Die Here praat teen Jerusalem
1Die Here is kwaad. Hy het gepraat teen die vallei waar Hy vir die profete gewys het wat sal gebeur.
Hoekom het al jou mense
nou op die huise se dakke geklim?
2Jy was 'n stad
waar die mense altyd geraas het,
jou mense het aangehou praat en lag.
Jou mense wat gesterf het,
het nie in oorlog gesterf nie.
3Jou leiers het almal gevlug.
Hulle het nie oorlog gemaak nie,
maar die vyande het hulle gevang.
Die vyande het al jou mense gevang,
daar ver waar hulle weggevlug het.
4Daarom het ek gesê:
“Moenie na my kyk nie,
ek wil huil.
Die vyande het slegte dinge gedoen aan my volk,
maar moenie probeer om my te troos nie.”
5Die Here het dit laat gebeur,
die Here wat oor alles regeer.
Die mense in die stad
het heen en weer gehardloop,
hulle het nie geweet
waarnatoe hulle kan gaan nie,
die vyande het alles plat getrap
en hulle het die mure afgebreek.
Die mense het gevra
dat die Here hulle moet help,
die Here wat woon
in sy tempel op die berg,
hier by die vallei
waar die Here vir die profete
gewys het wat sal gebeur.
6Die Elamiete het gekom
met pyl en boog,
hulle het op oorlogkarre gery,
perde het die oorlogkarre getrek.
Die mense van die land Kir
het hulle skilde gereedgehou
om oorlog te maak.
7Daar was oorlogkarre en perde
in die valleie rondom die land Juda,
en hulle het by die poorte
van die stede kom staan.
8Die vyande het Juda
maklik aangeval.
Daardie dag het die mense in Jerusalem gekyk
hoeveel wapens in die houthuis is,
9en hulle het gesien daar is
baie gate in die muur van Jerusalem,
die stad van Dawid.
10Hulle het die huise in Jerusalem getel
en hulle het party huise afgebreek.
Hulle het die klippe gebruik
om die muur van die stad sterk te maak,
11en hulle het 'n dam gemaak
tussen die twee mure van die stad.
Die water van die ou dam
het in hierdie dam gevloei.
Maar hulle het nie vir God gevra
om hulle te help nie,
God wat dit alles laat gebeur het,
Hy wat lank gelede besluit het
dat dit so moet wees.
12Die Here wat oor alles regeer,
wou daardie dag hê
dat hulle moet huil en treur,
dat hulle almal hulle hare en baarde moet afskeer
en rouklere moet aantrek.
13Maar hulle was vrolik en bly,
hulle het beeste en skape geslag,
hulle het vleis geëet en wyn gedrink.
Hulle het gesê:
“Kom ons eet en drink,
want môre sterf ons.”
14Die Here wat oor alles regeer,
het vir my gesê:
“Ek sal hierdie sonde nie vergewe nie,
so lank soos hulle lewe.”
Sebna en Eljakim
15Die Here, die Here wat oor alles regeer, het gesê: “Jy moet na Sebna toe gaan. Hy is die belangrike amptenaar wat moet kyk dat alles in die paleis van die koning goed gaan. Jy moet vir hom sê: 16‘Wat doen jy hier? Nie een van jou mense het hier 'n graf nie, maar jy kap vir jouself 'n graf hier hoog in die rots. Jy verbeel jou jy is belangrik, 17-18maar almal in die paleis van jou koning is skaam oor wat jy doen. Die Here sal jou nou weggooi, ver weg. Hy sal jou gryp en Hy sal jou rol totdat jy 'n ronde bol is. Dan sal Hy jou rol tot in 'n ver land, en daar sal jy sterf. Jy is trots op jou oorlogkarre, maar die vyande sal hulle verwoes. 19Die Here sal jou uitskop uit jou werk, Hy sal jou wegjaag.’
20“Die Here het ook gesê: ‘Daardie dag sal Ek my dienaar Eljakim roep, die seun van Gilkija. 21Ek sal jou rok vat en Ek sal dit vir hom aantrek en jou nekdoek om hom vasmaak en Ek sal jou werk vir hom gee. Hy sal soos 'n pa wees vir die mense van Jerusalem en Juda. 22Ek sal vir hom die sleutels gee van die paleis van die koning van die nageslag van Dawid. As hy iets oopsluit, dan sal niemand dit kan toesluit nie, en as hy iets toesluit, dan sal niemand dit kan oopsluit nie. 23Hy sal soos 'n stok wees wat Ek op die regte plek in die muur inslaan, en sy familie sal baie trots wees op hom. 24Maar sy hele familie sal wil hê dat hy moet sorg vir hulle almal, vir die kinders en vir die grootmense. Dit sal wees soos wanneer jy al die potte en panne ophang aan die stok. 25Maar dan breek die stok, en alles wat daaraan gehang het, val op die grond.’ Dit het die Here gesê, die Here wat oor alles regeer.”