Die lied van Debora en Barak
1Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam hierdie lied gesing:
2“Manne in die land Israel
het gereedgemaak
vir die oorlog.
Niemand het gesê dat hulle
moet kom nie,
hulle het self gekom.
Prys die Here.
3Konings en almal
wat belangrik is,
julle moet luister.
Ek wil vir die Here sing,
ek wil musiek maak vir die Here,
die God van Israel.
4Here, die aarde het geskud,
en daar het water gedrup
uit die wolke in die lug
toe U uit die land Seïr gekom het,
toe U gekom het
uit die veld van Edom.
5Ja, die berge het gebewe
voor die Here
wat van Sinai-berg kom,
die berge het gebewe
voor die God van Israel.
6“In die tyd toe Samgar
seun van Anat gelewe het,
in die tyd van Jael,
was dit te gevaarlik
om op die paaie te loop,
mense moes deur die veld loop.
7Niemand in die land Israel
kon buite die stede woon nie
totdat ek, Debora, gekom het
om 'n ma te wees vir Israel.
8Die volk het ander gode gekies,
en die oorlog het begin in die stede.
Maar nie een van Israel
se duisende soldate
het 'n skild en 'n spies gevat
om te veg nie.
9Ek is bly oor die leiers van Israel
en die mense wat self
besluit het om te kom.
Prys die Here!
10Julle moet hard praat
en vir die mense daarvan vertel,
elkeen van julle
wat op 'n mooi saal sit
op 'n bruin donkie,
en julle wat op die paaie loop.
11Die mense wat water skep
vir die diere,
praat daaroor dat die Here
die vyande oorwin het
en dat die mense buite die stede
nou weer kan lewe.
Die volk van die Here
het na die poorte gekom
12en gesê: ‘Debora,
jy moet wakker word,
jy moet wakker word,
wakker word en sing!
Barak, seun van Abinoam,
jy moet gereedmaak,
jy moet die vyande kom vang.’
13“Toe het die mense van my volk,
die mense wat nog gelewe het,
saam met hulle leiers gekom.
Die volk van die Here
het na my toe gekom
en hulle was almal
dapper soldate.
14Uit Efraim het mense afgekom
na die vallei,
en saam met hulle was die mense
van Benjamin.
Leiers het gekom uit Makir
en uit Sebulon.
15Daar was belangrike mense
van die stam Issaskar
by Debora,
ja, hulle was saam met Barak
in die vallei.
Maar die Ruben-mense
het net gesit en dink
by die plekke waar hulle
vir hulle skape water gee.
16Hoekom het julle daar
by die skaapkrale gebly
en aangehou luister na die fluite
van die skaapwagters?
Ja, die Ruben-mense het net
gesit en dink.
17Die mense van Gilead het
anderkant die Jordaan-rivier gebly
en die mense van Dan,
hoekom het hulle by die skepe
van ander mense gebly?
Die Aser-mense het ook daar
langs die see bly sit
en nie weggegaan
van die hawe nie.
18Maar die mense van Sebulon
en Naftali was nie bang nie.
Hulle het kom wagstaan
op die berge van die land.
19Konings het kom oorlog maak,
die konings van Kanaän
het oorlog gemaak in Taänak
by die Megiddo-water,
maar hulle het nie die Israeliete
oorwin en hulle silwer gevat nie.
20Die sterre het van bo in die lug
oorlog gemaak,
hulle het op hulle pad gebly
en oorlog gemaak teen Sisera.
21Die Kison-rivier het Sisera
se mense weggespoel,
die Kison-rivier wat baie oud is.
Maar ek kon verder gaan,
ek was sterk.
22Die perdepote het geraas
op die grond,
Sisera se soldate het gevlug
op hulle perde.
23“Die Engel van die Here
het gesê:
‘Julle moet die stad Meros
vervloek,
julle moet sy mense vervloek
en nie jammer wees
vir hulle nie.
Want hulle het nie gekom
met hulle soldate
om die Here te help nie.’
24Maar met Jael sal dit beter gaan
as met al die ander vroue,
Jael vrou van Geber die Keniet,
dit sal met haar beter gaan
as met die ander vroue
in die tente.
25Sisera het water gevra,
maar sy het vir hom melk gegee,
sy het dikmelk gebring
in 'n pragtige bak.
26Sy het 'n tentpen gevat
met die een hand en met
die ander hand 'n hamer,
en sy het vir Sisera doodgemaak.
Sy het die pen deur sy kop
geslaan tot in die grond.
27Hy het tussen haar voete
geval en daar gelê,
hy het geval en daar dood gelê.
28“Sisera se ma
het by die venster uitgekyk,
sy het deur die venster
se tralies gekyk,
sy het gehuil en gevra:
‘Hoekom kom sy oorlogkar nie?
Hoekom hoor ons hom
nie kom nie?’
29Die slimste van die vroue
wat haar help,
het geantwoord.
Sy en Sisera se ma
het saam gesê:
30‘Ek dink hulle deel die goed
uit wat hulle gevat het:
Elke man kry een of twee meisies,
Sisera kry mooi bont klere,
en óns kry nekdoeke
met baie kleure.’
31“Here, ek bid dat dit met al
u vyande sal gaan
soos met Sisera,
en dat almal wat lief is vir U,
sal wees soos die son
wat helder skyn.”
Daar was 40 jaar lank vrede in die land.