Die Juda-stam en die Simeon-stam
1Nadat Josua gesterf het, het die Israeliete vir die Here gevra: “Wie van ons moet eerste teen die Kanaäniete gaan oorlog maak?”
2Die Here het gesê: “Die Juda-stam moet eerste gaan. Ek sal hulle help om die land te oorwin.”
3Die mense van die Juda-stam het toe vir die mense van die Simeon-stam gesê: “Kom maak saam met ons oorlog teen die Kanaäniete, dan sal ons later saam met julle gaan en julle help wanneer julle moet gaan oorlog maak.” Simeon was Juda se broer.
Die Simeon-stam het toe saam met die Juda-stam gegaan. 4Die Here het hulle gehelp om die Kanaäniete en Feresiete te oorwin. Hulle het in die stad Besek 10 000 soldate doodgemaak.
5Daar in Besek het hulle vir Adoni-Besek gekry en hulle het oorlog gemaak teen sy mense. Hulle het die Kanaäniete en Feresiete oorwin. 6Adoni-Besek het gevlug, maar die mense van Juda en Simeon het hom gevolg en hulle het hom gevang. Hulle het sy duime en sy groot-tone afgesny. 7Adoni-Besek het gesê: “God het my nou gestraf oor wat ek gedoen het, want ek het 70 konings se duime en groot-tone afgesny, en hulle moes onder my tafel die krummels eet wat afgeval het.”
Die mense van Juda en Simeon het vir Adoni-Besek na Jerusalem gebring, en hy het daar gesterf. 8Die mense van Juda het oorlog gemaak teen die mense van Jerusalem en hulle het die stad oorwin. Hulle het die mense doodgemaak wat daar gewoon het. Toe het hulle die stad afgebrand.
9Daarna het die mense van Juda oorlog gemaak teen die Kanaäniete wat gewoon het op die berge en in die Suid-land en die Laeveld. 10Hulle het ook gaan oorlog maak teen die Kanaäniete wat in die stad Hebron gewoon het. Hebron se naam was voorheen Kirjat-Arba. Daar het hulle vir Sesai, Agiman en Talmai oorwin.
11Toe het die mense van Juda gaan oorlog maak teen die mense wat in die stad Debir gewoon het. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer. 12Kaleb het vir sy soldate gesê: “Die man wat die stad Kirjat-Sefer oorwin en vir ons vat, hy kan met my dogter Aksa trou.”
13Otniël het die stad oorwin. Hy was die seun van Kaleb se jonger broer Kenas. Kaleb het toe sy dogter Aksa vir Otniël gegee.
14Die dag toe Aksa met Otniël trou, het sy vir Otniël gesê hy moet vir haar pa 'n stuk grond vra. Maar voordat sy op haar donkie weggery het, het sy self vir Kaleb gewys sy wil vir hom iets vra. Toe Kaleb vir haar vra wat sy wil hê, 15het sy vir hom gesê: “Pa het vir my die Suid-land gegee. Maar gee nou vir my ook putte, sodat dit goed kan gaan met my.”
Kaleb het vir haar die Boonste Put en die Onderste Put gegee.
16Die Keniete was die nageslag van Moses se skoonpa. Hulle het van die stad Jerigo gekom, die stad waar baie palmbome gegroei het, en hulle het saam met die mense van Juda in die woestyn van Juda gaan woon, in die Suid-land rondom die stad Arad.
17Die stam van Juda het saam met die stam van sy broer Simeon gegaan, en hulle het die Kanaäniete oorwin wat in die stad Sefat gewoon het. Hulle het al die mense en diere in die stad doodgemaak en hulle het die stad Gorma genoem.
18Die mense van Juda het ook die stede Gasa, Askelon en Ekron oorwin, en hulle het die stede gevat saam met die grond rondom die stede. 19Die Here het die mense van Juda gehelp. Hulle het die mense in die berge oorwin, maar hulle kon nie die mense wat in die valleie gewoon het, oorwin en wegjaag nie, want daardie mense het oorlogkarre van yster gehad.
20Die Juda-stam het die stad Hebron vir Kaleb gegee. Kaleb het drie Enak-mense oorwin en weggejaag uit Hebron.
Die ander stamme jaag nie al die Kanaäniete weg nie
21Die Benjamin-stam het nie die Jebusiete oorwin en weggejaag nie, die Jebusiete wat in Jerusalem gewoon het. Die Jebusiete woon tot vandag toe saam met die Benjamin-mense in Jerusalem.
22Die nageslag van Josef het ook teen die Kanaäniete gaan oorlog maak, en die Here het hulle gehelp. 23Hulle het mense gestuur om te kyk hoe hulle in die stad Bet-El kan inkom. Bet-El se naam was voorheen Lus. 24Die spioene het 'n man uit die stad sien kom, en hulle het vir hom gesê: “As jy vir ons wys hoe ons in die stad kan inkom, dan sal ons goed wees vir jou.”
25Die man het vir hulle gewys hoe om in die stad in te kom. Die nageslag van Josef het toe die stad oorwin en hulle het die mense in die stad doodgemaak. Maar hulle het die man laat gaan wat vir hulle gehelp het, die man en sy hele familie. 26Die man het na Hetiete-land gegaan en hy het daar 'n stad gebou. Hy het die stad ook Lus genoem, dit is vandag nog die naam van die stad.
27Die Manasse-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo en in die klein dorpies rondom hulle nie. Die Kanaäniete wou nie weggaan uit die stede nie. 28Toe die Israeliete 'n sterk volk geword het, het hulle die Kanaäniete swaar laat werk, maar hulle het nooit die Kanaäniete heeltemal weggejaag nie.
29Die Efraim-stam het ook nie die Kanaäniete oorwin en weggejaag wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om in Geser te woon tussen die mense van Efraim.
30Die Sebulon-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat in Kitron en Nahalal gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om tussen die Sebulon-mense te woon, maar die Sebulon-mense het die Kanaäniete swaar laat werk.
31Die Aser-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob nie. 32Die Aser-mense het gewoon tussen die Kanaäniete in die land, want hulle het nie die Kanaäniete weggejaag nie.
33Die Naftali-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Bet-Semes en Bet-Anat nie, maar die mense van Bet-Semes en Bet-Anat moes swaar werk vir die Naftali-mense.
34Die Amoriete het die mense van die Dan-stam gekeer, en die Dan-mense kon nie in die valleie inkom nie. Daarom moes die Dan-mense in die berge woon. 35Die Amoriete wou nie weggaan uit die stede Har-Geres, Ajalon en Saälbim nie. Maar die Josef-stamme het later sterk geword, en toe moes die Amoriete swaar werk vir die Josef-mense. 36Die grens van die Amoriete se land het begin by Skerpioen-pas, by die rots, en van daar was die grens hoër teen die berg op.