Josef se broers kom na Egipte
1Jakob het gehoor daar is koring in Egipte, en hy het vir sy seuns gesê: “Hoekom kyk julle vir mekaar? 2Ek het gehoor daar is koring in Egipte. Julle moet daarnatoe gaan en julle moet koring vir ons gaan koop sodat ons kos kan hê om te eet en nie sterf van die honger nie.”
3Tien van Josef se broers het toe na Egipte gegaan om koring te gaan koop. 4Jakob het nie vir Benjamin saam met sy broers laat gaan nie. Hy was bang daar gebeur miskien iets met Benjamin. Benjamin en Josef was seuns van dieselfde ma.
5So het Israel se seuns saam met ander mense van Kanaän gegaan om koring in Egipte te koop, omdat daar min kos in Kanaän was.
6Josef was die hoof van die land en hy het die koring aan die mense verkoop. Josef se broers het gekom en hulle het voor hom gebuig. 7Toe Josef sy broers sien, het hy geweet dat dit sy broers is, maar hy het gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kwaai met hulle gepraat en vir hulle gevra: “Van waar kom julle?”
Hulle het gesê: “Ons kom van Kanaän. Ons kom kos koop.”
8Josef het sy broers herken, maar hulle het nie geweet dat dit Josef is nie. 9Josef dink toe aan die droom wat hy oor hulle gehad het en hy sê vir hulle: “Julle is spioene. Julle het gekom om te kyk waar julle die land kan aanval.”
10Hulle sê toe vir hom: “Nee, Meneer, ons het gekom om kos te koop. 11Ons is almal seuns van een pa. Ons is eerlike mense, ons is nie spioene nie.”
12Maar Josef het vir hulle gesê: “Nee, julle het gekom om te kyk waar julle die land kan aanval.”
13Hulle het gesê: “Ons was twaalf broers, ons is die seuns van een man in Kanaän. Die jongste seun is nog by ons pa, en een seun is dood.”
14Josef sê toe vir hulle: “Dit is soos ek vir julle gesê het. Julle is spioene. 15Ek sal julle toets: Julle sal nie hier weggaan voordat julle jongste broer ook hiernatoe gekom het nie, so seker soos die farao lewe. 16Een van julle moet julle broer gaan haal, maar julle ander moet hier in die tronk bly. So sal ek uitvind of julle die waarheid praat of nie. Julle is spioene, so seker soos die farao lewe.”
17Josef het hulle toe drie dae lank in die tronk toegesluit. 18Op die derde dag het Josef vir hulle gesê: “Ek dien God. As julle doen wat ek sê, dan sal ek julle nie doodmaak nie. 19As julle eerlike mense is, dan moet een van julle broers hier in die tronk bly. Julle ander kan dan gaan en vir julle honger mense by die huis koring bring. 20Julle moet daarna julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en dan sal julle nie sterf nie.”
Die broers het dit toe gedoen.
21Hulle het vir mekaar gesê: “Ons is skuldig, want ons het 'n baie verkeerde ding aan ons broer gedoen. Ons het gesien dat hy baie bang was, en hy het ons gesoebat om hom te help, maar ons het nie geluister nie. Daarom het ons nou hierdie probleme gekry.”
22Ruben het vir hulle gesê: “Ek het vir julle gesê julle moet dit nie met die kind doen nie, maar julle het nie geluister nie. Dit is ons skuld dat hy dood is, daarom straf God ons nou.”
23Hulle het nie besef dat Josef alles verstaan wat hulle vir mekaar sê nie, want wanneer hulle met Josef gepraat het, dan het iemand vir hulle en Josef getolk.
24Josef het uitgegaan en hy het gaan huil. Toe het hy teruggekom na hulle toe en hy het met hulle gepraat. Hy het vir Simeon laat vasbind terwyl hulle gekyk het. 25Josef het vir sy slawe gesê om sy broers se sakke vol koring te maak, en om hulle geld terug te sit in hulle sakke. Josef het ook gesê sy slawe moet vir sy broers padkos gee.
Die broers gaan terug na die land Kanaän
26Josef se broers het hulle koring op hulle donkies gelaai en teruggegaan.
27Hulle het by 'n plek gekom waar hulle daardie aand wou slaap, en een van die broers het sy sak oopgemaak om vir sy donkie kos te gee. Toe sien hy sy geld. Dit was bo in die sak. 28Hy sê toe vir sy broers: “Hulle het my geld teruggesit. Hier is dit in my sak.”
Die broers het baie groot geskrik. Toe vra hulle vir mekaar: “Wat het God nou aan ons gedoen?”
29Toe hulle by hulle pa Jakob in Kanaän kom, het hulle vir hom vertel wat alles met hulle gebeur het. 30Hulle het gesê: “Die man wat die hoof van die land is, het kwaai met ons gepraat en hy het ons toegesluit in die tronk. Hy het gesê ons is spioene in sy land. 31Ons het vir hom gesê ons is eerlike mense, ons is nie spioene nie. 32Ons het vir hom gesê ons was twaalf broers, ons was almal seuns van dieselfde pa, een broer is dood en die jongste broer is by Pa in Kanaän. 33Die hoof van die land het toe vir ons gesê: ‘Ek sal uitvind of julle eerlike mense is. Julle moet een van julle broers by my laat bly. Neem dan kos vir julle honger mense by die huis en gaan terug. 34Maar julle moet julle jongste broer na my toe bring sodat ek kan weet julle is nie spioene nie, julle is eerlike mense. Dan sal ek julle broer teruggee, en dan mag julle oral in die land rondgaan.’ ”
35Jakob se seuns het hulle sakke leeggemaak, en elkeen kry toe sy beursie en sy geld in sy sak. Toe hulle dit sien, het hulle en hulle pa baie bang geword.
36Hulle pa Jakob het vir hulle gesê: “Julle vat al my kinders! Josef is dood en Simeon is nie meer hier nie. Nou wil julle vir Benjamin ook vat. Julle maak dit baie swaar vir my.”
37Ruben sê toe vir sy pa: “Pa mag my twee seuns doodmaak as ek nie vir Benjamin na Pa toe terugbring nie. Pa moet my glo. Laat Benjamin saamgaan met my, en ek belowe dat ek hom vir Pa sal terugbring.”
38Maar Jakob het gesê: “My seun Benjamin sal nie saam met julle gaan nie, want sy broer is dood en hy het alleen oorgebly. As daar iets sleg met hom op die pad gebeur, dan sal ek, 'n ou man, van hartseer sterf, en dan sal dit julle skuld wees.”