Esra lees die wetboek vir die volk
1Toe die sewende maand begin, het al die Israeliete in hulle stede gewoon.
2Al die mense het bymekaargekom op die oop stuk grond by die Water-poort. Hulle het vir Esra, die sekretaris, gesê hy moet die boek bring waarin die Wette van Moses is, die wette wat die Here vir die volk Israel gegee het. 3Die priester Esra het toe die wette vir die volksvergadering gebring. Daar was mans en vroue. Almal wat kon verstaan, was daar. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. 4Esra het van vroeg die oggend tot die middag daar op die oop stuk grond voor die Water-poort uit die boek gelees vir die mans en vroue, vir almal wat kon verstaan. Al die mense het goed geluister na dit wat in die boek geskryf is. 5Die sekretaris Esra het gestaan op 'n hout-toring wat mense gemaak het. Regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links langs hom het Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam gestaan. 6Al die mense het gesien toe Esra die boek oopmaak. Hy het hoog bo hulle gestaan, en toe hy die boek oopmaak, het almal opgestaan. 7Esra het die Here, die Groot God, geprys. Al die mense het gesê: “Amen” en hulle het hulle hande opgetel. Toe het hulle gebuig en met hulle gesigte teen die grond gaan lê om die Here te aanbid. 8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabtai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wette vir die mense verduidelik. Die mense het op hulle plekke bly staan. 9Die Leviete het gelees uit die boek, uit die wette van God. Hulle het verduidelik wat dit beteken sodat almal dit kon verstaan. 10Die goewerneur Nehemia, die priester en sekretaris Esra en die Leviete wat die wette vir die mense verduidelik het, het toe vir al die mense gesê: “Hierdie dag is gewy aan julle God die Here, julle moenie huil of treur nie.”
Want al die mense het gehuil toe hulle hoor wat die wette sê. 11Die goewerneur het vir die mense gesê: “Julle moet gaan, julle moet lekker kos eet en soetgoed drink. Julle moet vir ander mense wat niks gereedgemaak het nie, ook daarvan stuur. Want hierdie dag is gewy aan ons Here. Julle moenie hartseer wees nie, julle moet bly wees daaroor dat die Here julle beskerm.”
12Die Leviete het vir die mense gesê hulle moet stil wees en nie hartseer wees nie, want dit is 'n gewyde dag. 13Toe het al die mense gegaan en hulle het geëet en gedrink en vir ander mense ook daarvan gestuur. Dit was 'n groot fees, want hulle het verstaan wat Esra vir hulle gelees het.
Die Hutte-fees
14Die volgende dag het al die familiehoofde saam met die priesters en Leviete bymekaargekom by die sekretaris Esra om te leer wat die wette sê. 15Hulle het gehoor dat daar in die wette geskryf is dat die Israeliete in hutte moet woon terwyl hulle die fees in die sewende maand vier. Die Here het hierdie wette vir Moses gegee. 16Hulle het ook gehoor dat hulle boodskappe moet stuur vir almal in die stede en in Jerusalem. Hulle moet vir die mense sê: “Julle moet na die berge gaan en takke bring, takke van olyfbome, olienhoutbome, palmbome en ander bome wat blare het. Julle moet hutte maak van die takke, dit is wat die wette sê.”
17Die mense het gegaan en hulle het takke gebring. Hulle het vir hulle hutte gemaak op hulle huise se dakke en op die oop stukke grond by hulle huise, by die tempel, by die Water-poort en die Efraim-poort. 18Almal wat teruggekom het uit Babel waar hulle gevangenes was, het hutte gemaak en hulle het daarin gewoon. Dit was die eerste maal dat die Israeliete dit weer gedoen het van die tyd van Josua seun van Nun af. Almal was baie bly. 19Van die eerste dag van die fees tot die laaste dag het Esra elke dag uit die wetboek van God gelees. Hulle het die fees sewe dae lank gevier. Op die agste dag het hulle 'n gewyde feesdag gevier, soos die wette sê.