Die koning van Assirië stuur boodskappers na Jerusalem
1Koning Sanherib van Assirië het al die sterk stede in die land Juda aangeval en hy het hulle oorwin. Dit was in die veertiende jaar nadat Hiskia koning geword het. 2Die koning van Assirië het 'n hoof-offisier gestuur van die stad Lakis na Jerusalem. Saam met die hoof-offisier was daar baie soldate. Die hoof-offisier het gaan staan by die watersloot uit die boonste dam. Dit was langs die pad na die plek waar die mense altyd die wol gewas het.
3Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag, seun van Asaf, het na die hoof-offisier toe gegaan. Hulle was die drie belangrikste amptenare van koning Hiskia. 4Die offisier het vir hulle gesê: “Julle moet vir koning Hiskia sê ons bring 'n boodskap van die groot koning, die koning van Assirië. Die koning vra vir Hiskia: Hiskia, dink jy iemand kan jou help? 5Jy wil oorlog maak teen my, maar dit sal jou nie help om net te praat en planne te maak nie.
6“Jy dink nou Egipte sal jou help, maar Egipte is soos 'n riet-kierie wat gebreek het. As jy op die riet druk, dan steek dit jou hand stukkend. Die farao, die koning van Egipte, is soos 'n riet-kierie vir almal wat dink hy sal hulle help. 7Jy sê vir my dat julle God die Here julle sal help, maar ek sê Hy sal dit nie doen nie, want Hiskia het julle God se offer-plekke en altare afgebreek. Hiskia het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê hulle mag net bid by die brandoffer-altaar in Jerusalem. 8Ek sal vir jou sê wat my koning sal doen, die koning van Assirië. Hy sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg soldate het om op die perde te ry. Maar jy het nie genoeg soldate nie. 9Jy kan nie 'n oorlog wen teen een goewerneur nie, teen een van die onbelangrikste amptenare van my koning nie. Maar nou dink jy Egipte kan jou help. Jy dink Egipte kan vir jou oorlogkarre en perde gee. 10Jy moet ook weet dit is nie ék wat besluit het om hierdie land te verwoes nie. Dit is die Here wat vir my gesê het: ‘Jy moet daardie land gaan verwoes.’ ”
11Eljakim en Sebna en Joag het vir die hoof-offisier gesê: “Jy moet asseblief Aramees praat met ons, dit is 'n taal wat ons verstaan. Jy moenie met ons Judees praat nie, want ons wil nie hê dat die mense op die muur moet verstaan wat jy sê nie.”
12Die hoof-offisier het gesê: “My koning het my nie gestuur om hierdie boodskap net vir julle koning en vir julle te bring nie. Ek moet die boodskap ook bring vir hierdie mense wat op die muur sit. Hulle sal hulle eie mis moet eet en hulle eie urine moet drink, en julle sal dit ook moet doen.”
13Toe gaan staan die hoof-offisier by die muur. Hy het Judees gepraat en hard gesê: “Julle moet hoor wat sê die groot koning, die koning van Assirië. 14Die koning sê julle moenie dat Hiskia julle bedrieg nie. Hiskia kan julle nie red nie. 15Hiskia sê julle moet glo dat die Here julle sal red, hy sê die koning van Assirië sal nie hierdie stad oorwin nie, dit is seker. Maar julle moenie vir Hiskia glo nie. 16Julle moenie na hom luister nie, want die koning van Assirië sê: ‘Julle moet vrede maak met my en julle moet na my toe kom. Dan kan julle elkeen eers op sy eie grond bly en elkeen kan sy eie druiwe en vye eet en water drink uit sy eie put. 17Later sal ek kom en ek sal julle wegvat na 'n land wat soos julle land is, 'n land waar daar koring en wyn is, 'n land waar daar kos en wingerde is.’ 18Julle moet oppas dat Hiskia julle nie bedrieg nie. Hy sê die Here sal julle red, maar ek vra vir julle: Kon die gode van die ander volke hulle lande beskerm teen die koning van Assirië? Nee. 19Waar is die gode van die lande Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim? Daardie gode kon nie help nie. En wie kon die mense van Samaria teen my beskerm? Niemand. 20Wie van al die gode van daardie lande kon sy land beskerm teen my? Nie een nie, en die Here kan Jerusalem ook nie beskerm teen my nie.”
21Eljakim en die ander twee manne het stilgebly, hulle het nie die hoof-offisier geantwoord nie, want koning Hiskia het gesê hulle moenie die hoof-offisier antwoord nie. 22Hulle het na Hiskia toe gegaan en hulle het hulle klere geskeur en vir hom vertel wat die hoof-offisier gesê het.