Die Israeliete vas en prys die Here
1Die Israeliete het op die 24ste dag van die sewende maand bymekaargekom. Hulle het gevas en rouklere aangetrek en grond op hulle koppe gegooi. 2Die Israeliete het apart gegaan, weg van almal wat nie Israeliete was nie. Die Israeliete het voor die Here gaan staan en hulle het bely dat hulle sonde gedoen het en dat hulle voorvaders verkeerd gedoen het. 3Hulle het op hulle plekke bly staan en hulle het drie uur lank uit die wetboek van hulle God gelees. Toe het hulle drie uur lank hulle sonde bely en voor hulle God die Here gebuig. 4Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog van die Leviete gaan staan en hulle het hard geskree en gevra dat hulle God die Here hulle moet help. 5Die Leviete Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja het gesê: “Kom, julle moet julle God die Here prys, julle moet nooit ophou om dit te doen nie.”
Hulle het u Naam geprys, Here, U wat Koning is, hulle het die Naam geprys, die Naam is so wonderlik dat daar nie woorde is om dit waarlik te prys en te loof nie. 6Hulle het gesê:
“U is die Here, U alleen, U het die hemel gemaak, ook die hoogste hemel, en al die sterre in die lug. U het die aarde gemaak en alles daarop, die see en alles daarin. U het lewe gegee vir almal, die sterre in die lug aanbid U. 7U is ons God die Here, U het vir Abram gekies en U het hom gebring uit die stad Ur van die Galdeërs, U het vir hom die naam Abraham gegee. 8U het gesien dat hy vir U glo, en U het 'n verbond gemaak met hom. U het belowe om vir hom en sy nageslag die land te gee, die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Jebusiete, die Girgasiete. U het gedoen wat U belowe het, want U doen altyd wat reg is.
9“U het gesien dit gaan sleg met ons voorvaders in Egipte. U het geluister toe hulle na U geroep het by die Riet-see en gevra het dat U hulle moet help. 10U het geweet dat die farao en al sy amptenare en al die mense in sy land slegte dinge gedoen het aan ons voorvaders, en U het tekens en wonderwerke gedoen by hulle. Almal moes weet wie U is en almal moet nóú weet wie U is. 11U het 'n pad gemaak deur die see sodat ons voorvaders op droë grond daar kon deurloop, maar U het die mense wat vir hulle gevolg en gejaag het, in die water gegooi. Hulle het soos 'n klip in diep water gesink.
12“U het hulle in die dag gelei met 'n wolk, en in die nag het vuur vir hulle lig gemaak op die pad waar hulle moes gaan. 13U het afgekom na Sinai-berg, U het uit die hemel met hulle gepraat en vir hulle wette gegee wat reg en goed was. 14U het vir hulle geleer van u gewyde Sabbatdag en U het vir Moses gestuur om wette vir hulle te gee. 15Toe hulle honger was, het U vir hulle kos gegee uit die hemel, en toe hulle dors was, het U vir hulle water uit 'n rots laat kom. U het vir hulle gesê hulle moet kom en hulle moet die land vat wat U vir hulle belowe het.
16“Maar hulle, ons voorvaders, was opstandig en hardkoppig, hulle het nie gedoen wat U wil hê nie. 17Hulle was ongehoorsaam, hulle het nie die wonderwerke onthou wat U gedoen het nie. Hulle was hardkoppig, hulle was opstandig, hulle wou teruggaan om weer slawe te wees.
