U moenie meer my sonde raaksien nie
1Vir die leier van die koor: Van Jedutun. 'n Psalm van Dawid.
2Ek het gedink ek wil nie dinge sê
waarmee ek sonde doen nie,
ek wil my mond toehou
wanneer 'n mens wat verkeerd doen,
voor my staan.
3Ek het nie gepraat nie, ek het stilgebly,
maar dit was nie goed vir my nie,
my pyn het meer en meer geword.
4Die pyn het gebrand in my.
Wanneer ek daaraan gedink het,
dan het die pyn meer gebrand.
En toe het ek gepraat.
Ek het gesê:
5Here, U moet vir my laat weet
wanneer ek sal sterf.
Hoe lank sal ek nog lewe?
Ek wil weet wanneer my lewe verby sal wees.
6Ek weet, U sal my nie lank laat lewe nie,
vir U is die tyd wat ek lewe, soos niks.
Ja, niemand is soos hy moet wees nie.
Sela
7'n Mens se lewe is soos 'n skaduwee
wat verbygaan,
hy maak hom moeg, maar hy kry niks daarvoor nie.
Hy maak baie goed bymekaar
maar hy weet nie wie dit sal kry nie.
8En daarom, Here, wat kan ek hoop?
Ek weet dit is net U wat kan help.
9Ek was baie opstandig, maar U moet my red,
U moenie dat mense vir my lag
soos hulle lag vir 'n dom mens nie.
10Ek het nie gepraat nie,
ek het nie my mond oopgemaak nie,
want dit is U wat alles met my laat gebeur het.
11U moenie aanhou om my te straf nie,
U het my baie geslaan, ek is amper dood.
12Wanneer U 'n mens straf
oor wat hy gedoen het,
dan laat U alles verdwyn
wat vir hom kosbaar is,
dit is soos 'n mot wat klere vreet.
Ja, niemand is soos hy moet wees nie.
Sela
13Here, U moet luister na my gebed,
U moet luister hoe ek kla en sug.
U moenie maak of U nie my trane sien nie,
want ek is by U soos 'n vreemdeling,
U het vir my woonplek gegee vir 'n kort tyd,
soos vir my voorvaders.
14U moenie meer my sonde raaksien nie,
sodat ek 'n kort tyd gelukkig kan wees
voordat ek sterf en nie meer lewe nie.