Agab sterf
1Daar was drie jaar lank nie oorlog tussen die Arameërs en Israel nie. 2Toe, in die derde jaar, het koning Josafat van Juda by die koning van Israel gekom. 3Die koning van Israel het vir sy amptenare gesê: “Weet julle, die stad Ramot in die land Gilead behoort aan ons. Hoekom doen ons niks om dit terug te vat van die koning van Aram nie?”
4Die koning van Israel het vir Josafat gevra: “Sal jy saam met my gaan oorlog maak teen die stad Ramot in Gilead?”
Josafat het vir die koning van Israel gesê: “Ek sal saam met jou gaan, en jy kan my manne en my perde ook gebruik. 5Maar jy moet asseblief vandag eers vra en luister na wat die Here sê.”
6Die koning van Israel sê toe al die profete moet bymekaarkom. Daar was omtrent 400 profete, en hy vra toe vir hulle: “Moet ek gaan oorlog maak teen Ramot in Gilead of moet ek dit nie doen nie?”
Die profete het gesê: “Jy moet gaan. Die Here sal jou laat wen.”
7Toe sê Josafat: “Is hier nog 'n profeet van die Here? Ons moet vir hom ook vra.”
8Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ja, hier is nog 'n profeet. Dit is Miga seun van Jimla. Ons kan vir hom vra wat die Here sê, maar ek hou nie van die man nie, want die dinge wat hy sê, is nooit goed vir my nie, dit is sleg.”
Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie.”
9Die koning van Israel roep toe 'n amptenaar en hy sê vir hom: “Gaan roep gou vir Miga seun van Jimla.”
10Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle koningsklere aangehad en elkeen het op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Al die profete was besig om vir hulle te sê wat sal gebeur. 11Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar ysterhorings gemaak en hy het gesê: “Die Here sê: Met hierdie horings sal jy die Arameërs stoot totdat hulle almal dood is.”
12Al die ander profete het gesê dit sal so gebeur. Hulle het gesê: “Koning, jy moet gaan na die stad Ramot in Gilead. Jy sal wen, die Here sal die stad vir jou gee.”
13Die boodskapper wat vir Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Al die profete sê dit sal goed gaan met die koning. Jy moet asseblief ook soos hulle sê, jy moet sê dit sal goed gaan.”
14Miga het gesê: “So seker soos die Here lewe, ek sal sê wat die Here vir my sê.”
15Toe Miga by die koning kom, vra die koning vir hom: “Miga, moet ons oorlog gaan maak teen die stad Ramot in Gilead of moet ons dit nie doen nie?”
Miga het geantwoord: “Koning, jy moet gaan. Jy sal wen, die Here gee die stad vir jou.”
16Maar toe sê die koning vir Miga: “Ek het baie maal vir jou gesê jy moet net die waarheid praat wanneer die Here jou stuur. Hoekom doen jy dit nie?”
17En toe sê Miga: “Ek het gesien die vyande het al die mense van Israel na al die kante toe op die berge gejaag. Hulle is soos skape wat nie 'n skaapwagter het nie. Die Here het gesê: ‘Hierdie mense het nie 'n koning nie. Hulle moet teruggaan, elkeen moet veilig na sy huis gaan.’ ”
18Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het vir jou gesê dat die profeet Miga altyd sê dit sal sleg gaan met my, nie goed nie.”
19Miga het toe weer gepraat: “Luister wat sê die Here. Ek het gesien die Here sit op sy troon en almal wat in die hemel is, staan by Hom, hulle staan regs en links langs Hom. 20En die Here het gesê: ‘Vir wie kan Ek stuur om vir Agab te bedrieg? Daardie een moet sê Agab moet na Ramot in Gilead gaan, Ek wil hê Agab moet daar sterf.’
“Almal wat in die hemel is, het daaroor met mekaar gepraat, 21en toe kom een van hulle en hy gaan staan voor die Here en hy sê: ‘Ek sal hom bedrieg.’
“Toe vra die Here vir hom: ‘Hoe sal jy dit doen?’ 22en hy sê: ‘Ek sal gaan en ek sal 'n leuengees word. Ek sal vir al die profete sê om leuens te vertel vir koning Agab.’ Die Here het gesê: ‘Jy sal hom bedrieg, jy sal dit regkry. Gaan doen dit.’ 23Koning, daarom moet jy dit weet: Die Here het 'n leuengees laat kom in die mond van al hierdie profete van jou. Maar weet jy wat die Here regtig gesê het? Die Here het gesê dit sal sleg gaan met jou.”
24Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op sy kakebeen en hy vra: “Dink jy die gees wat van die Here gekom het, het weggegaan van my om met jóú te praat?”
