Samuel genoem. Sy het gesê: “Sy naam is Samuel, want ek het vir die Here gevra om hom vir my te gee.”
21Elkana en sy hele huisgesin het weer gegaan om die offer te bring wat hy elke jaar moes bring, en ook sy gelofte-offer. 22Hanna het nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wanneer my seun nie meer aan my drink nie, dan sal ek hom bring en ek sal hom vir die Here gee om vir Hom te werk. Dan kan hy altyd daar bly.”
23Haar man Elkana het vir haar gesê: “Jy moet doen wat jy dink is goed. Bly by die huis totdat die kind nie meer aan jou drink nie. Ek bid dat die Here alles sal doen wat Hy vir jou belowe het.”
Hanna bring vir Samuel na die tempel
Hanna het by die huis gebly totdat haar seun opgehou het om aan haar te drink. 24Nadat hy opgehou het om aan haar te drink, het sy hom saam met haar geneem en sy het hom na die tempel in Silo gebring. Die seun was nog jonk. Hanna het 'n bul saamgeneem wat drie jaar oud was en ook 'n efa meel en 'n velsak wyn. 25Nadat hulle die bul geslag het, het hulle dit na die priester Eli gebring. Hulle het ook die seun gebring. 26Hanna het vir Eli gesê: “Ekskuus, Meneer, jy sal dit miskien nie glo nie, maar ek is die vrou wat hier by jou kom staan het en tot die Here gebid het. 27Ek het gebid om hierdie seun te kry, en die Here het vir my gegee wat ek gevra het. 28En ek het besluit om hom vir die Here te leen. Hy sal sy hele lewe lank iemand wees wat ek vir die Here geleen het.”
Elkana en sy huisgesin het toe die Here daar aanbid.