Die volksvergadering besluit oor die arm mense
1Party mans en hulle vroue het kom kla oor die Judeërs. 2Party het gesê: “Ons het baie kinders en ons moet koring kry om te eet en te lewe.”
3Party het gesê: “Daar is baie min kos. Ons moes ons koringlande en ons wingerde en ons huise gee om koring te kry.”
4En party het gesê: “Ons moes ons koringlande en ons wingerde gee om geld te kry om die belasting van die koning te betaal. 5Ons en ons kinders is ook Judeërs, maar ons moes ons seuns en dogters gee om slawe te word. Party mans het party van ons dogters verkrag, en ons kan niks doen nie. En ons koringlande en ons wingerde behoort nou aan ander mense.”
6Ek was baie kwaad toe ek hoor wat hulle sê. 7Ek het daaroor gedink, en toe het ek die belangrike mense en die leiers beskuldig en vir hulle gesê: “Julle wil hê julle broers moet meer en meer geld vir julle skuld.”
Ek het die mense bymekaargeroep, en ons het 'n groot volksvergadering gehou om hulle te beskuldig. 8Ek het vir die belangrike mense en die leiers gesê: “Die Judeërs moes hulleself verkoop aan mense wat nie Israeliete is nie, maar ons het hulle losgekoop. Nou verkoop julle hulle weer, en ons sal hulle wéér moet loskoop.”
Hulle het stilgebly, niemand het iets gesê nie. 9Toe sê ek: “Dit is nie 'n goeie ding wat julle doen nie. Julle moet só lewe en julle moet die Here só dien dat ons vyande, die heidene, niks sleg van julle kan sê nie. 10Ek en my broers en my manne het ook vir hierdie mense geld en koring geleen. Ons moet nou vergeet dat hulle vir ons iets skuld. 11Julle moet asseblief vandag hulle koringlande, hulle wingerde, hulle olyfboorde en hulle huise teruggee. Julle moet sê hulle moenie die geld en die koring en die olyf-olie teruggee wat hulle vir julle skuld nie.”
12Hulle het gesê: “Ons sal dit teruggee en ons sal nie vir hulle nog iets vra nie. Ons sal doen wat jy sê.”
Ek het die priesters geroep. Hulle almal moes belowe dat hulle sal doen wat hulle gesê het, en dat God die getuie sal wees. 13Ek het ook my bo-kleed geskud en alles uitgegooi wat ek daarin gebêre het. Ek het gesê: “Ek bid dat God dieselfde sal doen met elke man wat nie doen wat hy belowe het nie. Ek bid dat God hom so sal uitskud uit sy huis en uit alles wat hy het, sodat hy niks sal hê nie.”
Die volksvergadering het gesê: “Amen!”
En hulle het die Here geprys. Almal het gedoen wat hulle belowe het.
Ander dinge wat Nehemia gedoen het
14Almal moet ook weet dat ek en my broers nie die geld gevra het wat 'n goewerneur moet kry om kos te koop nie. Dit was so van die dag toe die koning my gekies en aangestel het om goewerneur van Juda te wees. Dit was twaalf jaar lank, van die 20ste tot die 32ste jaar wat Artasasta koning was. 15Die goewerneurs wat voor my hier was, het die mense laat swaarkry. Hulle het elke dag brood en wyn van elke persoon gevat. Die brood en wyn het 40 sikkels silwer gekos. En die manne wat vir die goewerneurs gewerk het, het ook die mense baie swaar laat kry. Maar ek het dit nie gedoen nie, want ek het die Here gerespekteer. 16Almal moet ook weet dat ek al my krag gegee het vir die werk om hierdie muur te bou. Ek het nie grond gekoop nie, en die manne wat vir my werk, het almal gehelp om die muur te bou. 17Daar het 150 persone van die Judeërs en hulle leiers by my geëet, en ook mense van die volke rondom ons wat na ons toe gekom het. 18Ek het elke dag 'n bees en ses vet skape laat slag en ek het ook hoenders laat gaarmaak, en elke tiende dag het ek ook baie wyn vir almal gegee. Maar ek het nie die geld gevra wat 'n goewerneur kon kry om kos te koop nie, want hierdie volk moes hard werk. 19My God, U moet goed wees vir my omdat ek al hierdie dinge gedoen het vir hierdie volk.