25Miga het vir Sedekia gesê: “Jy sal dit sien daardie dag wanneer jy van een kamer na die ander kamer gaan om te probeer wegkruip.”
26Toe sê die koning van Israel: “Vat vir Miga na Amon die burgemeester en na prins Joas toe 27en sê vir hulle die koning sê: ‘Julle moet hierdie man in die tronk sit en julle moet vir hom min kos en water gee totdat ek veilig terugkom.’ ”
28Miga sê toe: “Koning Agab, as jy regtig veilig sal terugkom, dan kom die woorde wat ek gesê het, nie van die Here nie.”
Miga het ook gesê: “Manne, julle moet almal luister na wat ek sê.”
29Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het gegaan na die stad Ramot in Gilead. 30Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek sal ander klere aantrek sodat mense nie sal weet wie ek is nie en dan sal ek saam met die manne oorlog begin maak. Jy moenie jou koningsklere uittrek nie.”
Die koning van Israel het toe ander klere aangetrek en hy het saam met die manne oorlog begin maak. 31Die koning van Aram het 32 offisiere van die oorlogkarre by hom gehad. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet net die koning van Israel skiet. Julle moenie die ander manne skiet nie, dit maak nie saak of hulle belangrik of onbelangrik is nie.”
32En toe die offisiere van die oorlogkarre vir Josafat sien, het hulle gedink dit is die koning van Israel. Hulle het nader gekom om hom te skiet. Josafat het geskree en gevra sy mense moet help, 33en toe die offisiere sien dit is nie Agab, die koning van Israel, nie, het hulle opgehou om vir Josafat te jaag.
34Een van die Arameërs het 'n pyl geskiet. Hy het nie geweet waarnatoe die pyl gaan nie. Hy het die koning van Israel raakgeskiet. Die pyl het ingegaan onder die plate van sy harnas. Die koning het vir die man wat sy oorlogkar gedryf het, gesê: “Draai om en neem my uit die oorlog, want iemand het my raakgeskiet.”
35Maar almal het daardie dag so hard geveg dat die koning op sy oorlogkar moes bly staan teen die Arameërs. Toe dit aand word, het hy gesterf. Die bloed uit die wond het afgeloop op die vloer van die oorlogkar. 36Toe die son ondergaan, het die offisiere begin skree dat die oorlog moet ophou. Hulle het gesê: “Elkeen moet na sy stad gaan, elkeen na sy land.”
37Die koning was dood toe hulle in Samaria aankom. Sy mense het hom in Samaria begrawe. 38Toe hulle die oorlogkar afspoel by die dam van Samaria, het die honde die koning se bloed opgelek, soos die Here gesê het. Die prostitute was besig om hulle daar te was.
39Al die ander dinge wat Agab gedoen het, hoe hy Bet-San en die ander stede gebou het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 40Nadat Agab gesterf het, het sy seun Ahasia koning geword ná hom.
Josafat, koning van Juda
41Josafat seun van Asa het koning van Juda geword in die vierde jaar nadat Agab koning van Israel geword het. 42Josafat was 35 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 25 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Asuba dogter van Silgi. 43Hy het gelewe soos sy pa Asa, hy het nie opgehou om so te doen nie. Hy het dinge gedoen waarvan die Here hou. 44Hy het net die offer-plekke laat staan. Die mense het nog offers en wierook-offers gebring op die offer-plekke. 45Daar was vrede tussen Josafat en die koning van Israel.
46Al die ander dinge wat Josafat gedoen het, ook die belangrike dinge en die oorloë wat hy geveg het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 47Daar het tempel-prostitute oorgebly van die tyd toe sy pa koning was. Josafat het hulle uit die land weggejaag. 48Daar was nie 'n koning in Edom nie, 'n goewerneur het daar regeer. 49Josafat het skepe laat bou om na Ofir te gaan om goud te gaan haal, maar die skepe het nie gegaan nie, want hulle het gebreek by die stad Esjon-Geber. 50Daarna het Ahasia seun van Agab vir Josafat gevra of sy manne saam met Josafat se manne op die skepe kan gaan, maar Josafat wou hulle nie laat saamgaan nie.
51Josafat het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy voorvader Dawid. Sy seun Joram het koning geword ná hom.
Ahasia, koning van Israel
52Ahasia seun van Agab het koning van Israel geword in Samaria in die sewentiende jaar nadat Josafat koning van Juda geword het. Ahasia was twee jaar lank koning van Israel. 53Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het gelewe soos sy pa en sy ma en soos Jerobeam seun van Nebat wat die Israeliete sonde laat doen het. 54Ahasia het vir Baäl gedien en voor hom gebuig. Hy het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, sy pa het dit ook gedoen.