Simson dra die poort-deure van Gasa weg
1Simson het in die stad Gasa gekom. Hy het daar 'n prostituut gesien en na haar toe gegaan. 2Toe die mense van Gasa hoor Simson is daar, het hulle vir hom gaan wag by die poort van die stad. Hulle het nie geraas nie en hulle het gedink hulle sal hom doodmaak wanneer dit lig word. 3Maar Simson het in die middel van die nag opgestaan. Die twee deure van die stad se poort was gesluit, maar Simson het die deure saam met hulle rame uit die muur geruk. Hy het die deure saam met die sluitbalke op sy skouers gesit en hy het dit weggedra tot op die berg naby die stad Hebron.
Simson en Delila
4Later het Simson verlief geraak op 'n vrou in die Sorek-vallei. Haar naam was Delila. 5Die leiers van die Filistyne het na haar toe gekom en vir haar gesê: “Jy moet by Simson uitvind hoekom hy so sterk is en hoe ons hom kan vasbind sodat hy nie kan loskom nie. Elkeen van ons sal dan vir jou 1 100 stukke silwer gee.”
6Delila het vir Simson gevra: “Sê asseblief vir my hoekom is jy so sterk en waarmee kan 'n mens jou vasbind sodat jy nie kan loskom nie?”
7Simson het vir haar gesê: “As mense my vasbind met sewe nuwe boogsnare wat nog nie droog geword het nie, dan sal ek niks kan doen nie. Ek sal soos ander mense wees.”
8Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe nuwe boogsnare gebring wat nog nie droog geword het nie, en sy het vir Simson daarmee vasgebind. 9Daar het manne by haar gelê en wag in die kamer. Sy het vir Simson gesê: “Simson, hier is die Filistyne!”
Simson het die boogsnare stukkend geruk soos 'n dun garingdraad wat naby die vuur kom. Die Filistyne het nog nie geweet hoekom hy so sterk is nie. 10Delila het vir hom gesê: “Jy het vir my 'n leuen vertel en my bedrieg. Sê nou asseblief vir my waarmee kan 'n mens jou vasbind.”
11Simson sê toe vir haar: “As mense my styf vasbind met nuwe toue wat hulle nog nooit gebruik het nie, dan sal ek niks kan doen nie. Ek sal soos ander mense wees.”
12Delila het nuwe toue geneem en sy het hom daarmee vasgebind en vir hom gesê: “Simson, hier is die Filistyne!”
Daar het weer manne gelê en wag in die kamer. Maar Simson het die toue stukkend gebreek soos garing. 13Delila het vir hom gesê: “Jy het weer vir my 'n leuen vertel en my bedrieg. Sê asseblief vir my hoe kan 'n mens jou vasbind.”
Simson sê toe vir haar: “Ek sal swak wees as jy my sewe haarlokke vas weef in die materiaal op jou weefstoel.”
14Sy het dit gedoen en sy het alles ook vasgesteek met 'n pen. Toe sê sy vir hom: “Simson, hier is die Filistyne!”
Hy het wakker geword en die pen, die wewerspoel en die materiaal alles van die weefstoel afgeruk. 15Delila het vir hom gesê: “Jy sê jy is lief vir my, maar jy wil nie vir my die waarheid sê nie. Jy het my nou al drie maal bedrieg en jy het nie vir my gesê hoekom jy so sterk is nie.”
16Delila het die hele dag aangehou vra, sy het nie opgehou nie. Simson het later begin wens hy is dood. 17En toe vertel hy vir haar die waarheid. Hy het gesê: “Ek het nooit my hare laat afskeer nie, want ek is 'n nasireër van God vandat ek gebore is. As iemand my hare afskeer, dan sal ek nie meer sterk wees nie, ek sal soos ander mense wees.”
18Delila het toe geweet Simson het vir haar die waarheid vertel en sy het die leiers van die Filistyne laat roep. Sy het vir hulle gesê: “Julle moet kom. Hierdie maal het hy vir my die waarheid vertel.”
Die leiers van die Filistyne het na Delila toe gekom en hulle het die geld saamgebring. 19Sy het Simson aan die slaap gemaak met sy kop op haar skoot. Sy het daarna iemand geroep en toe het sy Simson se hare afgeskeer. Toe was Simson nie meer sterk nie, en sy het hom vasgedruk. 20Sy het gesê: “Simson, hier is die Filistyne!”
En toe Simson wakker word, het hy gedink: Ek sal weer loskom, soos voorheen, ek sal my losruk.
Simson het nie geweet die Here is nie meer by hom nie. 21Die Filistyne het hom gegryp en hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na die stad Gasa gebring. Daar het hulle hom met koperkettings vasgebind. Hy moes in die tronk die koringmeul draai. 22Later het sy hare weer lank geword, dit was soos voor Delila dit laat afskeer het.
23Eendag het die leiers van die Filistyne bymekaargekom om vir hulle god Dagon 'n groot offer te bring en om fees te vier. Hulle het gesê: “Ons god het ons gehelp om ons vyand Simson te vang.”
24Toe die Filistyne vir Simson sien, het hulle begin om hulle god te prys. Hulle het gesê: “Ons vyand Simson het ons land verwoes en hy het baie van ons mense doodgemaak. En nou het ons god ons gehelp om hom te vang.”
25Toe die Filistyne vrolik geword het, het hulle gesê: “Roep vir Simson, ons wil vir hom lag.”
Hulle het Simson uit die tronk laat kom sodat hulle vir hom kon lag. Hulle het hom tussen die pilare laat staan. 26'n Seun het Simson se hand vasgehou, en Simson het vir die seun gesê: “Bring my by die pilare waarop die tempel staan. Ek wil voel waar hulle is en ek wil teen hulle staan.”
27Die tempel was vol mans en vroue, en die leiers van die Filistyne was vrolik. Op die dak was nog 1 000 Filistyne, mans en vroue, wat vir Simson kom lag het. 28Simson het tot die Here gebid en gesê: “Here, my Here, dink aan my en maak my nog hierdie een maal sterk. Ek wil die Filistyne straf omdat hulle my oë uitgesteek het.”
29Hy het gevoel aan die twee pilare waarop die dak van die tempel was, die pilare in die middel van die tempel. Hy het teen die pilare gestaan, met sy regter-hand teen een pilaar en met sy linker-hand teen die ander pilaar. 30Toe sê hy: “Here, laat my saam met die Filistyne sterf.”
En toe stoot Simson baie hard teen die pilare, so hard soos hy kan. Die dak van die tempel het geval op die leiers en op al die mense wat in die tempel was. Simson het gesterf, maar op daardie dag toe hy gesterf het, het hy meer mense doodgemaak as toe hy gelewe het. 31Sy broers en sy hele familie het gekom en hulle het hom weggedra. Hulle het hom begrawe in sy pa Manoag se graf tussen die stede Sora en Estaol. Simson was 20 jaar lank 'n leier van die Israeliete.