Nadab en Abihu
1Aäron se seuns Nadab en Abihu het hulle wierook-panne geneem. Elkeen het sy wierook-pan vol vuurkole gemaak en hy het wierook bo-op gesit, en toe het hulle dit na die altaar gebring. Maar die Here het nie gesê hulle moet daardie vuur gebruik nie. 2Daar het toe vuur van die altaar gekom en dit het die twee seuns van Aäron verbrand. Hulle het daar voor die Here gesterf. 3Moses het vir Aäron gesê: “Dit is wat die woorde van die Here beteken het toe hy gesê het:
“Die mense wat vir My
offers bring,
moet weet dat Ek
'n heilige God is,
die hele volk moet sien
dat Ek die Koning is.”
Aäron het stilgebly. 4Misael en Elsafan was die seuns van Aäron se broer Ussiël. Moses het hulle geroep en hy het vir hulle gesê: “Kom hier, dra julle neefs weg voor die tempel-tent, neem hulle uit na buite die kamp.”
5Misael en Elsafan het gekom en hulle het vir Nadab en Abihu uit die kamp gedra, soos Moses gesê het. Nadab en Abihu het nog hulle rokke aangehad. 6Daarna het Moses vir Aäron en sy ander seuns Eleasar en Itamar gesê: “Julle moenie julle hare deurmekaar laat bly en julle moenie julle klere skeur om te wys dat julle rou nie, want as julle dit doen, dan sal julle sterf, en die Here sal kwaad wees vir al die Israeliete. Die ander priesters en al die Israeliete mag huil omdat die Here vir Nadab en Abihu laat verbrand het. 7Julle mag ook nie weggaan van die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn nie, want die salf-olie van die Here is op julle.”
Aäron en sy seuns het gedoen soos Moses gesê het.
Die priesters mag nie wyn drink wanneer hulle by die tempel-tent werk nie
8Die Here het vir Aäron gesê: 9“Jy en jou seuns mag nie wyn of bier drink wanneer julle na die tent kom waar Ek aan die Israeliete verskyn nie. As julle dit doen, dan sal julle sterf. Julle en julle nageslag mag dit nooit doen nie. 10Daar is dinge wat gewy is en daar is dinge wat nie gewy is nie. Julle moet wys dat hulle nie dieselfde is nie. Daar is ook dinge wat onrein is en daar is dinge wat rein is. Julle moet wys dat hulle nie dieselfde is nie. 11Julle moet vir die Israeliete alles leer wat Ek wil hê hulle moet doen. Ek het vir Moses gestuur om dit vir die Israeliete te sê.”
Die priesters mag van die hoog-gewyde dinge eet
12Aäron het twee seuns gehad wat nog gelewe het, hulle name was Eleasar en Itamar. Moses het vir Aäron en sy twee seuns gesê: “Julle moet die koring-offer neem wat oorgebly het van die vuur-offers vir die Here, en julle moet dit langs die altaar eet, want dit is hoog-gewyd. Daar moenie suurdeeg in die brood van die koring-offer wees nie, 13en julle moet dit eet op 'n gewyde plek. Dit is die deel wat jy en jou seuns kry van die vuur-offers vir die Here, soos ek gesê het. 14Julle mag die bors-stuk van die beweeg-offer kry en ook die boud wat 'n present is, julle moet dit eet op 'n rein plek, jy en jou seuns en jou dogters. Dit is die deel wat julle kry van die ete-offers van die Israeliete. 15Hulle moet die boud wat 'n present is en die bors van die beweeg-offer bring saam met die vet vir die vuur-offer en hulle moet dit beweeg voor die Here om 'n beweeg-offer te wees. Dit is die deel wat jy en jou seuns altyd moet kry, soos die Here gesê het.”
16Toe Moses vra waar die bok is wat 'n sonde-offer moes wees, was dit al klaar verbrand. Moses was kwaad vir Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron wat nog gelewe het. Moses het gesê: 17“Julle moes die sonde-offer in die gewyde plek geëet het. Hoekom het julle dit nie daar geëet nie? Want dit is hoog-gewyd, en die Here het dit vir julle gegee om die sonde van die volk weg te neem en om vir hulle versoening te doen voor die Here. 18Iemand het nie die bloed van daardie bok ingeneem in die tempel-tent nie. Julle moes dit geëet het in die gewyde plek, soos ek gesê het.”
19Aäron het vir Moses gesê: “Kyk, hulle het vandag hulle sonde-offer en hulle brand-offer vir die Here gebring, maar jy weet wat vandag met my gebeur het. Dink jy die Here sou tevrede gewees het as ek vandag die sonde-offer geëet het? Nee!”
20Moses was tevrede toe hy dit hoor.