“Maar U is God, U vergewe mense se sondes, U is genadig, U is goed vir mense wat swaarkry, U is geduldig, U doen altyd wat U belowe het. U het hulle nie gelos nie. 18U het hulle ook nie gelos toe hulle vir hulle 'n kalfbeeld gemaak het en vir U beledig het nie. Hulle het gesê die kalf is die god wat vir hulle uit die land Egipte gebring het. 19U was goed vir hulle toe hulle swaargekry het, U het hulle nie gelos in die woestyn nie. Die wolk het daar gebly om hulle in die dag te lei op die pad, en die vuur het in die nag lig gemaak op die pad waar hulle moes gaan. 20U het u goeie Gees vir hulle gegee om vir hulle te leer, U het aangehou om vir hulle manna te gee om te eet, en water om te drink. 21U het 40 jaar lank vir hulle gesorg in die woestyn, hulle het genoeg gehad van alles. Hulle klere het nie stukkend geword nie en hulle voete het nie geswel nie. 22U het vir hulle lande en volke gegee. Hulle kon alles vir hulle vat, die land Gesbon van koning Sihon, en die land Basan van koning Og. 23U het vir hulle so baie kinders gegee soos die sterre in die lug. U het vir hulle voorvaders gesê hulle kinders sal die land vir hulle kom vat, 24en die kinders hét die land kom vat. U het die mense van die land, die Kanaäniete, laat buig voor u volk. U volk het die Kanaäniete en hulle konings oorwin, hulle het gedoen wat hulle wil met die mense van die land. 25Hulle het die stede oorwin wat sterk mure gehad het en hulle het die vrugbare grond vir hulle gevat. Hulle het huise gevat wat vol kosbare goed was, ook watergate wat die mense in die rots gekap het, wingerde, olyfbome en baie vrugtebome. Hulle kon eet totdat hulle genoeg gehad het, hulle het vet geword. Hulle het die goeie dinge geniet wat U gegee het.
26“Maar hulle was hardkoppig, hulle was opstandig teen U. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. U profete het hulle gewaarsku en het gesê hulle moet terugkom na U toe, maar hulle het die profete doodgemaak. Hulle het vir U beledig.
27“U het hulle vyande laat wen teen hulle, die vyande het hulle laat swaarkry. En toe hulle swaarkry, het hulle na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister. U is altyd goed vir mense wat swaarkry. Daarom het U mense gestuur wat hulle gered het van hulle vyande. 28Maar toe hulle al hulle vyande oorwin het, het hulle weer verkeerde dinge gedoen. U het hulle vyande laat wen teen hulle, en die vyande het oor hulle regeer. Hulle het weer na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister, U het hulle gered, want U is goed vir mense wat swaarkry. U het dit baie maal gedoen. 29U het hulle gewaarsku en gesê hulle moet weer doen wat U wil hê, maar hulle wou nie. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. Hulle het sonde gedoen teen u wette, wette wat 'n mens laat lewe het as jy doen wat die wette sê. Hulle was hardkoppig en opstandig, hulle het nie geluister nie. 30U was geduldig met hulle, baie jare lank. U het u Gees vir die profete gegee en U het die profete gestuur om hulle te waarsku. Maar hulle het nie geluister nie, en U het die ander volke van die land laat wen teen hulle. 31Maar U is goed vir mense wat swaarkry, U het hulle nie almal laat sterf nie. U het hulle nie gelos nie, want U is 'n God wat genadig is en wat goed is vir mense wat swaarkry.
32“En nou, ons God, almal is bang vir U, U wat die groot en sterk God is. U hou aan om te doen wat U in u verbond belowe het. U moet kyk hoe swaar ons gekry het. Ons konings, ons amptenare, ons priesters, ons profete, ons voorvaders, u hele volk het swaargekry, van die tyd van die konings van Assirië af tot vandag toe. 33Maar U het reg gedoen toe U dit alles laat gebeur het. U het dieselfde gebly, en ons het verkeerde dinge gedoen. 34Ons konings, ons amptenare, ons priesters en ons voorvaders het nie gedoen wat U wil hê nie. U het gesê wat hulle moet doen en U het hulle gewaarsku, maar hulle het dit nie gedoen nie. 35Hulle het 'n eie koning gehad, en hulle het baie goeie dinge van U gekry in die groot en vrugbare land wat U vir hulle gegee het, maar hulle het nie vir U gedien nie en hulle het nie opgehou om verkeerde dinge te doen nie. 36Hier is ons vandag slawe, ons is slawe in die land wat U vir ons voorvaders gegee het. U het die land vir hulle gegee sodat hulle kon eet en die goeie dinge van die land kon geniet. 37Ons het sonde gedoen, daarom laat U konings oor ons regeer, hulle doen wat hulle wil met ons en ons diere. Dit gaan baie sleg met ons.”
Die mense maak 'n ooreenkoms
38Al hierdie dinge het met ons gebeur. Daarom maak ons 'n ooreenkoms. Ons wil doen wat ons belowe en ons skryf dit neer. Ons sit seëls op die ooreenkoms en ons skryf die name van ons amptenare, ons Leviete en ons priesters daarop.