Elia by Horeb-berg
1Agab het vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het, ook dat hy al die profete van Baäl doodgemaak het. 2Toe stuur Isebel vir Elia 'n boodskap en sê: “Ek bid dat die gode my sal help sodat ek môre hierdie selfde tyd met jou sal gedoen het wat jy met die profete van Baäl gedoen het.”
3Elia het bang geword. Hy het gereedgemaak en gevlug, sodat Isebel hom nie kan doodmaak nie. Toe hy by die stad Berseba kom, het hy en die jongman by hom daar gerus. 4Daarna het hy alleen 'n hele dag lank verder in die woestyn in geloop. Hy het daar onder 'n besembos gaan sit en hy het gewens hy sterf. Hy het gesê: “Here, dit is nou genoeg. U moet my laat sterf, want ek is nie beter as my voorvaders nie.”
5Elia het gaan lê, en hy het onder die besembos aan die slaap geraak. Toe kom daar 'n engel en die engel raak aan hom en sê vir hom: “Jy moet opstaan en eet.”
6Toe Elia kyk, sien hy by sy kop 'n gaar roosterkoek en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Maar toe raak die engel weer aan hom en hy sê: “Jy moet opstaan en eet. As jy dit nie doen nie, dan sal jy nie die hele pad kan loop nie.”
8Elia het toe opgestaan en geëet en gedrink. En daardie kos het hom so sterk gemaak dat hy 40 dae en 40 nagte lank geloop het tot by Horeb, die berg van God. 9Daar het hy by 'n grot gekom en gaan slaap. Toe hoor hy die Here vra vir hom: “Elia, wat doen jy hier?”
10Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.”
11Toe sê die Here: “Gaan uit en gaan staan op die berg voor My.”
En toe kom die Here daar verby. Daar was 'n sterk wind, dit het die berg geskud en die rotse gebreek voor die Here. Maar die Here was nie in die wind nie. En ná die wind was daar 'n aardbewing. Maar die Here was nie in die aardbewing nie. 12En ná die aardbewing was daar 'n vuur. Die Here was ook nie in die vuur nie. En ná die vuur het Elia iets gehoor soos wanneer iemand baie sag praat. 13Toe hy dit hoor, het hy sy gesig toegemaak met sy bo-kleed. Hy het uitgegaan en hy het voor die grot gaan staan. En daar hoor hy toe 'n stem wat vra: “Elia, wat doen jy hier?”
14Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.”
15Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op dieselfde pad. Jy moet gaan tot in die woestyn van Damaskus, en wanneer jy daar kom, dan moet jy vir Gasael salf om koning te wees van die Arameërs. 16En jy moet vir Jehu seun van Nimsi salf om koning te wees van Israel. En jy moet vir Elisa seun van Safat van die stad Abel-Megola salf om profeet te wees in jou plek. 17Gasael sal begin om mense dood te maak, en Jehu sal die mense doodmaak wat vry weggekom het van Gasael. Elisa sal die mense doodmaak wat vry weggekom het van Jehu. 18Maar Ek sal in die land Israel 7 000 mense laat oorbly wat nie hulle knieë gebuig het voor Baäl nie. Hulle het hom nie aanbid en gesoen nie.”
19Elia het weggegaan van Horeb-berg en hy het vir Elisa seun van Safat gekry. Elisa was besig om te ploeg. Daar was twaalf ploeë, twee beeste het elke ploeg getrek. Elisa was by die agterste ploeg. Toe Elia daar verbykom, gooi hy sy bo-kleed oor Elisa. 20Elisa het die beeste gelos en agter Elia gehardloop en vir hom gesê: “Ek wil eers my pa en my ma gaan groet, dan sal ek kom en saam met jou gaan.”
Elia het vir hom gesê: “Jy mag gaan, ek sal jou nie keer nie.”
21Elisa het teruggegaan. Hy het twee beeste geneem en hy het hulle geslag. Hy het die vleis gaargemaak met die hout van die jukke. Hy het die vleis vir sy mense gegee, en toe hulle klaar geëet het, het hy gereedgemaak en saam met Elia gegaan. Elisa het Elia se helper geword.