1Die Here het vir my gesê: “Mens, jy moet eet wat Ek vir jou gee, jy moet hierdie boekrol eet en dan moet jy gaan praat met die volk Israel.”
2Ek het my mond oopgemaak en ek het daardie boekrol geëet. 3Hy het vir my gesê: “Mens, Ek gee hierdie boekrol vir jou. Jy moet dit eet totdat jou maag vol is.”
En toe ek dit eet, het dit so soet soos heuning gesmaak. 4Hy het vir my gesê: “Mens, jy moet loop en vir die volk Israel gaan sê wat Ek vir hulle sê. 5Want die volk Israel praat 'n taal wat nie moeilik is om te verstaan nie. Ek stuur jou na hulle toe. 6Ek stuur jou ook nie na baie ander volke toe wat tale praat wat moeilik is om te verstaan nie. As Ek jou na hulle toe gestuur het, dan het hulle geluister na jou. 7Maar die volk Israel sal nie luister na jou nie, want hulle wil ook nie luister na Mý nie. Ja, die hele volk Israel is hardkoppig, hulle wil nie luister nie. 8Maar jy moet dit weet, Ek het vir jou ook so hardkoppig gemaak soos hulle, Ek het jou kop ook so hard gemaak soos hulle koppe. 9Ek het jou kop so hard gemaak soos 'n diamant, dit is harder as vuurklip. Jy moenie vir hulle bang wees en vir hulle skrik nie, want hulle is 'n opstandige volk.”
10Daarna het die Here vir my gesê: “Mens, jy moet goed luister en jy moet onthou wat Ek vir jou sê. 11Jy moet na die Judeërs toe gaan wat in Babel is, na jou mense toe, en jy moet met hulle praat en vir hulle sê wat Ek, die Here, sê. Jy moet dit doen, as hulle luister en ook as hulle nie luister nie.”
12Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my 'n groot aardbewing en 'n persoon wat sê: “Almal moet die Koning prys wanneer Hy uit die hemel kom!”
13Ek het ook gehoor hoe skuur die diere se vlerke teen mekaar en hoe rol die wiele langs hulle. Dit was soos 'n groot aardbewing. 14Die Gees het my opgetel en Hy het my saamgeneem. Ek het gegaan, maar ek was kwaad en ontsteld. Ek het gevoel die Here sit sy hand hard op my. 15Ek het by die Judeërs in Tel-Abib gekom, hulle het langs die Kebar-kanaal gewoon. Ek het sewe dae lank daar tussen hulle gesit. Ek was so hartseer en ontsteld dat ek niks kon sê nie. 16En toe, ná die sewe dae, het ek gehoor die Here sê vir my: 17“Mens, Ek het jou gekies om 'n wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê jy moet dit doen, dan moet jy vir hulle sê Ek waarsku hulle. 18Ek sal vir die mens wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker. Wanneer Ek dit sê, dan moet jy hom waarsku. Jy moet praat en jy moet hom waarsku teen sy verkeerde lewe sodat hy kan aanhou lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal daardie mens wat verkeerd doen, sterf omdat hy verkeerd gedoen het, maar Ek sal vir jóú straf omdat hy moes sterf. 19En jy? Wanneer jy die mens wat verkeerd doen, gewaarsku het, maar hy verander nie sy lewe nie en hy hou nie op om verkeerd te doen nie, dan sal hy sterf omdat hy verkeerd gedoen het. Maar dan het jy jou eie lewe gered. 20En wanneer iemand wat reg gelewe het, ophou om reg te doen en hy doen verkeerd, en Ek laat hom val en hy doen sonde, dan moet jy hom waarsku. As jy hom nie gewaarsku het nie, dan sal hy sterf omdat hy sonde gedoen het, en Ek sal nie dink aan die dinge wat hy reg gedoen het nie. Maar Ek sal jóú straf omdat hy moes sterf. 21En jy? Wanneer jy die mens wat reg gelewe het, gewaarsku het om nie sonde te doen nie, en hy doen nie sonde nie, dan sal hy aanhou lewe, dit is seker. Hy sal aanhou lewe, want jy het hom gewaarsku en hy het geluister. En jy het dan jou eie lewe gered.”
22Ek het toe daar gevoel die Here sit sy hand op my. Hy het vir my gesê: “Jy moet gereedmaak en na die vallei gaan. Ek sal daar met jou praat.”
23Ek het gereedgemaak en na die vallei gegaan, en daar sien ek toe weer die lig wat om die Koning, die Here, is. Dit was soos ek dit gesien het langs die Kebar-kanaal. Ek het op my gesig geval. 24En toe kom die Gees in my en Hy laat my op my voete staan en Hy sê vir my: “Gaan sluit jouself toe in jou huis. 25En jy, mens, luister na wat Ek sê: Die mense sal jou vasbind met toue sodat jy nie by hulle kan kom nie. 26Ek laat ook jou tong vassit bo in jou mond sodat jy nie kan praat nie en nie met hulle kan raas nie, want hulle is 'n opstandige volk. 27Maar wanneer Ek met jou praat, dan sal Ek jou mond weer oopmaak, en dan moet jy vir hulle sê wat Ek, die Here, sê. Die mense wat wil luister, sal luister, en die mense wat nie wil luister nie, sal nie luister nie, want hulle is 'n opstandige volk.”